Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stad Johannesburg se Dr Jairam-Owthar nuwe IT hoof by Universiteit Stellenbosch
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 28/10/2021

​Op die jong ouderdom van 39 jaar het Dr Denisha Jairam-Owthar al meer in haar loopbaan bereik as wat die meeste mense net van kan droom. Haar curriculum vitae neem jou op haar akademiese en professionele reis. Deurgaans is daar toekennings van uitnemendheid of 'n uitstaande prestasie wat opduik: akademiese kleure in matriek, 'n cum laude MBA-graad en beste student in tegnologiebestuur, die jongste persoon in die geskiedenis van Unisa se Nagraadse Skool vir Besigheidsleierskap om haar doktorsgraad te ontvang, die suksesvolste en innoverendste opkomende ster in die SAID, direkteur op verskeie direksies, mentor vir interns en jong swart vroue in die IKT-sektor, skrywer van vele nagevorsde en akademiese referate, beste inligtingshoof in die openbare sektor in 2020, en so gaan die lys nog aan.

Jairam-Owthar verruil binnekort 'n baie warm stoel as Hoofinligtingsbeampte by die Stad Johannesburg vir 'n ander (warm genoeg) een in die Universiteit Stellenbosch se Informasietegnologie-gebou. En, om nog 'n "eerste" by haar CV te voeg: sy sal die eerste vroulike Hoofdirekteur: Inligtingstegnologie in die geskiedenis van die US wees.

Sy was die afgelope paar jaar een van die groot dryfvere agter 'n dramatiese IT-transformasie by die Stad Johannesburg. Onder haar leierskap het IT getransformeer van 'n ondersteuningsfunksie na die stad se strategiese spilpunt. Sy het by die munisipaliteit aangesluit in 'n tyd toe betaalstrokies vir die groot personeelkomponent van sowat 35 000 mense nog op papier gedruk was.

"Ek werk in 'n veeleisende, maar fantastiese ruimte. Ek glo my huidige rol het my gevorm en baie geleer. Dit het my voorberei vir wat ek as my nuwe rol sien: om onderwys deur tegnologie by die US 'n werklikheid te maak. Ek glo informasietegnologie is 'n kritieke instaatsteller in die transformasie van onderwys. Ek bring alles wat ek geleer het, saam."

Sy sê ons leef in tye waar digitale aktivering die enigste manier is waarop sommige organisasies kan voortgaan. "Ek voel ek betree die US in 'n baie goeie tyd op sy reis. Ons sal hierdie uitstappie stap-vir-stap moet neem en ons belanghebbendes se behoeftes noukeurig langs die pad moet bepaal, want ons speel nou in die ruimte vir aanlyn-leer en -onderrig. Ons moet voorsiening maak vir digitale instaatstelling vir navorsingsintensiteit. Hoe sal IT dit moontlik maak? Hoe gaan ons 'n PhD-student met 'n deskundige op enige plek in die wêreld intyds kan verbind?"

Jairam-Owthar sê om so jonk in IT te wees, hou baie voordele in. "Ek was tot dusver doelbewus oor my reis en het verseker dat ek op hoogte bly van my vakgebied. Ek weet wat in ons bedryf gebeur, en ek verstaan hoe om dinge vir IT bymekaar te bring. Meer nog, om daardie waarde na die organisasie te bring. Dit moet eg wees, dit moet gevoel word, en dit moet relevant wees vir die US se behoeftes," sê Jairam-Owthar, wat lief is vir die onvoorspelbare. "Ek kan by my kantoor instap, en die dag kan op sy kop draai, en ek hou daarvan. Die onvoorspelbare toets jou op elke faset en maak jou maak wie jy is."

