Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MIT-eer vir US se Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 04/03/2022

Die Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (SERI) by die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs internasionale erkenning ontvang toe sy werk om Covid-19-variante te identifiseer en na te spoor, deur die MIT (Massachusetts Institute of Technology) Technological Review as een van die tien tegnologiese deurbrake van 2022 aangewys is.

Die jaarlikse lys beklemtoon die top tegnologiese deurbrake – van die geneeskunde tot energie tot digitale tegnologieë – wat die grootste invloed op die wêreld in die toekoms sal hê. Die tydskrif se verslaggewers en redakteurs ondersoek jaarliks 'n wye reeks onderwerpe en kies dan deurbrake wat ons lewens beduidend sal beïnvloed.

Met die wêreldbekende bioinformatikus, prof Tulio de Oliveira, aan die stuur, is SERI – wat amptelik later vanjaar bekendgestel sal word – aan die voorpunt van die waarneming van patogeengenomika om biomediese ontdekkings aan te vul en om doeltreffend op epidemies te reageer. Hierdie tipe waarneming wat SERI doen, het Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gehelp om die Beta- en Omikron-variante van SARS-CoV-2 vinnig raak te sien en die res van die wêreld te waarsku.

De Oliveira, wat ook 'n professor in bioinformatika in die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is, het in reaksie op die wêreldwye erkenning van SERI gesê: “Ons voel baie geëerd om as die hoofgroep wat aan die voorpunt van genomika-waarneming van Covid in die wêreld staan, aangewys te word en om op MIT se lys van tegnologiese deurbrake vir 2022 te verskyn, want ek glo MIT dra heelwat kennis van baanbreker-tegnologieë.

“As deel van hierdie proses is ons ook deur 'n fotografiese span van MIT besoek. Hulle was baie beïndruk met ons splinternuwe data- en genomikageriewe in Suid-Afrika en het in die tydskryf se artikel oor die waarneming van genomika prominensie verleen aan die nuwe Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) by die Universiteit Stellenbosch."

Prof Kanshu Rajaratnam, Direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, stem saam met De Oliveria. “Die US het doelbewus begin om multidissiplinêre oplossings vir groot probleme te verskaf. Hierdie eer is 'n wonderlike voorbeeld van uitkomste danksy hierdie multidissiplinêre omgewing waarin prof De Oliveria werksaam is. SERI gaan in 'n multidissiplinêre ruimte werk om Afrika met sy toekomstige reaksie op epidemies by te staan."

As deel van sy ondersteuningsprogram aan die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming (Africa CDC) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), verleen SERI ook hulp aan ander Afrika-lande om hul kapasiteit te vergroot. Daar word in die vooruitsig gestel dat SERI die grootste genomika-fasiliteit in Afrika sal wees en het reeds genote uit 21 Afrika-lande verwelkom om in genomika, bioinformatika, groot data en die ontleding van kunsmatige intelligensie opgelei te word. SERI se laaste oproep om genote het meer as 200 aansoeke gelok.

Verlede maand het 'n hoëvlak-afvaardiging onder leiding van die WGO se direkteur-generaal, dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, die Tygerberg-kampus en spesifiek die BMNI en SERI besoek. Afgesien van waarneming van genomika is SERI ook 'n vennootlid van die Suid-Afrikaanse bRNS-entstofkonsortium (SAMVAC), wat deur die WGO gekies is om die eerste Oordraghub vir Covid-bRNS-entstoftegnologie te wees.

President Cyril Ramaphosa en die biotegnologiebelegger van NantAfrica ('n afdeling van NantWorks), dr Patrick Soon-Shiong, het in Januarie vanjaar ook SERI en die BMRI by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe besoek om na die ultramoderne fasiliteite te kyk. “Dit is wonderlik om te sien dat die US se belegging van R1,5 miljard op sy kampus ook internasionaal aandag trek. Ons is baie trots om deel te wees hiervan en gaan hard werk om Suid-Afrika en Afrika te help om een van die top tegnologiese setels in die wêreld te bly.

  • Lees die artikel, “Top Breakthrough Technologies of 2022: How tracking coronavirus variants will prepare us for the next global public health threat", wat in die MIT Technology Review verskyn het, hier.