Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer uitsonderlike individue met eregrade
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 23/12/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 13 Desember 2021 eredoktorsgrade aan vyf uitsonderlike individue toegeken by die US se Desember-gradeplegtigheid. Prof Marlene van Niekerk, regter Frederick Brand, dr Marlene le Roux, Nicky Newton-King, en prof John Volmink is vereer vir hul betekenisvolle bydrae tot die samelewing op die gebiede van die reg, die uitvoerende kunste, letterkunde, besigheid en die onderwys. Hulle het hul grade ontvang tydens 'n klein fisiese gradeplegtigheidseremonie vir doktorale gegradueerdes van die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Teologie en Regsgeleerdheid wat in die Endlersaal in die Konservatorium op die Stellenbosch-kampus gehou is.

Prof Marlene van Niekerk 

Prof Marlene van Niekerk het die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, ontvang vir vir haar ontsaglike impak op die Afrikaanse letterkunde en die globale letterkundige landskap; vir haar unieke bydrae tot die Departement Afrikaans en Nederlands in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe; vir haar toewyding aan die ontwikkeling van ʼn nuwe geslag skrywers; en vir die vrygewigheid waarmee sy haar kennis deur die akademiese dissipline deel.

Van Niekerk het in haar aanvaardingstoespraak die US bedank vir ʼn besondere en eervolle toekenning. Sy het gesê skeppende skryfkunde is ʼn vorm van navorsing en kan materiaal lewer wat kompleks genoeg is om gewone letterkundige navorsing om die langer termyn te bly stimuleer. “ʼn Mens vertrou dat skeppende skryfkuns sal oorleef as ʼn vaardigheid, as ʼn ambag wat jy eers moet bemeester voordat jy vry kan improviseer en vernuwe."

“ʼn Mens hoop dat die uitkomste van skeppende skryfkuns soos aangebied deur die Universiteit Stellenbosch vreesloos elke vorm van heersende hegemoniële denke sal ondermyn en wel deur ironie, dubbelsinnigheid en deur die vreemd maak van alledaagse taal en persepsies," het Van Niekerk bygevoeg.

Sy het nie net deur haar eie skryfwerk ʼn ontsaglike invloed op die Afrikaanse letterkunde en letterkundige landskap gehad nie, maar ook deur haar onderrig van bekende skrywers en wenners van letterkundige toekennings.

As ʼn uiters produktiewe skrywer oes Van Niekerk 20 plaaslike en internasionale toekennings en pryse in. In 2011 ontvang sy die nasionale Orde van Ikhamanga (silwer) ter erkenning van haar buitengewone intellektuele bydrae tot die gebied van die letterkunde en kultuur deur poësie, letterkunde en filosofiese werke.

Buiten vir die letterkundige waarde daarvan, het haar werk ook beduidend tot navorsing bygedra. Haar oeuvre is die onderwerp van ses doktorate, meer as 25 meesterstesisse en meer as 60 vakkundige artikels.

Van Niekerk, wat in 2019 by die US se Departement van Afrikaans en Nederlands afgetree het, het die suksesvolle MA-program in Kreatiewe Skryfkuns ontwikkel. Verskeie studente het, ná afhandeling van die program, gevestigde skrywers geword en ʼn verskeidenheid letterkundige toekennings, waaronder Hertzogpryse, gewen.

Buiten vir gegradueerdes uit die formele skryfprogram, het Van Niekerk ook verskeie ander vakkundiges en skrywers gementor, waaronder etlike wenners van toekennings, en as promotor vir studente in Afrikaans en Nederlands, letterkundige vertaling en biografiese skryfkuns opgetree.

Regter Frederick Brand

Frederick Brand, ʼn voormalige regter van die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika, het die graad Doktor in die Regte (LLD), honoris causa, ontvang vir sy vir sy toewyding aan die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse wetgewing; vir sy toewyding aan die versterking van die regbank in Afrika deur betrokkenheid by sy hoogste howe; vir sy toewyding aan die opleiding van ʼn nuwe geslag regters; en vir die deel van sy kundigheid deur sy plaaslike en internasionale vakkundige bydraes. Brand het nasionaal en internasionaal uitnemende bydraes tot die gebied van die reg gelewer.

Hy het die US bedank vir die uitsonderlike eerbewys en gesê die instelling was nog altyd deel van sy lewe. Ek is steeds dankbaar vir die onderrig wat ek by die Fakulteit Regsgeleerdheid ontvang het. “As ek bydrae tot die reg gelewer het, dan is ek my kollegas, veral dié in hierdie fakulteit, baie dank verskuldig vir hul invloed."

