Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Internasionaal maak gereed vir vanjaar se somerskool
Outeur: SU International
Gepubliseer: 03/05/2022

deur Werner de Wit

US Internasionaal bied jaarliks sedert 2001 'n skool in Junie en Julie aan om met die somer in die noordelike halfrond saam te val. Die somerskool, wat as 'n enkele pasgemaakte kursus vir een spesifieke vennoot begin het, het sedertdien ontwikkel in 'n volwaardige vier weke lange aanbod met 16 kursusse wat tot soveel as 140 studente van verskeie lande lok.

Die holistiese program kombineer teorie en praktyk, en sluit boonop 'n sosiale komponent in om buitelandse studente aan die kulturele diversiteit van Stellenbosch en die Wes-Kaap bekend te stel.

Vier strome

Die akademiese program bestaan uit lesings, groepbesprekings en velduitstappies in vier strome, en word deur die US se eie dosente en ander Suid-Afrikaanse kundiges aangebied.

Die eerste stroom, 'n program met algemene keusemodules, bied 13 kursusse. Studente kan vir tot drie daarvan inskryf. Kursusse handel oor vakgebiede soos die filosofie, ingenieurswese, plantkunde, politieke wetenskap, ekonomie, letterkunde, kuns en media, geskiedenis, MIV/vigs, internasionale betrekkinge en Chinese studie.

Die stroom oor openbare gesondheid stel studente op sy beurt aan die gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika bekend. Temas draai om die vernaamste gesondheidsbepalers in die Wes-Kaap, naamlik MIV/vigs en tuberkulose, nie-aansteeklike en infeksiesiektes, middelmisbruik, huishoudelike geweld, geestes- en psigososiale gesondheid, en seksuele en reproduktiewe gesondheid. Klasonderrig, leesstukke en aanbiedings word met 'n ervaringskomponent aangevul om studente aan gesondheidsorgfasiliteite in die Wes-Kaap bloot te stel.

Die derde stroom, oor sake in Suider-Afrika, verken die unieke institusionele en beleidsomstandighede waarmee sake-ondernemings in die streek te doen kry. Die doel is om toekomstige entrepreneurs en bestuurders leiding te bied oor die uitdagings waarvoor hulle ondernemings te staan kan kom, maar ook die geleenthede wat ons snelgroeiende streek bied. Onderwerpe sluit in die ontwikkelingsuitdagings van Suider-Afrika, die groei van die ontluikende markte in die streek, en toekomstige groeipotensiaal. Studente kry geleentheid om beleidskwessies in die konteks van 'n ontwikkelende land te bespreek, en verkry dieper insig in die bykomende maatskaplike, omgewings- en etiese faktore wat sakelui in Afrika in gedagte moet hou.

Laastens gebruik die stroom oor globale diensleer ervaringsleer om sosiale impak en transformasie aan te moedig. Die kursus word in samewerking met plaaslike skole en organisasies sonder winsoogmerk in histories benadeelde gemeenskappe aangebied. Dit bestaan uit 'n teoretiese én praktiese komponent, en is lees- en skryfintensief sowel as transdissiplinêr.

Skakeling met plaaslike 'ambassadeurs'

Die somerskool bied ook 'n geleentheid vir skakeling met plaaslike studente, wat as ambassadeurs vir Stellenbosch en Suid-Afrika by die program inskakel. Hierdie hoogtepunt van die program sluit gewoonlik 'n aantal kulturele en toeriste-aktiwiteite in. Studente vind meer uit oor die lewe in Suid-Afrika ná apartheid en ervaar die ryke en diverse kultuur van die Wes-Kaap.

Vir verdere inligting, kyk hierdie video en raadpleeg ons somerskoolwebblad.