Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SAMNR-toekenning bevorder navorsing wat seksuele geweld ondersoek
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 26/04/2022

​Dr Lihle Qulu, ʼn senior-dosent by die Afdeling Mediese Fisiologie, het onlangs ʼn Vroeë-ondersoeker Programtoekenning vir 2021/2022 van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ontvang. Sy het gesê sy is “in die wolke" oor hierdie toekenning, aangesien dit beteken dat haar laboratorium wat opgestel is om seksuele geweld te ondersoek “met ʼn vaart kan begin". 

Qulu het ʼn PhD in neuro-wetenskappe, en doen al die afgelope paar jaar navorsing oor die neurologiese en fisiologiese uitwerkings van verkragting. Die toekenning sal Qulu in staat stel om haar bestaande laboratoriumnavorsing uit te brei om die bydraende faktore te verstaan wat verband hou met mans wat verkrag. 

Die doel van die SAMNR se Vroeë-ondersoeker Program is om gesondheidsnavorsing in Suid-Afrika te bevorder deur befondsing te verskaf aan die volgende generasie gesondheidsnavorsers. 

“Die toekenning is uitstekende nuus aangesien ons tot op hede nog geen diere-laboratorium vir neuro-wetenskappe gehad het nie," het Qulu in ʼn onderhoud gesê. “Ek het verlede jaar ʼn laboratorium gestig en dit is nog in die begin stadium. Hierdie befondsing sal help om die projek uit te brei." 

Qulu het ook onlangs ʼn toekenning van die Vereniging van Neuro-wetenskaplikes in Afrika ontvang vir haar werk oor die neuro-wetenskappe van seksuele geweld. Hierin het sy bevind dat blootstelling aan mishandeling in die kinderjare een van die algemeenste gedeelde ervarings in die lewe van verkragters was. 

Die studie, wat in samewerking met die Universiteit van KwaZulu-Natal gedoen is, het ʼn navorsingsprojek met gevangenes gedoen wat in die tronk sit vir verkragting in die Westville-gevangenis buite e'Thekwini, om te kyk na die onderliggende faktore van verkragting. Dit het gevolg op uitgebreide navorsing wat Qulu met rotte gedoen het waarin sy hulle gedrag ondersoek het in geforseerde en konsensuele paringsituasies.  

Haar studie het ook bevind dat sosiale isolasie ʼn toename in seksuele aggressie teenoor vroue, en ʼn toename in aggressie teenoor mans tot gevolg het. 

Volgens Qulu het sowat 35% van vroue wêreldwyd όf fisiese en/of seksuele geweld deur ʼn intieme maat ervaar, of seksuele geweld deur ʼn persoon wat nie ʼn maat is nie ervaar in hulle lewens. 

“Die koers van seksuele geweld in Suid-Afrika is van die hoogste ter wêreld. In Suid-Afrika het die polisie ʼn toename in seksuele oortredings van 50,108 in 2018 tot 52,420 in 2019 aangemeld. 

“Die perspektiewe wat mans dryf tot seksuele geweld, het verreikende gevolge, wat verder strek as swangerskappe en seksueel-oordraagbare infeksies, en sluit posttraumatiese stresversteuring, depressie, en aggressie in." 

Ofskoon relatief baie navorsing al gedoen is oor die vroulike slagoffers van seksuele geweld, is daar nog nie baie toepassingsnavorsing gedoen om te kyk na die fisiologie van beide die slagoffer en oortreder van seksuele geweld nie. 

Qulu se voorgestelde studies wil die rol van die hipotalamiese-pituїtêr-bynier (HPB) –as in seksuele geweld in beide manlike verkragters en vroulike slagoffers ondersoek. (Die HPB-as beskryf die interaksie tussen die hipotalamus, pituїtêr-klier en die byniere.) 

Hierdie studie sal uitgevoer word op diere, en mans wat skuldig bevind is van verkragting by die Westville-gevangenis, asook ʼn afsonderlike kohort vroue wat aan verkragting blootgestel is. ʼn Reeks kandidaatgene sal nagegaan word op alle plasma/serum-monsters wat verkry is by mense en die breinweefsel van diere. 

Volgens Qulu, as die HPB-as wanreguleer word (weens chroniese stressors), kan dit emosionele wanregulasie tot gevolg het wat kan lei tot aggressiewe gedrag in mans. Wanregulasie verwys na ʼn swak vermoë om emosionele response binne ʼn aanvaarde reeks tipiese emosionele reaksies te beheer. 

Qulu het gesê dat haar navorsing daarop sal fokus om mannetjies rotte in isolasie te sit om hulle stres-sentrums te wanreguleer, en daarna sal hulle blootgestel word aan wyfie rotte wat in oestrus is. Die vrugbare wyfie rotte sal dan vervang word met wyfie rotte wat nie in oestrus is nie, en dan sal die gedrag van die mannetjies rotte dopgehou word. 

“Ons wil kyk of hy oukei is met die onontvanklikheid van die wyfie rot wat nie in oestrus is nie, en of hy probeer om homself op haar af te dwing. Die wyfie sal verwyder word voordat enige potensiële geweld plaasvind," het Qulu gesê. 

Qulu het gesê sy sal saam met professor Sian Hemmings van die FGGW se Departement Psigiatrie, en ʼn nadoktorale student, dr Jani Nothling, aan die navorsing werk. 

“Ons hoop dat ons bevindinge insigte sal verskaf oor hoe om residivisme te verminder of na intervensies sal lei om residivisme wat seksuele geweld betref te laat afneem," het Qulu gesê. 

“Geslagsgebaseerde geweld is ʼn pandemie in eie reg en dit verwoes die lewens van mans en vroue. As jy eers daardeur geraak is, kom jy nie terug as dieselfde persoon nie. Ons kan dit nie onbewaak los nie. Met die ultramoderne toerusting wat ons nou in ons laboratorium het, sal ons in staat wees om meer navorsing te doen oor hierdie plaag, en hopelik bydra daartoe om ʼn verskil te maak."