Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorser ontvang gesaghebbende internasionale toekenning
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/12/2021

Dr Calvin D Ullrich, 'n oudstudent en navorsingsdeelgenoot by die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs 'n gesaghebbende internasionale toekenning vir ontluikende vakkundiges, die Manfred Lautenschlaeger-toekenning vir belowende teologie 2022, losgeslaan.

Die toekenning word elke jaar deur die Forschungszentrum Internationale und Interdisziplinäre Theologie (FIIT) by die Universiteit van Heidelberg in Duitsland aan tien vakkundiges toegeken wie se eerste boek of doktorale dissertasie op die een of ander manier die onderwerp “God en spiritualiteit" (soos dit breedweg verstaan word) aanraak. Aansoekers van regoor die wêreld en van alle godsdienstige agtergronde en akademiese vakgebiede word aangemoedig om aansoek te doen. Die tien ontvangers word deur 'n interdissiplinêre en multigodsdienstige raad van 20 uitgelese vakkundiges uit 15 lande aangewys.

Ullrich het die toekenning ontvang vir sy eerste boek, Sovereignty and Event: The Political in John D. Caputo's Radical Theology (Tübingen: Mohr Siebeck, 2021), wat gegrond is op sy doktorale navorsing wat hy in 2019 aan die US voltooi het oor die filosofiese en teologiese werk van John D Caputo.

Die boek ondersoek die vrae rondom die idee van soewereiniteit, 'n konsep wat deurdring is met filosofiese, teologiese en kontemporêre politieke betekenis. “Ek is geëerd om hierdie toekenning te ontvang en dit is 'n aanmoediging dat so 'n uitgelese internasionale konsortium die belangrikheid en gehalte van hierdie werk vir die teologie, filosofie en ons gemeenskaplike politieke lewe bevestig," sê Ullrich.

Ullrich sal in Mei 2022 'n drie dae lange akademiese konferensie by die Universiteit van Heidelberg in Duitsland bywoon waar hy en die ander wenners hul toekennings, wat 'n geldprys insluit, sal ontvang en aanbiedings oor hul opkomende navorsing sal doen.

Afgesien van sy PhD in Teologie in 2019, het Ullrich ook 'n Baccalaureus- (2014) en 'n meestersgraad cum laude (2016) aan die US verwerf. Hy sê die toekenning dien as erkenning vir die hoë-gehalte teologiese onderrig wat die US aanbied.

“Histories kom die wenners van die toekenning meestal uit Europa en Noord-Amerika, en dan ook van hul topuniversiteite soos Yale, Harvard, Notre Dame, Chicago, Oxford, Cambridge, St Andrews en Heidelberg. Dit maak my dus baie trots om Stellenbosch tussen al hierdie groot name te sien."

Ullrich verduidelik Sovereignty and Event is 'n poging om “die teologiese onderbou wat ons ontvangde idees oor godsdiens en politieke gesag inlig" met filosofiese erns te heroorweeg.

“God se soewereiniteit is 'n omstrede konsep. Dit het so 'n belangrike teologiese rol in die weerstand teen die owerhede van die apartheidsregime gespeel. Maar wat ek in hierdie boek wou doen, is om juis die idee van 'n soewereine God te dekonstrueer – m.a.w. om oor die moontlikheid van 'n God sonder soewereiniteit te dink."

Hy sê die implikasies hiervan vir die politiek is baie belangrik: “'n God sonder soewereiniteit beteken nie God is onmagtig nie, die idee van mag moet herdefinieer word tot 'n verantwoordelikheid teenoor ander. En aangesien hierdie ou konsep van mag ingebou is in ons sekulêre instellings, moet dit ook herdink word volgens 'n 'etiek van verpligting' – ek dink Caputo se werk help ons om oor hierdie moontlikheid te dink."

Ullrich, wat tans 'n navorsingsgenoot by die Ekumeniese Instituut aan die Ruhr-Universität Bochum (RUB) in Duitsland is, sê sy navorsing fokus op die kontemporêre “draai na godsdiens" in kontinentale filosofie en politieke teologie. Sy volgende boek sal nou die fokus verskuif na die fenomenologie van vergestalting, nuwe materialistiese studies en affekteorie, en sal verdere insig bied op die “godsdienstige liggaam" binne 'n raamwerk van Christelike antropologie. Ullrich is oortuig daarvan dat “kontemporêre teologie by interdissiplinêre gespreksvoering met die wetenskappe en geesteswetenskappe betrokke moet raak. Om dit nie te doen nie, isoleer dit nog meer van fassinerende insigte wat nie iets wegneem nie, maar eerder die geloofslewe versterk".

Ullrich het in 2018 sy postdoktorale pos by die RUB opgeneem terwyl hy nog met sy finale jaar van sy PhD-studie by die US besig was. Sy kontrak by RUB is vroeër vanjaar met 'n verdere drie jaar verleng (2021–2024). Hierdie pos word ekstern befonds deur die Deutsche Forschungsgemeinschaft (DFG) of te wel die Duitse Navorsingstigting. As deel van die ooreenkoms moet hy 'n tweede boek, of 'n Habilitations-tesis soos dit in Duits bekend staan, skryf.

“Ek sien uit daarna om hierdie komende projek, wat deur die DFG befonds word, te bespreek. My voorlopige titel is A Critical Phenomenology of Christian Bodily Affect," sê hy.​