Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW groet gewaardeerde kollegas na dekades van lojale diens
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 11/01/2022

Twee gewaardeerde personeellede van die Afdeling Studente Administrasie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US), het na 'n lang dienstydperk afgetree.

Mev Salot Hanekom het in totaal 45 jaar vir die US gewerk, waarvan verreweg die grootste deel vir die FGGW.

Hanekom het aan die PW Botha Hoër Tegniese Skool op George gematrikuleer en daarna 'n jaarlange sekretariële kursus aan die Stellenbosch Tegniese Kollege voltooi. “Ek het die Vrydag klaargemaak en die Maandag begin werk," vertel sy oor hoe haar loopbaan in November 1976 as tikster/telefoniste aan die Afdeling Aankope en Voorsieningsdiente op die US se hoofkampus afgeskop het.

Op 1 Augustus 1980 is sy as tikster/administratiewe beampte na die FGGW se Keuringsafdeling oorgeplaas nadat sy om dié pos aansoek gedoen het. In hierdie tydperk het sy en haar man, Gielie, ook om logistieke redes van Stellenbosch na Bellville verhuis. Hulle het drie dogters, Milisa, Carika en Lejandra.

Hanekom se volgende doelwit was 'n pos as sekretaresse van die Hoof: Administrasie, wat begin 1984 'n werklikheid geword het. Haar posbenaming is mettertyd verander na dié van Koördineerder: Kantoor van die Adjunkregistrateur (Tygerbergkampus).

“Jy moet op jou tone wees met die regte inligting," sê sy hieroor.

In haar dienstydperk het sy onder ses FGGW-dekane gedien en onder meer die professorale intreeredes gereël.

Volgens haar was een van haar grootste uitdagings om van 'n tikmasjien na 'n rekenaar oor te skakel. Daarbenewens, sê sy, het elke dekaan of hoof sy eie bestuurstyl en moes sy inskakel by nuwe uitdagings soos om die eedafleggingseremonie weens Covid-19 virtueel te hanteer. “Veral die laaste twee jaar was daar vinnige aanpassings met Covid, soos om van die huis af te werk."

'n Hoogtepunt was om met studente van hul eerste jaar tot by hul sesde jaar te werk, en hulle tot by die eedaflegging te neem, sê sy.

Hanekom het oor die jare verskeie prestasiebonusse en in 2006 ook die Rektorstoekenning vir Voortreflike dienslewering ontvang.

“Ek is gereed en sien uit daarna," sê sy oor haar aftrede. “Ek wil graag dié tyd saam met my man en kinders geniet."

Watter raad het sy aan jong mense? “Passie en geduld vir jou werk, en respek vir jou werk en medemens. En jy moet met 'n positiewe gesindheid werk toe kom."

“Onverrekenbaar," is hoe me Farah Fredericks, huidige adjunkregistrateur en hoof: Sentrum vir Studente-administrasie (Tygerberg), Hanekom se bydrae tot die universiteit en fakulteit beskryf. “Ons gaan haar institusionele kennis na 45 jaar diens aan die US, haar lojaliteit, omgeehart en werketiek beslis mis."

Hanekom se kollega mnr Johan Coetzer, fakulteitsadministrateur en hoof van kursusse, het op sy beurt na 25 jaar diens aan die FGGW afgetree.

In hierdie tydperk het die kampus wonderlike vernuwing ondergaan, sê Coetzer, 'n gebore en getoë Vrystater wat sy kinder- en skooljare in Brandfort deurgebring en matriek in 1979 voltooi het. “Dit was baie lekker, sorglose jare," onthou hy. 'n Hoogtepunt was toe hy vir Oos-Vrystaat B se skolerugbyspan uitgedraf het.

Sy rugbyversameling, met sy waardevolste item 'n spanfoto van die All Blacks van 1928 wat in Suid-Afrika getoer het, is juis 'n stokperdjie wat hom na sy aftrede besig gaan hou. “Ek beplan ook om iets aan te en pak waarin ek myself kan uitleef en 'n inkomste kan verdien."

Coetzer het aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) BAdmin gestudeer, was op die huiskomitee van Huis CR de Wet, en het 'n honneursgraad in bedryfsekonomie verwerf.

Na 'n tydjie in die bankwese was hy vir sewe jaar in 'n administratiewe hoedanigheid aan die UOVS verbonde, ook aan die Fakulteit Geneeskunde. In hierdie stadium is sy en sy vrou, Mariaan, se twee kinders, Philip en Liechen, gebore en het hy sy meeestersgraad in stads- en streeksbeplanning verwerf.

In Junie 1996 het hulle Kaap toe verhuis nadat hy as eksamenbeampte (Tygerbergkampus) en fakulteitsekretaris van geneeskunde aangestel is. Sy deeglike verslae het volgens Fredericks legendariese status aan die universiteit bereik. “Die verlies aan sy institusionele kennis, sy sin vir humor en lojaliteit teenoor die US, gaan 'n groot leemte laat."

Volgens Coetzer kon hy baie leer by die formidabele dekane, uitstekende vise-dekane en adjunkregistrateurs onder wie hy aan die FGGW gewerk het. Hoogtepunte was die waardering wat personeel en studente altyd vir sy diens uitgespreek het – “hoe gering ook al" – en dat hy by die skryf van die motiverings vir vyf van die fakulteit se ses Kanseliersmedaljewenners betrokke was. Die eerste ontvanger hiervan was die huidige US-rektor, prof Wim de Villiers.

“Ek het met werklik uitsonderlike mense op die Tygerberg-kampus te make gehad, beide personeel en studente, en wil dankie sê dat ek in die diens van die universiteit kon wees en vir die bydrae tot my vorming as mens."

Hy is baie dank verskuldig aan sy gesin, sê Coetzer, “veral vir Mariaan se lojale ondersteuning en die lekker kospakkies wat sy elke dag vir my ingepak het. Ek is ook baie dank verskuldig aan my ouers, Philip en Doreen Coetzer, en my broers, Philip en André, vir wat ek by hulle kon geleer het."