Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Periperi U/UNDP-kursus help bou ramprisikovermoë in Sahel
Outeur: SU International
Gepubliseer: 13/12/2021

​Periperi U, 'n vennootskap van Afrika-universiteite wat plaaslike ramprisikobestuursvermoë bou, het onlangs 'n vier weke lange aanlyn kursus oor klimaats- en ramprisikofinansiering (KRRF) aangebied. Die kursus, wat in samewerking met die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) saamgestel is, het op die Sahelstreek van Afrika – die halfdorre streek vanaf Senegal ooswaarts na die Soedan – gekonsentreer.

Kenners van die Universiteit Stellenbosch (US) (waar die Periperi U-sekretariaat geleë is), die Universiteit van Antananarivo (Madagaskar) en die bedryf het saamgewerk om die program van 16 November tot 9 Desember 2021 aan te bied. Onderrigmetodes het virtuele klaskamers, eietempostudie en groepwerk ingesluit en alle afdelings is in sowel Frans as Engels aangebied.

“Die KRRF-kursus was die tweede kortkursussamewerking tussen die UNDP en die Universiteit Stellenbosch," verduidelik Alberto Francioli, programbestuurder van die Periperi U-sekretariaat. “Dit het gekonsentreer op staatsamptenare en praktisyns van die Sahelstreek, wat as een van die kwesbaarste wêrelddele beskou word. Die doel was om die streek se vermoë te bou om veerkragtiger te wees teen die finansiële skokke en impak van rampe en klimaatsverandering." Die Sahel is bekend vir wydverspreide voedseltekorte en hongersnood, herhaalde droogtes en wankelrige ekonomieë.  

“Hierdie kursus getuig van die toenemende belangstelling in, en die Afrikawye besef van die belang van, 'n begrip van klimaatsverandering en ramprisiko om veerkragtiger en volhoubaarder gemeenskappe in Afrika te bou," sê Francioli. 

Die amptenare van die Sahel sowel as verteenwoordigers van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (ECOWAS) en die Afrika-uniekommissie het ingeskakel om meer oor die grondbegrippe van KRRF te leer. Dit het ingesluit 'n begrip van die oorhoofse landskap van klimaats- en ramprisikofinansieringsbronne op nasionale en internasionale vlak, die toepassing van risikokonteksstudies, kennis van KRRF-instrumente en hulle toepassing, en weervoorspellingsmeganismes.

Deelnemers het in die eerste week die komplekse risiko-omgewing in Afrika bestudeer, en ramprisikovermindering en KRRF is as noodsaaklike instrumente in die streek se risikotemperingsarsenaal bevestig. Die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte het ter sprake gekom, en so ook die verband tussen hulpbronbestuur en -toekenning en die klimaats- en ramprisikokwessies waarvoor nasies oor die hele vasteland te staan kom.

Die onderwerp van die tweede week was KRRF-instrumente en -gereedskap in Afrikaverband. Aanbieders het sowel Sahel-gebaseerde as internasionale gevallestudies gebruik om die toepassing van hierdie finansieringsinstrumente en -gereedskap, waaronder gebeurlikheidsfinansiering en parametriese versekering, te illustreer. In die derde week het die klem verskuif na die toepassing van KRRF-verwante navorsing, data en evaluerings om bewysgegronde ramprisikovermindering en klimaatsveranderingsaanpassing en -tempering in werking te stel.

Fasiliteerders het die laaste week van die kursus daaraan gewy om praktiese leiding te bied oor hoe deelnemers doeltreffende KRRF-strategieë en -aksies vir hulle onderskeie lande kan implementeer.

* Vir verdere inligting oor Periperi U se ramprisikoverwante kortkursusse, gaan na www.riskreductionafrica.org of e-pos Alberto Francioli by albertofrancioli@sun.ac.za.