Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons aangevulde internasionaliseringslandskap
Outeur: Robert Kotze, Senior Director: Stellenbosch University International
Gepubliseer: 03/05/2022

Suid-Afrika se ramptoestand is ná meer as 700 dae opgehef. Die kampus is vol lewe, hoewel die maskerprotokol binne geboue ons daaraan herinner dat die gevaar nog nie heeltemal verby is nie.

Toe die pandemie ons getref het, het ons aanvanklik gedink dit sou rampspoedige gevolge vir internasionalisering hê, totdat ons besef het dat internasionalisering oor soveel méér as fisiese mobiliteit gaan. By US Internasionaal het ons koppe bymekaargesit, die MS Teams- en Zoom-skerms aangeskakel, en 'n aangevulde internasionaliseringslandskap begin bou. Dít beteken dat ons internasionaliseringswerk vir die afsienbare tyd gerig sal word deur beter konsolidasie, sterker belyning, en 'n aangevulde manier van vorentoe beweeg.

Beter konsolidasie

Soos ons voorheen verslag gedoen het, het verskeie geleenthede gedurende die pandemie oor ons pad gekom. Ná 'n uitgebreide herskikkingsproses aan die einde van 2021 is daardie nuwe geleenthede nou by US Internasionaal se jaarplan en personeelstruktuur ingesluit. Ons afdeling sal voortaan uit vier sentrums bestaan (sien inligtingsgrafiek hieronder), wat elk sy eie fokus sal hê, dog gesamentlik die vyf dwarsliggende instaatstellers vir internasionalisering sal bevorder:


Konsolidasiewerk behels die volgende:

  • Ons Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies sal sy voorbereidings afhandel vir die gehalteversekering van die Onafhanklike Eksamineringsraad se nuwe Internasionale Sekondêre Sertifikaat, waarvan die eerste eksamen in November 2022 afgeneem word.
  • Die SDG/2063 Hub, wat die Afrika-unie se Agenda 2063 met die internasionale agenda vir volhoubare ontwikkeling kombineer, sal in Oktober 2022 die eerste US-impakverslag lewer.
  • Die ontwikkeling van ons INTERINFO-stelsel sal voltooi word sodat ons die eerste rondte institusionele internasionaliseringsdata kan insamel.
  • Die US Japan Sentrum sal teen die middel van 2022 bekend gestel word, en sal verskeie impakryke projekte van stapel stuur.
  • Die eerste kohort internasionale voorgraadse studente sal gewerf en toegerus word om in 2022 in te skryf.

 

Sterker belyning

Om omvattende internasionalisering te verseker, sal ons veral op die volgende gebiede konsentreer:

  • Die insluiting van internasionale voorgraadse bemarking en bystand aan moontlike studente by 'n geïntegreerde studentewerwingstrategie
  • Beter belyning tussen die programme van internasionale inwaartse en uitwaartse afvaardigings enersyds, en die uitkomste en doelwitte van die Universiteit se afdelings Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking sowel as Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge andersyds
  • Die benutting van die inisiatiewe van die pas gestigte AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie as deel van die kontinentale AUDA- en die Stellenbosse innovasie-ekosisteem​
  • Sterker akademieskapsontwikkeling deur die Afrika Doktorale Akademie en die inisiatief vir ontluikende akademici deur onder meer by die aktiwiteite van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) en sy Iso Lomso-program in te skakel
  • Die insluiting van globale studenteleeruitkomste by die US se kurrikulumvernuwingsprojek

 

'n Aangevulde manier van vorentoe beweeg

Daarbenewens sal ons die volgende bestaande inisiatiewe uit 'n vars, innoverende en ingeligte hoek beskou en dit aanvul om selfs sterker vorentoe te beweeg:

  • Die Internasionale Universiteitsdorpnetwerk
  • Periperi U, wat universiteite se bydrae tot risikovermindering en veerkragtigheid in Afrika bevorder
  • Immigrasiebystand vir internasionale personeellede en studente
  • 'n Nuwe benadering tot kantoor- en werksgeriewe om vir 'n groter personeelkorps én die vestiging van onder meer die US Japan Sentrum voorsiening te maak
  • Die somerskool vir studente in 2023, wat die somerskool van die Vereniging van Statebondsuniversiteite sal insluit

 

Ons het baie werk wat wag, en sal voortgaan om met ons internasionale vennote te skakel namate ons hierdie en ander projekte aanpak. Terselfdertyd sien ons uit na die kontakbyeenkoms van die Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN) in Maart 2023, waar ons nie net 30 jaar van internasionalisering aan die US sal vier nie, maar ook die geleentheid sal hê om ons vennote op kampus te verwelkom, gedagteprikkelende gesprekke te voer en uithalerkos en -wyn te geniet.

 

Robert Kotzé

Senior Direkteur: US Internasionaal