Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WGO se Direkteur-generaal besoek US se genomika-laboratorium
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 11/02/2022

Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (Vrydag, 11 Februarie 2022) ʼn hoëvlak- internasionale afvaardiging onder leiding van dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, Direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), by sy Tygerberg-kampus in Kaapstad, Suid-Afrika ontvang.  

Hierdie besoek aan die FGGW se Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) maak deel uit van ʼn tweedaagse toer om die fasiliteite van Afrika se eerste beoogde Covid-19-entstofvervaardigingshub te inspekteer. Die hoëvlak-afvaardiging het die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid, dr Joe Phaahla, die Suid-Afrikaanse Adjunkminister van Hoëronderwys, Wetenskap en Innovasie, mnr Buti Manamela, die Belgiese Minister van Ontwikkelingsamewerking, me Meryame Kitir, lede van die WGO en ander nasionale en internasionale belanghebbers ingesluit.

“Die Covid-19-pandemie het die 'entstofgaping' tussen die ontwikkelende en ontwikkelde wêreld blootgelê, wat ʼn ernstige bedreiging vir die mense van Afrika inhou. As ʼn toonaangewende gesondheidswetenskappefakulteit op die kontinent is ons daartoe verbind om oplossings te vind vir die gesondheidsuitdagings wat die mense van Suid-Afrika en die Afrika-kontinent in die gesig staar. Ons is opgewonde om deel te wees van die eerste Oordraghub vir Covid-bRNS-entstoftegnologie, wat entstofontwikkeling- en entstofvervaardigingskapasiteit in Afrika sal help bou en entstofonafhanklikheid vir Afrika teweeg sal bring," sê prof Elmi Muller, Dekaan van die FGGW.

Die US se Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie (Seri) is ʼn vennoot-lid van die Suid-Afrikaanse bRNS-entstofkonsortium (Samvac), wat deur die WGO gekies is om die eerste Oordraghub vir Covid-bRNS-entstoftegnologie te wees. Die hub se doelwit is om entstofnavorsing- en entstofvervaardigingskapasiteit op die kontinent van Afrika te ontwikkel. Seri se rol in hierdie konsortium is die genomiese oorsig en identifikasie van variante in Afrika. 

Daar word voorsien dat Seri (ʼn nuwe sentrum wat later vanjaar amptelik bekend gestel sal word) die grootste genomiese fasiliteit in Afrika sal wees. Seri se hoof is prof Tulio de Oliveira, wêreldbekende bio-informatikus en professor in bio-informatika aan die US.

“Ons is baie opgewonde om gekies te word om deel te wees van die WGO se eerste bRNS-hub ter wêreld wat op ons kundigheid in genomika en passie vir kapasiteitsontwikkeling voortbou. Die bRNS-hub gaan nie net oor die vervaardiging van entstowwe nie, maar sal kapasiteit op die kontinent bou," sê De Oliveira.

Die BMNI, waar Seri gesetel is, is 'n groot infrastruktuurbelegging ter waarde van meer as R1 miljard deur die US en die Suid-Afrikaanse Departement van Wetenskap en Innovasie. Dit is gelykstaande aan die mees gevorderde biomediese navorsingsfasiliteite ter wêreld en sal die gasheer vir talle wêreldklas-navorsingsgroepe in Suid-Afrika wees.

“Die BMNI beskik oor wêreldklas-infrastruktuur en huisves voorste Suid-Afrikaanse biomediese navorsers wat aan die voorpunt is van pogings om Afrika-oplossings vir uitdagende gesondheidsprobleme in Afrika te vind. Die infrastruktuurbelegging sal aansienlike menslike kapasiteitsontwikkeling moontlik maak deur die opleiding van die kontinent se beste studente en deur hulle aan omvattende nasionale en internasionale netwerke bloot te stel, wat 'n volgende generasie van suksesvolle wetenskaplikes sal voortbring," sê prof Gerhard Walzl, Uitvoerende Hoof van die FGGW se Departement Biomediese Wetenskappe.

