Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele AvOL-konferensie 2021
Outeur: Dr Anthea Jacobs
Gepubliseer: 16/11/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) se Akademieskap van Onderrig en Leer- (AvOL-)konferensie vir 2021 het plaasgevind teen die agtergrond van voortslepende uitdagings met onderrig, leer en assessering weens die wêreldwye pandemie, en die gevolglike aanpassing by aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA). Deelnemers aan die virtuele konferensie kon by werksessies, hoofsessies en aanbiedings inskakel. Vanjaar se oorhoofse tema was “(Y)our assessment matters".

In sy verwelkomingstoespraak het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê: “Die US heg groot waarde aan assessering as 'n dryfveer vir leer by sowel studente as dosente, vandaar ons hoë sukses- en lae uitsaksyfer." Prof Ramjugernath het voorts benadruk dat die Universiteit se assesseringsukses nie toevallig is nie, maar te danke aan doelgerigte inisiatiewe soos die AvOL-konferensie.

Die AvOL-konferensie, waarvoor die Afdeling Leer- en Onderrigverryking elke jaar die reëlings behartig, bied 'n jaarlikse platform waar akademici onderrig- en leerpraktyke en -navorsing uitruil en vier. Dit bied ook 'n geleentheid om alle aspekte van onderrig en leer by die Universiteit in 'n oop, ondersteunende en intellektueel stimulerende atmosfeer te bespreek. Vakkundiges en dosente van verskeie US-fakulteite het vanjaar weer hulle navorsing, innovasies en oordenkings aangebied, by mekaar geleer en ontluikende vakkundiges geïnspireer.

Een van die hoogtepunte op die program was die hoofrede deur prof David Boud, Alfred Deakin-professor en stigtersdirekteur van die Sentrum vir Navorsing in Assessering en Digitale Leer aan Deakin-universiteit, Melbourne, en emeritus professor aan die Universiteit vir Tegnologie in Sydney, Australië. Prof Boud se aanbieding het gehandel oor hoe assessering en terugvoer studente se evalueringsvermoë kan help ontwikkel. Hy het voorgestel dat ons nie te veel klem plaas op assesseringspunte nie, maar eerder daarop konsentreer om studente se selfassesseringsvermoëns met die oog op lewenslange leer te help ontwikkel.

Deelname aan die konferensie het sedert die eerste aflewering in 2007 sterk toegeneem. Vir vanjaar se MS Teams-geleentheid was daar 56 aanbiedings op die program, en 248 geregistreerde deelnemers het ingeskakel.

Ander hoogtepunte van die konferensie was 'n hoof- en slotpaneelbespreking. In die hoofpaneelbespreking met die onderwerp “How care-full assessment can enhance student learning" kon deelnemers na bestuurslede, dosente, studente en steunpersoneel se bydraes luister. Studente het klem gelê op die waarde van assesseringsdeursigtigheid en -terugvoer. Laasgenoemde is veral in formatiewe assessering 'n belangrike beginsel. Die onderwerp van die slotpaneelbespreking was “Re-imagining assessment culture and practices for a transformative student experience". In hierdie sessie het deelnemers assessering as 'n tweerigtinggesprek tussen die dosent en die student ondersoek en gevier.

Die verrigtinge het op 'n hoë noot geëindig met die aankondiging van vanjaar se beste aanbiedings. Die volgende bydraes is as die beste in hulle onderskeie kategorieë aangewys (die foto's van die wenners is hier beskikbaar):

  • Navorsingskategorie: “Being and becoming a master of Health Professions Education" deur me Mariette Volschenk, prof Susan van Schalkwyk (albei van die Sentrum vir Gesondheidsberoepsonderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) & prof Eli Bitzer (Sentrum vir Hoër en Volwassene-onderwys, Fakulteit Opvoedkunde)
  • Innovasiekategorie: “Engineering report-writing peer learning system" deur prof Craig McGregor (Fakulteit Ingenieurswese)
  • Oordenkingskategorie: “The evolving role of an academic online mentoring programme" deur mnr Juan Ontong, me Sher-Lee Arendse-Fourie & me Chrystal Schonken (Skool vir Rekeningkunde)
  • Deelnemerskeuse: “Let's let them 'cheat'! Group work in a summative assessment setting" deur prof Gareth Arnott, dr Margaret Blackie & dr Catherine Kaschula (Fakulteit Natuurwetenskappe)
  • Beste PRONTAK-plakkaat (deur konferensiedeelnemers aangewys): “Interactive content assessment in counter-intelligence theory: assessing cognitive learning in reading, comprehension and writing" deur deur kapt dr Dries A Putter; lt kol dr Susan Henrico; lt kol dr Marcel Reutener; kol Hlengiwe Mkhize; & mnr Godfrey Ramuhlala (Fakulteit Krygskunde)

Al die konferensiesessies en -aanbiedings is opgeneem, en is op Sharepoint te kry. Gaan gerus ook na die konferensiewebtuiste by https://www0.sun.ac.za/sotl/ vir verdere inligting oor die res van die program én vir toegang tot opsommings van alle aanbiedings.

deur Dr Anthea H M Jacobs

US AvOL Konferensiekonvenor​