Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Fontein van kennis is nimmereindigend' vir 83-jarige ontvanger van doktorsgraad
Outeur: Sue Segars
Gepubliseer: 13/12/2021

​Toe die 83-jarige Antoinette Swart vandeesweek haar doktorsgraad in Antieke Kulture ontvang het, was dit haar sesde graad wat sy aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. 

Swart, wat glo 'n mens kan nooit ophou om te leer nie, sê dit het “onwerklik" gevoel om haar doktorsgraad op so 'n hoë ouderdom te ontvang. 

“Ek het nie regtig beplan om nog 'n graad te voltooi nie, maar twee vriende wat albei professors by die Universiteit Stellenbosch is, het my oorreed. Ek het daaroor nagedink en toe besluit, “wel, waarom nie?'," vertel sy. 

Swart, wat op George woon, se leuse is “carpe diem" en glo 'n mens moet elke geleentheid “na die beste van jou vermoë" aangryp. “Dit verg tyd en deursettingsvermoë, maar die beloning is ewigdurend." 

Sy het Persepolis (die antieke seremoniële hoofstad van die Achaemenidiese Ryk) twee keer vir haar doktorale studie besoek om die monumente te bestudeer en sy beskryf hierdie ondervinding as “ongelooflik". 

“Ek het 'n baie sterk verbeelding en kon dus al die pilare wat omgeval het, weer in my geestesoog sien regopstaan …" 

Swart, wat op 16-jarige ouderdom aan die Hoërskool Rustenburg in Noordwes gematrikuleer het, het altyd daarvan gedroom op Stellenbosch te gaan studeer. Dit was te danke aan al die stories wat haar pa – 'n oud-Matie – gedurende haar kinderjare vertel het.  

Sy behaal in 1957 haar eerste graad aan die US toe sy 'n BSc (Plant- en Dierkunde) ontvang. Hierna volg 'n BSc-honneurs (cum laude) in Plantkunde in 1958 en 'n MSc (Plantkunde) in 1960. In 2011 behaal sy 'n BPhil-graad in Bybelinterpretasie en in 2013, op 75-jarige ouderdom, haar MPhil in Bybelinterpretasie (cum laude). Sy het ook twee nagraadse diplomas – onderskeidelik in biblioteekkunde en hoër onderwys – van UNISA. 

“Die fontein van kennis is nimmereindigend en daar is so baie om te leer," sê Swart, wat deur haar ma as 'n “professionele student" beskryf is. 

Sy skryf haar liefde vir die akademie aan haar ma se invloed toe. “Ondanks haar moeilike kinderjare, het sy ons huis met boeke en klassieke musiek gevul. Ek is seker dit is waar dit alles begin het." 

Swart was as jong gegradueerde eers 'n junior lektor in Plantkunde by die US voordat sy as tegniese navorsingsbeampte by die Vrugtenavorsingstasie op Stellenbosch begin werk het. Terwyl haar man verder gestudeer het op die landboukampus van die Universiteit van Toronto, het sy as 'n navorsingsassistent in die Plantkunde-departement gewerk. Sy was daarna vir tien jaar lank voltyds ma voordat sy tot die onderwys toegetree het. Sy het eers Biologie by Grey-kollege in Bloemfontein en by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gegee voordat sy 'n senior dosent in Plantkunde by die Onderwyskollege vir Voortgesette Opleiding geword het. Sy was ook waarnemende dosent in die Didaktiek van Biologie by UNISA vir ses maande. Sy het opgehou werk toe haar man afgetree het, maar was jare lank 'n aktiewe vrywilliger by die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad. 

Swart sê dit is vir haar moeilik om 'n gunstelinggraad uit te sonder: “Die drie grade wat in-diepte navorsing vereis het, staan beslis uit," sê sy. 

Een van die hoogtepunte van haar akademiese loopbaan was die navorsing vir haar MSc in Botanie waarvoor sy dae lank agter 'n mikroskoop gespandeer het om selle te bestudeer. Nog 'n hoogtepunt was die navorsing vir haar MPhil in Bybelinterpretasie, “Let the Windows Speak". Dit het behels om te kyk hoe die Bybelstories in die gebrandskilderde vensters van drie Middeleeuse katedrale in Frankryk en drie in Engeland hul boodskap aan hoofsaaklik ongeletterde gehore uitgebeeld het. 

“Nog 'n hoogtepunt was die lang reis in die oudheid in vir my PhD wat my belangstelling in geskiedenis en kuns laat saamsmelt het," sê sy. 

Wat lê nou vir haar voor? Swart sê sy hoop om saam met haar kleindogter, Elanij Swart, 'n paar artikels te laat verskyn. Elanij het ook pas haar PhD in Bybelse Argeologie aan UNISA verwerf. 

Sy beplan ook om haar uitgebreide versameling skulpe van regoor die wêreld te klassifiseer en om haar memoires “op versoek van my kleinkinders" te skryf. 

Wanneer sy nie besig is om te studeer nie, reis, lees en luister Swart graag na klassieke musiek en spandeer sy tyd saam met haar man, kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. “Ek wil die lewe geniet terwyl ek kan. As die dag eers om is, kom dit nooit weer terug nie."