Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwelinge maak kennis met volhoubaarheidsprojekte van US Internasionaal
Outeur: Mhlengi Khambule
Gepubliseer: 16/02/2022

​Sowat 5 000 eerstejaarstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) is op Saterdag 10 Februarie 2022 bekend gestel aan die US se sentrum vir volhoubare ontwikkelingsimpak, die SDG/2063 Hub. Dié entiteit is in US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika geleë.

Dít het deel uitgemaak van die US se jaarlikse Sosiale Impak-oggend, wat aanlyn aangebied is. Die geleentheid, 'n gesamentlike inisiatief van Matie Gemeenskapsdiens, die Afdeling Sosiale Impak en die Sentrum vir Studentegemeenskappe, het verken hoe sosiale entrepreneurskap gebruik kan word om 'n sinvolle sosiale impak te hê.*

Die Sosiale Impak-oggend was dus 'n gepaste platform om die US-studentegemeenskap meer te vertel oor die SDG/2063 Hub, wat beoog om die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (die SDGs, soos dit in Engels bekend is) sowel as die Afrika-unie (AU) se Agenda 2063 in die hoër onderwys te bevorder. Die sentrum streef dié doel na deur bewustheid te skep, vennootskappe te bou, en die groter US-gemeenskap se bydrae tot sowel die VN as AU se volhoubaarheidsagenda binne én buite Afrika te versterk. 

Studente het in die besonder ook inligting ontvang oor die Future17-kortkursus oor die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, 'n nuwe wêreldwye, multidissiplinêre en multikulturele volhoubaarheidsprogram. Die kursus word aangebied deur die Universiteit van Exeter (Verenigde Koninkryk), die QS-wêrelduniversiteitsranglys en 'n universiteitskonsortium wat die US, die Chinese Universiteit van Hong Kong en die Universiteit van São Paulo (Brasilië) insluit.

Met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte as raamwerk, sal die kursus na oplossings vir die wêreld se volhoubaarheidsuitdagings help soek, en deelnemers terselfdertyd vir die arbeidswêreld voorberei deur hulle kritiese denk- en aanbiedingsvaardighede te bou. Uitdagings vir die program is deur 'n aantal SDG-Challenge-vennote opgestel. Deelnemers sal hierdie uitdagings op 'n samewerkende manier aanpak, met bystand van vennootuniversiteite en mentors wat die verskillende instellings toeken.  

Die eerste aflewering van die program word van die einde van Februarie tot die einde van Mei 2022 virtueel aangebied. Dit is oop vir studente vanaf tweedejaarsvlak tot nagraads, onderworpe aan keuring. Studente sal in groepe van ses tot agt saamwerk en aan die einde van die kursus oplossings vir hulle onderskeie volhoubaarheidsuitdagings voorlê.

Diegene wat vir die program aanvaar word, kan daarna uitsien om deel te wees van 'n gemeenskap wat deur sosiale impak aangevuur word, en om in ware betrokke burgers en die leiers en beleidvormers van die toekoms te ontwikkel.


Studente wat aan die kriteria voldoen, word genooi om teen 20 Februarie 2022 aansoek te doen. Vir verdere inligting en die inskrywingsvorm, klik hier. So nie, e-pos die programbestuurder, me Corina du Toit, by corina@sun.ac.za.


thumbnail_image001.png

* Ander US-aanbieders by die Sosiale Impak-oggend was Renee Hector-Kannemeyer (adjunkdirekteur van Sosiale Impak, en direkteur van Matie Gemeenskapsdiens), die Studenteraadslid Precious Nhamo (wat verantwoordelik is vir die portefeulje Sosiale Impak en Innovasie) en die LaunchLab se Leana Kotze en Abby Stern. Busisiwe Chauke het deelgeneem as verteenwoordiger van 4-Good, 'n gewaardeerde US-vennoot in studentevrywilligerwerk, en Vere Shaba, een van die voorste 100 sakevroue in Afrika, het studente aangemoedig om kwessies te ondersteun wat tot 'n beter wêreld sal bydra.