Brand, wat in 2015 as regter van die Hoogste Hof van Appèl afgetree het, begin in 1973 sy loopbaan as ʼn akademikus in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US. In 1992 word hy tot die Kaapse Balie toegelaat en praktiseer as advokaat vir 15 jaar, voordat hy in 1992 as regter aangestel word.

Sy impak blyk veral duidelik uit sy invloedryke uitsprake as regter van die Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl, en sy omvangryke betrokkenheid by die akademieskap van regsgeleerdheid. Hy skryf ongeveer 200 gerapporteerde uitsprake, waarvan sommige toonaangewende sake in verskillende regsvelde word en die onderwerp van uitgebreide akademiese uitleg is.

Brand was ook betrokke by beregting elders in Afrika en het in die Appèlhof van Lesotho en die Hooggeregshof van Namibië opgetree. Hy beklee ʼn permanente posisie op die regbank van die Appèlhof van Botswana. In 2018 is hy vir drie jaar op die regbank van die Hooggeregshof van Fidji aangestel, en in 2019 is hy uitgenooi om by die Katar Internasionale Handelshof in Doha aan te sluit.

Dr Marlene le Roux

Dr Marlene le Roux is met die die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, vereer vir haar verbintenis tot die ontwikkeling van die uitvoerende kunste; vir haar toewyding daaraan om te verseker dat jong mense uit gemarginaliseerde gemeenskappe toegang tot die uitvoerende kunste het; vir die gebruik van die kunste om op te voed, te bemagtig en gemeensaamheid te skep, en as ʼn werktuig vir uitdrukking vir die verdruktes.

“Wat ʼn besondere voorreg dat Stellenbosch Universiteit my waardig geag het vir hierdie toekenning. Ek neem dit in ontvangs namens so baie minderbevoorregte vroue, gestremdes en ook die persone wat geen stem het in die lewe het nie," het Le Roux gesê toe sy die eregraad in ontvangs geneem het.

Sy het daarop gewys dat die kunste politieke grense oorbrug, ons as mense bymekaar bring, en gemeenskappe met mekaar verbind.

“Dit spreek die brutaliteit van die verlede sowel as die uitdaging van die hede aan. Die kunste gee kinders die geleentheid om te ontsnap van die harde werklikheid en gee hulle die kans om te kan droom. Meer nog, dit inspireer en verdiep."

Le Roux, die eerste vrou om as hoof- uitvoerende beampte van die Kunstekaapteater in Kaapstad aangestel te word, is ʼn bekende kampvegter vir gemeenskappe sonder toegang tot regte en geleenthede.

Le Roux, wat haar loopbaan as musiekonderwyser op die Kaapse Vlakte begin het, het in 2001 as Direkteur van Gehoorontwikkeling en -Opvoeding by die Kunstekaapteater aangesluit. Sy het die aangesig van die Kunstekaap se gehore, kunstenaars en programmering verander, en was onwrikbaar in haar bemagtiging en ondersteuning van benadeelde groepe om vervullende loopbane in die kunste te vind.

Sy het uitreikprojekte ingestel wat wissel van teaterwaarderingswerksessies tot die neem van volledige produksies, saam met werksessies en opvoedkundige teater, na landelike gebiede en gemeenskappe waar kuns- en kulturele geleenthede beperk is.

Le Roux word plaaslik en internasionaal erken vir haar gebruik van die kunste om maatskaplike samehorigheid te skep en vir die bevordering van kunstenaars met gestremdhede.

Sy is die ontvanger van, onder anderemeer, die Franse Chevalier dans l'Ordre national du Merite (ʼn Franse ridderskaps- merietetoekenning), die Mkodaba-toekenning van die nasionale Departement van Kuns en Kultuur vir haar werk om die teater vir almal toeganklik te maak, en die Statebond se 'Point of Light'-toekenning.

Nicky Newton-King

Die graad Doktor in die Regte (LLD), honoris causa, is aan Nicky Newton-King toegeken vir vir haar visioenêre leierskap en bydrae tot die transformasie en versterking van die Suid-Afrikaanse ekonomie; vir haar toewyding aan die ontwikkeling en implementering van Suid-Afrikaanse finansiële wette en regulasies; vir haar toewyding aan die ontwikkeling van ʼn nuwe geslag leiers; en vir haar merkwaardige prestasies in die sakesektor.

Newton-King het in haar aanvaardingstoespraak gesê dit is ʼn eer om in die geselskap van gesiene voormalige ontvangers van eredoktorsgrade aan die US te wees. Sy het die US geloof vir “die koers wat dit ingeslaan het ten einde die universiteit in staat stel om ʼn bydrae te lewer tot die bou van ʼn land wat vir al sy mense daar is."