Die akademie is vir haar niks nuuts nie. As mentor vir baie Meesters- en PhD-studente en iemand wat gereeld navorsings- en akademiese referate skryf, het sy haar passie vir die akademiese wêreld lewend gehou. Alhoewel die besluit om na die US te kom, nie maklik was nie, sê Jairam-Owthar, was haar hart nog altyd in die onderwys. “Dit is werklike hartswerk: my doel. Ek is opgewonde om te dink oor die krag wat digitaal tot onderwys kan bring en om dit met my vaardighede te laat ontkiem."

Sy het haar reis begin met administratiewe werk in New York en Londen, omdat sy geld nodig gehad het om vir haar tersiêre opleiding te betaal. Sy het 'n BCompt Honneursgraad in Rekeningkundige Wetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal voltooi, en daarna, terwyl sy gewerk het, verder studeer en 'n MBA in Tegnologiebestuur voltooi. Daarna het sy haar DBL-studie oor drie jaar aan Unisa voltooi.​

Haar werksloopbaan strek vanaf die jaar 2007 waar sy as 'n Besigheidsintelligensie-ontleder by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) begin het. Van die SAID het sy in Desember 2011 na Barclays verhuis en daarna by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) aangesluit waar sy die IKT-hoof van Gedeelde Dienste was.

Om deur 'n CV van 13 bladsye te lees, laat jou uitgeput en in verwondering, maar die oomblik wat jy met haar begin praat, laat haar ontspanne, kalm en gemaklike gesprekstyl jou besef dat jy nie IT-jargon hoef te verstaan om haar te verstaan nie. Sy weet wat dit beteken en sal verseker dat die resultate vanself sal spreek.

Mens kan nie help om te wonder hoe sy al die balle in die lug hou met boonop genoeg tyd om 'n ma vir haar 4-jarige seun, Sanchen, te wees nie. "Ek het 'n baie, baie, baie ondersteunende man en ma," sê Jairam-Owthar met selfvertroue. Haar ma het haar nog altyd aangemoedig om haar 'innerlike krag' en 'ware potensiaal' te ontgin. Haar man van nege jaar en “grootste ondersteuning", Sudhir Owthar, 'n elektroniese ingenieur, is ook in die IT-bedryf by een van Suid-Afrika se innoverendste banke. "Dit sorg vir fassinerende gesprekke rondom die etenstafel," merk sy op. "Dit is wonderlik om ons kennis te deel en saam te leer, want dit is so 'n vinnige bedryf waar jy op hoogte moet wees met al die nuutste inligting wat die wêreld van tegnologie bied."

Sommige joernaliste noem haar 'n ware millennium, maar een ding is gewis: Jairam-Owthar is 'n presteerder. Onder haar vele eerbewyse is dit vir Jairam-Owthar een van haar loopbaanhoogtepunte om vroeër vanjaar deur die “World Women Leadership Congress" as “Suid-Afrika se Vroueleier" aangewys te word. “Om so erken te word was fantasties. Ek was verheug om te weet dat ek so 'n verskil in ons land gemaak het. Maar dit stop nie daar nie; Ek wil hê die US moet die voorste digitale universiteit in die land, op ons vasteland en in die wêreld wees. Ek weet ek sal die ondersteuning kry wat ek nodig het, so dit is moontlik. Ek wil hê ander universiteite moet sê: 'O my genade, hoe het hulle dit gedoen!'."

En soveel as wat sy daarna uitsien om haar nuwe tuiste in die Wynlande te vind en in haar kantoor op kampus in te trek, so sien prof Stan du Plessis, Bedryfshoof van die US ook uit na haar koms. “Sy is 'n dinamiese leier en sy sal ons dryfkrag wees wat ons in 'n toekoms gaan neem waar woorde soos SmartCampus en digitale leerruimte 'n werklikheid sal word. Ek sien geweldig daarna uit om saam met haar te werk en is vol vertroue dat sy haar span saam met haar op die reis sal neem, hulle sal blootstel aan nuwe kennis en deur mentorskap die jongmense sal voorberei om eendag leiding te neem in die wêreld van IT."

Jairam-Owthar neem vanaf 1 Januarie 2022 haar plek by IT op Stellenbosch in.​