Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Edwin Cameron nuwe Kanselier van die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Corporate Communication Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 25/09/2019

Regter Edwin Cameron, akademikus, regsgeleerde, outeur en pas afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, is vandag (25 September 2019) tot Kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) verkies.

'n Kieskollege wat bestaan uit lede van die Raad, lede van die Uitvoerende Komitee van die Senaat sowel as die president en visepresident van die Konvokasie van die US het vanoggend byeengekom om die instelling se 15de Kanselier te kies.

Regter Cameron, 'n US-alumnus en ontvanger van 'n eredoktorsgraad van die instelling in 2015, is met 'n groot meerderheid van stemme verkies.

“Dit is vir my 'n eer en voorreg om die geleentheid te hê om die US en sy gemeenskappe te dien, en ek sien uit na my nuwe verantwoordelikhede," het regter Cameron gesê.   

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, en voorsitter van die kieskollege, het gesê: “Dis ʼn voorreg om iemand van regter Edwin Cameron se statuur as Kanselier van die Universiteit te hê. Hy is ʼn kampvegter vir menseregte en spog met ʼn voortreflike regsloopbaan. Ek sien daarna uit om met hom saam te werk. Ons bedank ook graag ons huidige Kanselier, dr Johann Rupert, vir sy harde werk en hulp gedurende sy termyn, wat aan die einde van die jaar verstryk."

Ook mnr George Steyn, voorsitter van die Raad van die US, het regter Cameron se verkiesing verwelkom, terwyl me Carli van Wyk, uittredende voorsitter van die Studenteraad (SR) en lid van die Raad, die aankondiging as goeie nuus beskryf het én uitgelig het dat regter Cameron in sy studentedae aan die US in die SR gedien het.

Die US het in 2015 'n eredoktorsgraad aan regter Cameron toegeken vir sy “volgehoue professionele en persoonlike voorspraak vir die erkenning van elkeen se menswaardigheid, vryheid en gelykheid – fundamentele waardes wat hy in ons én ander se regsbestel help veranker het". Hy het die Suid-Afrikaanse reg so help ontwikkel dat dit waarlik die fundamentele waardes van die Grondwet weerspieël. Boonop maak sy rol om seksuele oriëntasie as verbode grond van diskriminasie in die Handves van Regte te laat opneem, en sy voorspraak vir persone met MIV/vigs, hom 'n kernspeler in die Suid-Afrikaanse én wêreldreg.

Regter Cameron het aan die universiteite van Stellenbosch, Oxford en Suid-Afrika studeer. Hy het sy loopbaan by onder meer die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudie begin voordat hy in 1994 as senior advokaat (SC) en later daardie selfde jaar deur president Nelson Mandela as waarnemende regter in die hooggeregshof aangewys is. Hy is in 1995 as 'n regter in die hooggeregshof aangestel, in 2001 as regter in die Hoogste Hof van Appèl, en in 2009 as regter in die Konstitusionele Hof.

As die eerste Suid-Afrikaner in 'n hoëprofiel- openbare amp wat openlik oor sy MIV-status en ervaring van antiretrovirale middels (ARV's) gepraat het, is regter Cameron se bydrae tot meer toeganklike ARV-behandeling vir alle MIV-positiewe Suid-Afrikaners geloofwaardig en gedug.

Sy internasionale impak as toonaangewende regsgeleerde met byna 200 uitsprake agter sy naam, bekroonde outeur en gewilde spreker blyk uit die etlike eerbewyse wat hy al ontvang het. Dít strek van erkenning deur die balie van Engeland en Wallis vir sy bydrae tot internasionale regspleging en menseregtebeskerming, tot die prestigeryke toekenning Grand Prix du Conseil Québécois des Gais et Lesbiennes in Montreal.

Regter Cameron is die ontvanger van verskeie eredoktorsgrade en 'n beskermheer vir kinderhuise, klinieke en verenigings.

  • Die Kanselier is die titulêre hoof van die Universiteit, sit voor by gradeplegtighede en ken alle grade, diplomas en sertifikate in die naam van die Universiteit toe. Die Kanselier beklee die amp vir vyf jaar en is herkiesbaar vir een verdere termyn van vyf jaar.