Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Proff Robinson & Reddy neem afskeid
Outeur: Elise Groeneveld
Gepubliseer: 23/12/2021

Op Woensdag, 1 Desember het personeellede by Erinvale Estate bymekaarkom vir 'n jaareindfunksie waartydens daar van twee jarelange kollegas afskeid geneem is. Die Waarnemende Visedekaan vir Onderrig en Leer, prof Maureen Robinson, en professor in die Departement Kurrikulumstudie, Chris Reddy tree aan die einde van 2021 af nadat hulle diep spore getrap het in die Fakulteit en veral in die Departement Kurrikulumstudie.

Prof Maureen Robinson

Nadat sy voorheen as Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (2002-2012) en die Universiteit Stellenbosch (2012 – 2017) gedien het, het prof Robinson tydens haar laaste jaar as amptelike personeellid aan die US, nooit van verantwoordelikheid weggeskram nie. Met Covid-19 se ekstra uitdagings het sy die bul by die horings gepak en grootliks bygedra tot die doeltreffende manier waarop studente hul akademiese aktiwiteite kon voortsit.

Haar navorsing in onderwysersopleiding, professionele leer en onderwysvernuwing het tot op hede groot erkenning ontvang. Prof Robinson, wat onlangs as president van die Suid-Afrikaanse Onderwysnavorsingsvereniging (SAERA) verkies is, sal steeds waardevolle bydraes tot die onderwysveld lewer, en beoog om samewerking tussen verskillende opvoedkundige organisasies, sowel nasionaal as internasionaal, te bevorder. Sy sal in 2022 steeds by die US betrokke wees as Emeritusprofessor aan die Departement Kurrikulumstudie.

Prof Michael le Cordeur, Voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie, deel 'n paar gedagtes:

Ek ken prof Robinson sedert haar aanstelling in hierdie fakulteit in 2012. Ons het lekker saamgewerk. Ek het haar nog altyd beskou as 'n kundige persoon wat alles wat sy sê op feite baseer. Sy bly kalm ongeag die omstandighede en laat nooit toe dat enige krisis haar van haar doelwitte ontspoor nie. Doelwitstelling is vir haar belangrik en sy sal altyd probeer om meganismes in plek stel om haar doelwitte te bereik. Wanneer sy praat, praat sy met gesag wat sy oor baie jare se ondervinding opgebou het, en haar akademiese uitsette word deur almal in die opvoedkundige wêreld gerespekteer. Sy het die potensiaal om die toekomstige Minister van Onderwys te word. Ek sien daarna uit om steeds in die toekoms met haar saam te werk en om te baat by haar ervaring en advies in haar nuwe rol as Emeritusprofessor in ons Departement.

Prof Chris Reddy

Gedurende die afgelope 20 jaar by die US het prof Chris Reddy 'n instrumentele rol gespeel in die ontwikkeling van omgewingsopvoeding. Sy kanselierstoekenning wat hy vanjaar van die US ontvang het, getuig van die uitmuntende bydrae in sy veld. As voormalige voorsitter en huidige hoogleraar in die Departement Kurrikulumstudie, het prof Reddy se navorsing op die gebied van kurrikulumstudie, omgewingsopvoeding en onderwysersopleiding 'n wesenlike bydrae gelewer tot die integrasie van sosiale impak in die kurrikulum van sowel sekondêre as tersiêre onderwys. In 2022 sal prof Reddy die rol inneem van Emeritusprofessor by die Fakulteit.

Prof Michael le Cordeur deel ook iets oor prof Reddy:

Ek het prof Chris Reddy leer ken nog voordat ek in 2009 by die Fakulteit aangesluit het. As die Kringbestuurder van Onderwys in Stellenbosch en Distrik het ek Chris ontmoet toe hy verskeie navorsingsprojekte met sosiale impak in hierdie omgewing uitgevoer het. Die Rietenbosch-vleiland-omgewingsprojek is een hiervan wat dadelik by my opkom. Met Chris se hulp en kennis is die vleiland in Cloetesville suksesvol herstel en word die water steeds deur die gemeenskap en die skool gebruik. As kollega het ek saam met Chris in die Departement Kurrikulumstudie gewerk; in my vroeë jare by die US hy het my voorsitter geword en was hy vir my 'n mentor wat my gehelp het om my voete te vind. As ek raad nodig gehad het oor kurrikulumkwessies, was hy altyd daar om te help. Hy het die EEPUS (Environment Education Project at University Stellenbosch) gestig en het 'n deurslaggewende rol gespeel om Omgewingstudie as skoolvak en as module in ons B.Ed- en NOS-programme te vestig. Hy is lojaal, hardwerkend en betroubaar en word deur almal in die Fakulteit gerespekteer. 

 

 

Kollegas by die jaareindfunksie.