Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ResEd 2022 impakryk en ’n reusesukses
Outeur: Awethu Fatyela
Gepubliseer: 14/03/2022

Die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) en die Transformasiekantoor van die Universiteit Stellenbosch (US) begin elke akademiese jaar met 'n aantal ResEd-werksessies vir alle koshuise as deel van die Verwelkomingsprogram vir eerstejaars. Hierdie werksessies het oor die jare al temas soos sosiokulturele bewustheid, leierskap en tussengroepvaardighede aangeroer.

 

Om eerstejaars hulle weg deur hulle nuwe omgewing te help baan, het vanjaar se sessies oor die temas van gender, seksualiteit en geslagsgebaseerde geweld, universele toegang sowel as sosiokulturele bewustheid gehandel. (Sien onder vir 'n lys sessies volgens tema.) Werksessies is deur personeel en senior studenteleiers gefasiliteer onder leiding van Shanté Neff, programkoördineerder van die Transformasiekantoor, en Yeki Mosomothane, die SSG se multikulturele opvoeder en koördineerder. Oor die keuse van temas vir die ResEd-werksessies sê Shanté: “Ek dink oor die algemeen die belangrikste oorweging is sosiale kontekstuele bewustheid – om bewus te wees van wat in die samelewing aangaan, wie daardeur geraak word, en waarom. Wanneer ons byvoorbeeld 'n sessie oor geslagsgebaseerde geweld fasiliteer, is dit noodsaaklik om te weet dat dit een van die grootste uitdagings in die Suid-Afrikaanse samelewing is, en om onsself af te vra waarom dit so is."

 

Om hulle vir hulle taak toe te rus, moes alle fasiliteerders die kortkursus in fasiliterende leierskap van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling voltooi.

 

Vir fasiliteerders Alexander Hochleutner en Luke von Willingh was deelname aan ResEd 'n geleentheid om sowel nuwelinge as hulleself op te voed, en om 'n omgewing te skep waar oop gesprek welkom is. Hulle beklemtoon dat dit nie hulle rol was om vir studente oor reg of verkeerd te preek nie, maar eerder om 'n voortdurende gesprek te fasiliteer waartoe almal kon bydra en waar almal by mekaar kon leer. “Wanneer 'n mens 'n ResEd-sessie fasiliteer, is dit ook belangrik om te besef dat jy nie al die antwoorde het óf hoef te hê nie," voeg hulle by.

 

Die meeste fasiliteerders het die sessie oor die omstanderseffek as een van die uitdagendste ervaar omdat dit gehandel het oor kwessies van verkragting en seksuele geweld, en oor hoe om in 'n noodgeval op te tree. Vir fasiliteerder Sinethemba Dlamini was dáárdie werksessie en die een oor patriargie moeilik om aan te bied vanweë die sensitiewe aard van die onderwerpe, maar ook weens die besef dat sommige gehoorlede dalk slagoffers en ander moontlik weer plegers van seksuele geweld is.

 

Die fasiliteerders was ook ingenome om 'n paar aansienlike verbeteringe in vanjaar se ResEd-program op te merk. Vergeleke met die program toe sy 'n eerstejaar was, reken Mbalenhle Shandu die betrokkenheid van meer studente by vanjaar se ResEd-proses het dit vir studente makliker gemaak om te luister en by mekaar te leer. “Daar's maar net iets daaraan om saam met ander studente te wees en te sien hoe hulle die gesprek lei wat 'n ruimte gemakliker en meer bekend laat voel as wanneer jy met iemand van buite moet praat," sê sy.

 

Nietemin is daar steeds ruimte vir verbetering. Fasiliteerders Hellen Mille en Sabrina Ditsela glo albei dat taal 'n moontlike hindernis vir kommunikasie en deelname aan ResEd is. Hellen merk op dat nie almal noodwendig gemaklik is daarmee om hulle in Engels uit te druk nie. Daarom glo sy studente moet aangemoedig word om hulle in die taal van hulle keuse uit te druk, met tolkbystand ter wille van die gehoor. Haar ervaring was dat baie studente eerder stilgebly het as om die gevaar te loop om 'n fout in Engels te maak en blootgestel te voel. Verdere voorstelle vir verbetering sluit in die heroorweging van werksessiedatums en -tye om beter voorsiening te maak vir studente wat ná sessies na hulle koshuise moet terugkeer, en vir Tygerbergstudente, wie se akademiese program reeds aan die gang was teen die tyd wat hulle sessies begin het.  

 

“ResEd het 'n dubbele doel," verduidelik Shanté. “Eerstens gee dit die toon aan om nuwelinge aan die dink te sit oor die uitdagings van ons samelewing, en oor hoe hulle daardie uitdagings op kampus kan hanteer. En tweedens stel dit hulle bekend aan die konsep van kritiese skakeling en fasilitering, wat deel sal wees van hulle reis as studente." Die span is ook reeds besig met verdere beplanning, sê sy: “Noudat ResEd suksesvol afgehandel is, beplan ons reeds aan ons volgende skakeling met koshuise, naamlik oor sosiale geregtigheid en menseregte ter viering van Menseregtedag op 21 Maart."

 

*Werksessies oor die tema van gender, seksualiteit en geslagsgebaseerde geweld:

  • Die omstanderseffek
  • Die mense vs die patriargie
  • Manneklub

Werksessies oor universele toegang:

  • Skakel onkunde uit
  • Gestremdheidsbewustheid
  • Ken ons ruimte

Sessies oor sosiokulturele bewustheid:

  • “The Anthem Project", wat die verband tussen taalgesprekke en transformasie, institusionele kultuur en identiteit uitgelig het
  • “Sê my naam", wat studente se sienings oor name as 'n gemeenskaplike identifiseerder en gemene deler uitgebrei het
  • “Sê iets", wat studente aan praktiese konfliksituasies blootgestel het om diskriminasie en vooroordeel te bespreek
  • “Onbewuste vooroordeel", wat studente attent gemaak het op alle mense se onderliggende vooroordele