Newton-King, die voormalige hoof-uitvoerende beampte (HUB) van die Johannesburgse Effektebeurs (JSE), is ʼn baanbreker wat ʼn blywende bydrae op die gebied van die regte en handel in Suid-Afrika (SA) gelewer het.

Newton-King, wat haar loopbaan as ʼn handelsprokureur begin het, was die eerste vrou om in sy geskiedenis van 125 jaar aan die hoof van die JSE te staan. In ʼn loopbaan van 23 jaar by die JSE, het sy verskeie uitvoerende posisies beklee en was agt jaar lank die adjunk-HUB voordat sy as die HUB aangestel is.

Sy was die dryfkrag agter beduidende mylpale, waaronder die demutualisering en notering van die JSE, en die aankoop van die SA Termynbeurs en die Verbandbeurs van SA. Sy het die JSE gelei deur die suksesvolle implementering van groot tegnologieprojekte wat die organisasie se verhandelings- en verrekeningsdiensaanbod omvorm het en voorspraak gemaak het vir die belangrikheid van die sakewêreld se maatskaplik-verantwoordelike deelname aan kwessies wat noodsaaklik is vir die nasionale agenda. Hierdie inisiatiewe het grootliks bygedra tot die JSE se posisie as een van die voorste multibateklas-beurse.

Newton-King is gekies as een van die Wêreld Ekonomiese Forum se 100 Globale Leiers vir Môre en is ook ʼn ontvanger van die Suid-Afrikaanse Sakevrou van die Jaar-toekenning.

Prof John Volmink

Die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd), honoris causa, is aan prof John Volmink toegeken vir sy visioenêre en innoverende leierskap met die rig van kurrikulumhervorming in die Suid-Afrikaanse onderwyssektor; vir sy toewyding aan uitnemendheid en die kern-intellektuele dimensies van opvoedkunde, naamlik kennisvorming, onderrig en leer; en vir sy voortgesette toewyding aan die verbetering van die gehalte van en toegang tot onderwys in Afrika.

Volmink het gesê dit is vir hom ʼn besondere eer om ʼn eredoktorsgraad van die US te ontvang.

“Ek is trots daarop dat ek van vandag af tel onder die alumni van hierdie vooraanstaande instelling en die elite en die Fakulteit Opvoedkunde vir wie se leierskap en intellektuele bydrae ek groot agting het." Hy het die belangrikheid van opvoeding beklemtoon en bygevoeg dat “ons toekoms bepaal sal word deur die mate waartoe ons aandag gee aan die professionele voorbereiding en behoud van diegene wat vir die opvoeding van ons kinders verantwoordelik is."

Deur sy uitsonderlike leierskapsvaardighede het Volmink ʼn buitengewone bydrae tot die opvoedkunde in Suid-Afrika gelewer. Die impak van sy bydrae word op alle vlakke van die Suid-Afrikaanse onderwysbedryf – van skoolvlak tot en met hoër onderwys – en in die Suid-Afrikaanse samelewing in die breë ervaar.

Volmink, die voorsitter van Umalusi, die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding, het sy loopbaan as ʼn hoërskoolonderwyser begin en later verskillende onderwys- en bestuursposte aan plaaslike en internasionale universiteite beklee. Behalwe vir sy bewese leierskap in hoër onderwys, het Volmink beduidende bydraes tot die onderwys gelewer, veral ten opsigte van kurrikulumhervorming, die bevordering van wiskunde-onderrig en die gehalteversekering van onderwys in Suid-Afrika ná apartheid. Elke minister van onderwys ná apartheid het hom versoek om ʼn leiersrol in die transformasie van onderwys in Suid-Afrika te speel.

Hy het ook reeds sy diepe toewyding aan ontwikkeling in Afrika getoon deur sy voorsitterskap en vestiging van talle organisasies sonder winsbejag. Die grootste hiervan is die opvoedkundige organisasie, MIET Africa, wat in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapstreek werksaam is. Die organisasie werk met kwesbare jeug, en deur die programme wat aangebied word, word probeer om die kennis, vaardighede, waardes en ingesteldhede te ontwikkel wat die jeug in staat sal stel om aktiewe en verantwoordelike burgers te word.

  • ​Klik hier vir ʼn video van prof Marlene van Niekerk se aanvaardingstoespraak.
  • Kilk hier vir ʼn video van die ander eregraduandi se aanvaardingstoesprake.

 Foto: Marlene van Niekerk, John Volmink, Marlene le Roux, Nicky Newton-King en Frederick Brand spog met hul eredoktorsgrade. Fotograaf: Stefan Els