Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-kundiges aangestel in Nasionale Beplanningskommissie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 23/12/2021

Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa het drie vooraanstaande akademici van die Universiteit Stellenbosch Universiteit (US), prof Mark Swilling en drr Morne Mostert en Guy Lamb, as lede van die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) in die nasionale departement van beplanning, monitering en evaluering aangewys.

Hul aanstellings geld vir vyf jaar en het op 1 Desember 2021 in werking getree.

Die NBK is in 2010 in die lewe geroep met die opdrag om 'n nasionale ontwikkelingsplan en 'n langtermynvisie vir die land te ontwikkel. Die kommissie bedien ook die regering met raad oor veelvlakkige kwessies wat die langtermynontwikkeling van Suid-Afrika beïnvloed.

Gesamentlik is die lede van die kommissie 'n groot bron van kundigheid en praktiese ondervinding op gebiede soos finansies, handel, politiek, arbeid, ekonomie, sosiologie, tegnologie, wetenskap, demografie en ontwikkeling. Hulle is belangrike raadgewers vir die regering en verskaf aanbevelings in die belang van die land se langtermynontwikkeling.

Dr Guy Lamb

Lamb, 'n kriminoloog in die Departement Politieke Wetenskap, sê sy aanstelling as kommissaris (justisie en veiligheid) in die NBK is vir hom én sy departement 'n groot eer.

“Dit gee erkenning aan die feit dat die Universiteit Stellenbosch se Departement Politieke Wetenskap as die top politieke wetenskap departement in Suid-Afrika beskou word. Ek is voel geëerd met die aanstelling, aangesien dit erkenning gee aan die meer as 20 jaar se werk wat ek aan geweldsbeskerming, gemeenskapsveiligheid en polisiëring bestee het."

Hy sê hy sal sy tyd as 'n kommissaris gebruik om hoofstuk 12 van die Nasionale Ontwikkelingsplan – wat oor gemeenskapsveiligheid handel – te prioritiseer en sal op praktiese en bekostigbare maniere fokus hoe Suid-Afrika 'n veiliger land vir almal kan word.

Lamb doen al vir meer as 20 jaar navorsing oor wapenbeheer, geweldsvermindering, stedelike veiligheid, polisiëring en vredesbou-kwessies in Afrika en verskeie van sy geskrewe werk het al verskyn. Hy het in die VN Veiligheidsraad se paneel van kundiges oor Liberië gedien en was lid van die VN se verwysingsgroep van kundiges vir handvuurwapens. Hy werk nou saam met regeringsdepartemente oor misdaad- en geweldvoorkomingskwessies.

Dr Morne Mostert

Mostert, Direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing, sê hy beskou dit as 'n baie groot eer om opgeroep te word om die land en die samelewing op hierdie wyse te dien.

“As 'n kundige en praktisyn van strategiese versiendheid, sal dit danksy hierdie skaars geleentheid vir my 'n eer wees om op so 'n invloedryke vlak tot die samelewing te kan bydra.

“Ek hoop om onafhanklike denkleierskap oor die gehalte van besluitneming op die langer termyn by te dra wanneer ons 'n alternatiewe, verkiesliker toekoms vir Suid-Afrika ondersoek. Hierdie denkleierskap moet as betekenisvolle inset tot beleid verder strek as reaktiewe reaksies op die geraas van die dag en moet 'n tot 'n bekwame en eties ontwikkelende land bydra. Kom ons wees eerlik: 'n Sekere graad van rigtingaanpassing is dringend nodig. Die NBK moet wat die minister in die presidensie as 'n 'fakkel van hoop' beskryf het, bied. Hierdie soort hoop lê in die neem van hoërorde strategiese besluite vir 'n meer geregtigde samelewing."

Mostert tree as raadgewer vir senior leiers wêreldwyd op oor toekomsgebaseerde uitvoerende besluitneming en kognitiewe ontwikkeling. Hy het onder meer al in Parys, Londen, Dubai, Madrid, Kuala Lumpur en verskeie Afrika-lande gewerk. Afgesien van sy PhD in die bestuur van tegnologie en innovasie, sluit Mostert se spesialisvakgebiede toekomsdenke, strategiese denke, stelselsdenke en kreatiewe innovasie in. Hy het die invloedryke boek, Systemic Leadership Learning – Leadership Development in the Era of Complexity, geskryf wat die voorgeskrewe werk vir verskeie internasionale programme in strategiese leierskap is. Hy is 'n lid van die Internasionale Arbeidsorganisasie se paneel van kundiges oor die toekoms van werk.

Prof Mark Swilling

Swilling is ʼn uitgelese professor in volhoubare ontwikkeling in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Universiteit Stellenbosch, en mededirekteur van die Sentrum vir Oorgang na Volhoubaarheid (CST). Hy dien ook as voorsitter van die raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA).

Hy sê tydens sy ampstermyn wil hy graag die NBK help om die Nasionale Ontwikkelingsplan by te werk sodat die dokument “die harde werklikhede wat ons tans in die gesig staar, in ag neem, sowel as die snelveranderende globale konteks, soos beïnvloed deur die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en die COVID-19-pandemie”.

Hy sal bewysgebaseerde beleidsaanbevelings oor ʼn reeks onderwerpe bydra, met spesiale verwysing na die energie-oorgang, finansies en die skep van ʼn bekwame staat.

Swilling is ʼn internasionale kenner in volhoubare ontwikkeling, met meer as dertig jaar se ondervinding in samelewingsoorgange (met spesiale verwysing na stedelike stelsels), aanvanklik met ʼn fokus op demokratisering en bestuur tydens die apartheidsera, en meer onlangs binne die wyer dissipline van volhoubaarheidstudies.

Hy het onlangs tot ʼn nuwe boek oor staatskaping bygedra: Anatomy of State Capture (uitgegee deur African Sun Media). Besoek https://bit.ly/3FWbJIq vir ʼn gratis PDF.