Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Betekenisvolle en besondere verwelkoming vir US-nuwelinge
Outeur: Corporate Communications and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 31/01/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom vandeesweek meer as 5 000 nuwelingstudente op sy kampusse met die aanvang van sy amptelike Verwelkomingstydperk, wat van Maandag 31 Januarie tot Saterdag 12 Februarie 2022 sal duur.

In teenstelling met verlede jaar se virtuele verwelkomingsplegtigheid as gevolg van die pandemiebeperkings wat toe van krag was, sal nuwelingstudente vanjaar amptelik van aangesig tot aangesig deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en die SR-voorsitter, me Viwe Kobokana, verwelkom word. Die verwelkoming vind op Donderdag 3 Februarie by die Danie Craven-stadion plaas. Om aan vlak 1-maatreëls teen Covid-19 te voldoen, sal die tradisionele massageleentheid met twee kleiner plegtighede vervang word, elk met hoogstens 2 000 gaste.

Hier sal nuwelinge met die Universiteitsbestuur, studenteleiers, huiskomiteelede en mede-eerstejaars kennis maak. Die eerste plegtigheid, wat om 14:45 plaasvind, is vir nuwelinge uit die studenteklusters Rubix, Validus en amaMaties, en die plegtigheid om 17:00 vir studente van Wimbledon, VicMeyr, Victoria, Tygerberg en Huis Neethling. Ouers sal op die US se webtuiste na 'n video-opname van die verwelkomingsgeleentheid kan kyk.

Die verwelkomingsgeleentheid is die amptelike aanvang van die Universiteit se Verwelkomingstydperk, wat uit 'n omvattende en ten volle geïntegreerde program van verwelkomingsaktiwiteite gedurende die eerste twee weke van Februarie bestaan. In hierdie tyd word nuwelinge aan alle aspekte van die kampus- en studentelewe bekend gestel, waaronder akademiese programme en die wye verskeidenheid studentesteundienste tot hulle beskikking. “Die program bestaan uit betekenisvolle en besondere geleenthede sowel as inligting- en oriënteringsessies sodat die nuwe Maties hulle opvoedkundige reis met vrymoedigheid kan begin," sê mnr Pieter Kloppers, direkteur van die Sentrum vir Studentegemeenskappe.

Twee verdere opwindende geleenthede op die program is die Droomloop in Victoriastraat op Donderdagaand 3 Februarie (20:00–22:15) en die Vensters-straatteater op Saterdag 12 Februarie (09:00–22:00).

 

Vierde aflewering van ikoniese Droomloop

Studente sal ná die amptelike verwelkomingsgeleentheid in groepe van 100 aan die Droomloop in Victoriastraat deelneem. Vir hierdie inisiatief, wat in 2019 van stapel gestuur is, loop studente onderdeur 'n banier wat oor Victoriastraat hang, wat die amptelike begin van hulle akademiese reis by die US simboliseer. Studente kan ook handgeskrewe kaartjies met hulle drome op teen een van die bome langs Victoriastraat opsit.

“Die simboliek van die Droomloop, as die oomblik wanneer jy met jou akademiese reis begin en jou drome begin verwesenlik, maak dit 'n ikoniese geleentheid vir nuwelinge," sê Kloppers. “Wanneer hulle ook al weer by daardie plek verbyloop, sal dit hulle aan hulle drome herinner."

Vensters 2022 'n twee uur lange kaartjiekonsert

Nóg 'n hoogtepunt is die Vensters-straatteater, wat op 12 Februarie 2022 (09:00 -22:00) by die Coetzenburgsentrum binnenshuis aangebied word. Nuwelinge sal in kleurryke twee uur lange musiek- en danskonserte deur die loop van die dag op ʼn roterende basis optree. Ouers en ander gaste kan die konserte bywoon. Die geleentheid, waarvoor toegangskaartjies uitgereik sal word, sal aan alle Covid-19-protokolle voldoen.

Nuwelinge begin op 14 Februarie klas draf, wanneer die Universiteit se akademiese jaar 2022 ook amptelik afskop.

 

Verdere inligting oor die Universiteit se Verwelkomingstydperk 2022:

  • Studente het toegang tot 'n aanlyn inskakelingsprogram om hulle vir die praktiese aspekte van hulle studie te help voorberei. Die program word op SUNLearn, die Universiteit se leerbestuurstelsel, aangebied.
  • Die Universiteit se webtuiste, www.sun.ac.za, bevat alle inligting wat nuwelingstudente kan nodig kry. Die volledige verwelkomingsprogram én bykomende besonderhede, waaronder die registrasierooster, vervoerbesonderhede, riglyne vir persoonlike veiligheid, en inligting oor die US Biblioteek, is hier te kry.  
  • Sosialemediaplasings oor die Verwelkomingstydperk sal onder die hutsmerk #helloMaties verskyn. 
  • Swaar verkeer word op 2 en 3 Februarie 2022 op alle hoofroetes na Stellenbosch en in die dorp verwag.