De Oliveira se navorsing het ten doel om deur genomiese oorsig van patogene effektief op epidemies te reageer. Hierdie werk maak meer biomediese ontdekkings moontlik, asook beter behandeling, diagnose en beter entstofontwikkeling om menslike siekte te voorkom. Dit het die potensiaal om globale navorsing in hierdie veld te lei en aansienlike ekonomiese geleenthede vir Afrika te genereer.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Vise-kanselier, het die volgende oor die belang van die besoek gesê: “Die Universiteit Stellenbosch is trots daarop om deel van hierdie inisiatief te wees en ons juig die bydraes van alle rolspelers toe. As 'n toonaangewende navorsingsintensiewe instelling streef ons daarna om kennis in diens van die gemeenskap te bevorder. Ons probeer om in alles wat ons doen op plaaslike vlak relevant te wees, 'n impak op streeksvlak te hê en globaal kompeterend te wees. Die voorpunt-navorsing en doelgerigte vennootskappe wat by hierdie inisiatief betrokke is, sal help om van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld 'n beter plek te maak. Deur gesondheidsorg orals te verbeter sal hierdie inisiatief help om die ongelykheid wat deur die Covid-19-pandemie blootgelê is, teen te werk."

 

 Foto deur Nardus Engelbrecht

MEER OOR

COVID-bRNS-entstoftegnologiehub

Die WGO en sy COVAX-vennote werk saam met 'n Suid-Afrikaanse konsortium bestaande uit Biovac, Afrigen Biologics and Vaccines, 'n netwerk van universiteite en die Africa Centres for Disease Control and Prevention om sy eerste Oordraghub vir Covid-bRNS-entstoftegnologie te vestig.

Tegnologie-oordraghubs is opleidingsfasiliteite waar die tegnologie op 'n industriële skaal gevestig en kliniese ontwikkeling gedoen word. Belangstellende vervaardigers uit lae- en middelinkomstelande kan opleiding en enige nodige lisensies vir die tegnologie ontvang. Die WGO en vennote sal die vervaardigingskundigheid, gehaltebeheer en nodige lisensies na 'n enkele entiteit bring om 'n breë en vinnige tegnologie-oordrag na veelvuldige ontvangers te fasiliteer.

Die organisasies wat by die hub betrokke is, vul mekaar aan en kan verskillende rolle binne die voorgestelde medewerking vervul: Afrigen sal as ontwikkelaar dien, Biovac as vervaardiger, 'n konsortium van universiteite as akademiese ondersteuners wat bRNS-kundigheid verskaf en Africa CDC sal tegniese en streeksteun verskaf.

Die Suid-Afrikaanse hub sal vervaardigers in Afrika leer hoe om bRNS-entstowwe soos die Covid-19-entstowwe Pfizer en Moderna C te maak. Buitelandse vervaardigers sal hul tegnieke met plaaslike instellings deel en die WGO en vennote sal die produksiekundigheid en gehaltebeheer, asook hulp met die verkryging van die nodige lisensies verskaf.

The bRNS vaccine technology transfer hub

FAQ - The bRNS vaccine technology transfer hub

 

Biomediese Navorsingsinstituut

Die doelwit van hierdie navorsingsinstituut is om die siektes te verstaan wat die grootste impak op gemeenskappe in Suid-Afrika en die res van Afrika het.

Dié fasiliteit ter waarde van R1 miljard, wat volgens beplanning einde vanjaar voltooi sal word, is een van die mees innoverende en gevorderde biomediese naorsingsentrums in Afrika en sal die US se vermoë bevorder om wêreldklas-navorsing te doen oor die belangrikste gesondheidsprobleme wat die mense van Afrika en Suid-Afrika raak.  Dit sal ook 'n aansienlike bydrae tot die bou van navorsingskapasiteit op die kontinent van Afrika lewer.

Die nuwe BMNI is op dieselfde vlak as die mees gevorderde biomediese navorsingsfasiliteite en maak die onmiddellike uitbreiding van die US se huidige navorsingsaktiwiteite moontlik, insluitende navorsing op die gebied van bio-informatika, chirurgiese wetenskappe en oplossings vir die Covid-19-pandemie.