Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-chirurg ontvang gesamentlike PhD van US en Karolinska Universiteit in Swede
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 15/12/2021

Dr Jeanne Lubbe, wat verbonde is aan die Afdeling Chirurgie van die Universiteit Stellenbosch (US), het pas 'n gesamentlike doktorsgraad van die US en die Karolinska Universiteit in Swede ontvang.

Sy het haar PhD-dissertasie – getiteld “Aspects on Advanced Procedures during Endoscopic Retrograde Cholangiopancreatography (ERCP) for Complex Hepatobiliary Disorders" – in Februarie vanjaar suksesvol in Huddinge, Swede, verdedig.

Lubbe (44) is tans hoof van die afdeling boonste-gastro-intestinale chirurgie en metaboliese chirurgie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die pad na haar gesamentlike PhD het in 2013 begin toe sy haar die eerste keer in Huddinge bevind het vir die aanvang van 'n endoskopie-genootskap aan die Karolinska Universiteitshospitaal.

“Wat uitgestaan het onder die baie lesse wat ek op my eerste besoek geleer het, was dat kliniese vrae nie beantwoord moet word op grond van persoonlike ondervinding nie, maar op grond van werklike data soos dié van GallRiks, die Sweedse register vir cholesistektomie en endoskopiese retrograde cholangio-pankreatikografie (ERCP). Die genootskap het my nie net blootgestel aan moderne endoskopiese praktyk nie, maar my ook bewus gemaak van die navorsingsmoontlikhede as gesondheidsorgdata ingesamel en verantwoordelik aangewend word."

Kort na hierdie besoek het die US en die Karolinska Universiteit 'n bilaterale ooreenkoms gesluit vir die totstandkoming van 'n gesamentlike PhD-program, met Lubbe se gesamentlike PhD-graad wat in Junie 2016 afgeskop het.

Haar proefskrif se hoofnavorsingsvrae wentel om gevorderde prosedures wat tydens 'n ERCP vir komplekse lewer- en galbuistoestande uitgevoer word. Die fokuspunt is twee

hoofintervensies: Eerstens die uitvoer van 'n cholangiografie (SpyGlass), wat relatief nuwe tegnologie behels, en tweedens endoskopiese stentplasing in die hepatiese hilus.

Ingevolge die ooreenkoms tussen die twee universiteite moes by albei universiteite individueel aan die PhD-vereistes voldoen word. Omdat beide 'n PhD toegelaat het wat op publikasies gegrond is, het Lubbe se proefskrif vier publikasies behels.

Die eerste twee publikasies bekyk die uitwerking van 'n cholangiografie op die groep pasiënte wat 'n enkele groot endoskopiesentrum (Huddinge) besoek het asook pasiënte wat tussen 2007 en 2014 landwyd in Swede 'n cholangiografie ondergaan het. 'n Belangrike bevinding was dat die prosedure aansienlike kliniese waarde toegevoeg het in 63% van hierdie gevalle. Die grootste waarde is ondervind in die behandeling van galstene, maar 'n verdere belangrike funksie was geleë in die vasstelling of vernouings kankeragtig is.

Die latere twee studies het endoskopiese hilus-stentplasing ondersoek in sowel die Sweedse bevolking as in alle pasiënte wat palliatiewe hilus-stentplasing in die Wes-Kaap ondergaan het. Daar is bevind dat hilus-stentplasing vergeleke met stents wat in die distale galweg geplaas is, 'n verhoogde risiko vir komplikasies gehad het.

'n Vergelyking van hilus-stentplasing via 'n endoskopiese roete en via die vel (die tradisionele manier), het nie enige verskille opgelewer nie. Stents wat endoskopies geplaas is, het egter langer oopgebly, waarskynlik omdat meer stents tydens die prosedure ingesit kon word. Albei roetes het hulle voordele en nadele, is bevind, en kan in die toekoms aanvullend eerder as kompetitief gebruik word.

“My 'dubbele' PhD was in so baie opsigte 'n seëning," sê Lubbe. “Buiten dat dit my toegelaat het om in totaal 'n jaar in die spesiaalste van al die Nordiese lande deur te bring, was ek so bevoorreg om blootgestel te wees aan PhD-prosedures, die vereiste kursusse, die etiese regulasies, en die kultuur rondom wat dit beteken om 'n 'doktor' aan twee onafhanklike universiteite te word."