Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Goue Veritas-medalje vir wyn uit universiteitskelder
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 16/11/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Welgevallen Wynkelder se Die Laan Merlot 2019 het vanjaar goud gewen by die 31ste Veritas-toekenningsgeleentheid. Daarby het drie ander wyne uit dié kelder ook  een silwer uitstaande en twee silwer medaljes ontvang.

'n Uitstaande silwer-medalje is toegeken aan Die Laan Merlot 2019 Reserve, en silwer aan Die Laan Cabernet Sauvignon/Shiraz 2019 en Die Laan Chenin Blanc Reserve 2019.

Die Veritas-toekenningsgeleentheid word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging aangebied. Dit is die toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynindustrie met die langste geskiedenis.

Wynmaker Riaan Wassung is 'n alumnus van die US se Departement Wingerd- en Wynkunde en is sedert 2004 by die Welgevallen Kelder betrokke.

Hy sê die medaljes bied 'n verblydende silwer rand rondom 'n donker jaar waarin hy onder meer weens COVID-19 komplikasies gehospitaliseer moes word.

“Ek het nie geweet hoe my toekoms daarna sou uitsien nie. Ek is dankbaar ek is daardeur, en dat ek nog hier is om 'n verskil te kan maak. Ek is vol vertroue dat daar nog vele medaljes op pad is – kwaliteit en 'n produk van gehalte is tog die enigste maatstaf as dit by wyn kom," vertel Wassung.

“Die afgelope jare se prestasies dui daarop dat ons goeie wyne maak, en met trots die kelder en die US se naam hoog kan hou."

Hy nooi lede van die publiek uit om die nuwe wyne wat nou vrygestel word te proe en aan te koop.

  • Die Welgevallen Kelder maak deel uit van die US Fakulteit Agriwetenskappe. Die US is die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat wingerd- en wynkunde as studieveld aanbied. Daarby lewer die US ook deur verskeie verwante inisiatiewe 'n belangrike bydrae op navorsingsgebied.
  • Vir bestellings, kontak Wassung by winesales@sun.ac.za of 021 808 2925, of besoek die Welgevallen Kelder tydens werksure. Dis geleë tussen Paul Roos Gimnasium en Coetzenburg op Stellenbosch. Vir meer inligting, besoek www.facebook.com/DieLaanWines.

 ​