Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-graduandi aangespoor om gesondheid as ʼn mensereg te bevorder
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 14/12/2021

Prof Jimmy Volmink, uittredende Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch, het die Fakulteit se pas gegradueerde gesondheidsorgpraktisyns weggestuur met 'n uitdaging om nie net vir pasiënte te sorg met die tegniese vaardighede en kennis wat hulle gedurende hul opleiding verwerf het nie, maar ook deur gesondheid as 'n mensereg in hul praktyke te bevorder.

Altesame 1 170 FGGW-studente gradueer vandag, van wie 430 hul voorgraadse mediese of gesondheidswetenskappe-grade sal ontvang. Hulle sal die gesondheidstelsel volgende jaar as gemeenskapsdiensgesondheidswerkers betree.

Volmink het die graduandi toegespreek by die eedafleggingsplegtigheid van die Klas van 2021, waar die afgestudeerde studente belowe het om hul beroep met respek, sorgsaamheid, integriteit en deernis te beoefen.

Al word gesondheid as 'n mensereg in die Suid-Afrikaanse Handves van Regte verskans, kom gesondheidsongelykhede en -ongeregtighede allerweë in die gesondheidsorgpraktyk in die land voor, het Volmink aangevoer.

“Die reg op gesondheid sluit etlike komponente van gesondheid en gesondheidsorg in, soos beskikbaarheid, toeganklikheid en gehalte van gesondheidsorg. Dr Martin Luther King jr het gesê 'van al die vorme van ongelykheid is ongeregtigheid in gesondheid die skokkendste en onmenslikste'," het Volmink bygevoeg.

Hy het vervolgens raad vir die graduandi gehad oor hoe om 'n verskil as gesondheidsorgpraktisyns te maak.

“Ons kan eerstens menslike waardigheid in elke ontmoeting met pasiënte bevorder," het hy gesê en hulle aangeraai om ontmoetings met pasiënte – wat dikwels siek, verward en bang is – meer positief te maak deur hulle vriendelik en met respek en nederigheid te behandel.

“Nederigheid bevorder pasiëntempatie en verbeter die gehalte van sorg én pasiëntuitkomste," het hy aangevoer. “Nederigheid stel gesondheidsorgpraktisyns voorts in staat om die vaardigheid van ander gesondheidsorgpraktisyns te erken en respekteer en is die hoeksteen van kollegiale verhoudings en goed funksionerende multidissiplinêre spanne."

Volgens Volmink is die tweede manier waarop gesondheidsorgwerkers gesondheid as 'n mensereg kan bevorder, deur erkenning te verleen aan die impak wat lewensomstandighede op hul pasiënte se gesondheid kan hê.

“Dokters, verpleegkundiges en ander praktisyns word elke dag in klinieke landwyd blootgestel aan menslike lyding wat deur destruktiewe maatskaplike, ekonomiese en politieke kragte in die gemeenskap veroorsaak word. Ons het ongelukkig deur ons opleiding of sosiale kondisonering afgestomp geraak vir hierdie verwantskap tussen oorsaak en gevolg en volg gevolglik dikwels die maklike uitweg deur chemiese geneesmiddels of tegniese oplossings uit te deel, terwyl ons ons blind hou vir die oorsaak van ons pasiënt se toestand," het Volmink aangevoer.

Gesondheidspraktisyns kan volgens Volmink voortbou op hierdie tweede aanbeveling deur op 'n derde wyse 'n bydrae te lewer: deur hul stemme te gebruik om voorspraak te maak vir oplossings vir die nadelige toestande wat gesondheid raak. “Gesondheidsberoepslui word in die gemeenskap gerespekteer en hulle kan en moet hul invloed gebruik om 'n verskil te maak," het Volmink gesê.

Hy het aangevoer dat gesondheidspraktisyns die nadelige maatskaplike en ekonomiese invloede op gesondheid regstreeks in hul werk waarneem en gevolglik 'n spesiale verantwoordelikheid het om hierdie ongelykhede en onregverdighede reg te stel. Hy het 'n beroep op graduandi gedoen om kampvegters vir hul pasiënte te wees en om voorspraak te maak vir dinge wat hul lewensomstandighede sal verbeter – soos toegang tot huisvesting, sanitasie, kos en veilige water – en wat hul gesondheid by implikasie sal verbeter.  

“Ons huldig al lank die mening by die FGGW dat die doelwit van die opleiding van gesondheidsorgberoepslui nie bloot is om goeie klinici, onderwysers en wetenskaplikes te lewer nie, maar ook om goeie burgers, goeie mense en mense wat verandering bewerkstellig, op te lewer.

“Kom ons verdubbel ons pogings om 'n gesondheidstelsel te bou wat toegang tot gelykheid en tot sorg van gehalte aan baie mense sal bied, pleks van net aan 'n paar. Kom ons verdedig die integriteit van wetenskap, genereer nuwe kennis en bevorder bewysgebaseerde besluitneming. En laat ons nooit toegelaat word om te dink wetenskap en gesondheidsorg kan opsigself gesondheid vir almal bewerkstellig nie. Gesondheid word primêr deur maatskaplike en ekonomiese faktore bepaal – die bevordering van maatskaplike geregtigheid is van deurslaggewende belang vir goeie gesondheid… Ons as burgers moet veg vir beleide wat meer en beter werk skep, asook beter onderwys en beter lewensomstandighede. Ons moet veg om geslagsongelykheid en rassisme te beëindig en ons moet weier om toe te laat dat korporatiewe vraatsug en korrupsie ongehinderd voortgaan.

“Hierdie is die tyd vir ons om op ons gemeenskaplike menslikheid te fokus, om Ubuntu te bou. Saam voorwaarts na 'n regverdiger, gelukkiger en gesonder Suid-Afrika," het Volmink afgesluit.