Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-kanselier een van die ontvangers van Nasionale Ordes
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 11/11/2021

​Die Kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), oudregter Edwin Cameron, sal later vandeesmaand 'n Nasionale Orde ontvang. Dié aankondiging is gister (10 November 2021)​ deur die kanselier van die Nasionale Ordes en die direkteur-generaal in die Presidensie, me Phindile Baleni, gedoen.

Volgens 'n mediaverklaring wat deur die Presidensie uitgereik is, is die Nasionale Ordes die hoogste toekennings wat Suid-Afrika aan sy burgers en hoog aangeskrewe buitelanders toeken wat tot die bevordering van demokrasie in die land bygedra het en wat 'n groot rol gespeel het om Suid-Afrikaners se lewens te verbeter. Dit gee ook erkenning aan individue se bydraes tot die uitbouing van 'n nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en voorspoedige Suid-Afrika.

Oudregter Cameron sal die Orde van die Kremetart (goud) ontvang wat erkenning gee aan Suid-Afrikaanse burgers wat 'n bydrae gelewer het tot gemeenskapsdiens, die sakewêreld, die ekonomie, die wetenskap, geneeskunde en tegnologiese innovasie.

Volgens Baleni ontvang oudregter Cameron erkenning vir sy “bydrae tot die regstelsel en sy onvermoeide kampvegterswerk teen die stigma van MIV/vigs, en vir die regte van lesbiese, gay-, biseksuele, transgender-, queer-, interseksuele en aseksuele (LGBTQIA) gemeenskappe".

Prof Wim de Villiers, die Rektor en Visekanselier van die US, het in reaksie op die aankondiging gesê oudregter Cameron is 'n uitstekende voorbeeld van die soort leier wat Suid-Afrika dringend nodig het.

“Edwin Cameron is een van daardie skaars soort mense wie se intellek deur sy empatie en deernis geëwenaar word. As 'n regter in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika het hy die toppunt van sy professionele loopbaan bereik. As 'n aktivis het hy die lewens van soveel mense beïnvloed, veral diegene binne die LGBTQIA+-gemeenskap – en hy doen dit steeds.

“En as Kanselier van die US was sy bestendige en bedagsame optrede tydens die pandemie van onskatbare waarde vir die hele US-gemeenskap. Hy verdien beslis hierdie eer."

Die ander kategorieë sluit in die Orde van Mendi vir dapperheid, die Orde van Ikhamanga, die Orde van Luthuli en die Orde van die Metgeselle van OR Tambo. Klik hier om meer te lees oor die ander ontvangers.

President Cyril Ramaphosa sal die ordes by 'n seremonie op 18 November 2021 oorhandig.

Meer oor oudregter Edwin Cameron

Die US het in 2015 'n eredoktorsgraad aan oudregter Cameron toegeken vir sy “volgehoue professionele en persoonlike voorspraak vir die erkenning van elkeen se menswaardigheid, vryheid en gelykheid – fundamentele waardes wat hy in ons én ander se regsbestel help veranker het". Hy het die Suid-Afrikaanse reg so help ontwikkel dat dit waarlik die fundamentele waardes van die Grondwet weerspieël. Boonop maak sy rol om seksuele oriëntasie as verbode grond van diskriminasie in die Handves van Regte te laat opneem, en sy voorspraak vir persone met MIV/vigs, hom 'n kernspeler in die Suid-Afrikaanse én wêreldreg.

Oudregter Cameron het aan die universiteite van Stellenbosch, Oxford en Suid-Afrika studeer. Hy het sy loopbaan by onder meer die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudie begin voordat hy in 1994 as senior advokaat (SC) en later daardie selfde jaar deur president Nelson Mandela as waarnemende regter in die hooggeregshof aangewys is. Hy is in 1995 as 'n regter in die hooggeregshof aangestel, in 2001 as regter in die Hoogste Hof van Appèl, en in 2009 as regter in die Konstitusionele Hof.

As die eerste Suid-Afrikaner in 'n hoëprofiel-openbare amp wat openlik oor sy MIV-status en ervaring van antiretrovirale middels (ARV's) gepraat het, is oudregter Cameron se bydrae tot meer toeganklike ARV-behandeling vir alle MIV-positiewe Suid-Afrikaners geloofwaardig en gedug.

Sy internasionale impak as toonaangewende regsgeleerde met byna 200 uitsprake agter sy naam, bekroonde outeur en gewilde spreker blyk uit die etlike eerbewyse wat hy al ontvang het. Dít strek van erkenning deur die balie van Engeland en Wallis vir sy bydrae tot internasionale regspleging en menseregtebeskerming, tot die prestigeryke toekenning Grand Prix du Conseil Québécois des Gais et Lesbiennes in Montreal.

Oudregter Cameron is die ontvanger van verskeie eredoktorsgrade en 'n beskermheer vir kinderhuise, klinieke en verenigings.

  • Die Kanselier is die titulêre hoof van die Universiteit, sit voor by gradeplegtighede en ken alle grade, diplomas en sertifikate in die naam van die Universiteit toe.