Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die SLT by die US is die tuiste van Telematiese Dienste se hipermoderne interaktiewe uitsaai-ateljee
Outeur: Christina Harvett
Gepubliseer: 03/11/2021

Telematiese dienste is 'n mengsel van inligtings- en telekommunikasietegnologieë wat inligting oor groot netwerke versprei. Dit stel studente in staat om, ongeag waar hulle is, met dosente te gesels in virtuele leerruimtes wat ten volle interaktief is. Telematiese Dienste bestuur 'n tegnologieplatform wat satelliet-, stromings- en selfoontegnologie integreer. Die ateljee op kampus saai uit na 22 verspreide leersentrums regoor Suider-Afrika en duisende skole landwyd, asook regstreekse internetstroming oor die wêreld heen. 

 

Die telematiese platform is ook vir eksterne kliënte beskikbaar wat dit kan gebruik om hul korporatiewe opleiding en professionele ontwikkelingsaanbod te verbeter en om aanlynkonferensies en virtuele gebeurtenisse aan te bied. Die Telematiese span is beskikbaar om kliënte by te staan en leiding te gee oor hoe om tegnologie doeltreffend vir hul spesifieke behoeftes te gebruik. Die sentrum bied verskeie aanlynkonferensie- en werkswinkelmoontlikhede en stel pasgemaakte pakkette saam wat op kliënte se behoeftes gegrond is.

Die uitsaai-ateljee se span is ervare en die toerusting wat hulle gebruik, is van die jongste en mees betroubare toerusting wat perfek by kliënte se behoeftes pas. Ons ateljee in Admin A is toegerus met alles wat ons nodig het om opnames en HD-uitsendings van uitstaande gehalte te vervaardig. Die toerusting sluit HD-kameras, LED-ligte en Shure-mikrofone in. 

 

Die opgeknapte informele stel het verskeie agtergronddoeke om verskillende stelontwerpe te doen afhangend van die soort opname of gebeurtenis. Die ateljee het ook 'n ligbord om 'n meer wetenskaplike atmosfeer te skep, wat kliënte in staat stel om werk aan studente in neonkleure te verduidelik. Vir enige virtuele plek of agtergrond kan ons die groenskerm gebruik om jou enige plek op die aarde – of selfs in die ruimte – te plaas. Die ateljeepersoneel kan ook opnames of stromings buite die ateljee behartig. Die Panasonic HD-mobiele kameras en die Canon Cinema EOS C200 bring tegnologie tot waar dit nodig is. Die regstreekse uitsendings sluit ook die opname van 'n gebeurtenis in wat ná die tyd geredigeer en gepubliseer kan word. ​

Interne kliënte kry voorkeur met mededingende pryse wat jy nêrens anders in die mark sal vind nie.​