Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Fakulteit AgriWetenskappe lewer top landboukundiges op
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/10/2021

Prof Karen Theron, 'n internasionaal erkende sagtevrugtekenner van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Hortologie, is aangewys as die Wes-Kaapse Landboukundige van die Jaar, terwyl oud-Matie dr Andries Daniels van die Landbounavorsingsraad op sy beurt erken is as die Noord-Kaapse Landboukundige van die Jaar.

Die toekennings is gemaak deur die !Xhariepstreek (wat uit die Wes-, Oos- en Noord-Kaap bestaan) van Landbouskrywers Suid-Afrika. Daardeur word die streek se boere, landboukundiges en nuwe toetreders tot die bedryf vereer. Die toekenningsgeleentheid is by die Durbanville Hills wynlandgoed in Durbanville aangebied.

Die nasionale wenners sal op 12 November aangewys word.

Prof Karen Theron
Prof Theron is sedert 1985 aan die US verbonde, en het onlangs afgetree as professor in die Fakulteit AgriWetenskappe. Haar navorsing lê klem op die voor-oesprosesse van sagtevrugte.

Sy is in 2014 aangestel in die Leerstoel vir Toegepaste Sagtevrugtenavorsing wat deur Hortgro Science en die US gefinansier is, en het in 2015 'n US-Kanselliersmedalje ontvang.

Volgens 'n persverklaring deur die organiseerders word prof. Theron nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal beskou as 'n wetenskaplike wat 'n breë impak in dié veld het, en 'n akademiese pionier vir vroue. Prof. Theron se loopbaan word gekenmerk deur volgehoue uitnemendheid, en sy word beskou as 'n rolmodel vir talle hortoloë.

Sy is veral besig met toegepaste navorsing oor sagtevrugteproduksie, en geniet studies oor plantgroeireguleerders, die uitdunning van vrugte en maniere om die kwaliteit van vrugte te verbeter.

Dié gewilde voorgraadse student het oor die jare reeds meer as 130 wetenskapspublikasies die lig laat sien, en was studieleier vir 74 meestersgraad- en 10 doktorale studente.

Dr Andries Daniels

Dr Andries Daniels is aangewys as die Noord-Kaap se Landboukundige van die Jaar. Hy het in 2006 as navorsingstegnikus by die Landbounavorsingsraad (LNR) Infruitec-Nietvoorbij aangesluit om met die evaluasie en seleksie van nuwe tafeldruifkultivars te help, en is vandag daar as senior navorser werksaam.

Volgens 'n persverklaring deur die organiseerders het sy werk oor die afgelope 13 jaar as deel van 'n projek om druiwe wat geskik is vir die maak van rosyntjies te evalueer, in 2020 tot die vrystelling van “Sundowners" gelei. Dit is die eerste rosyntjievariëteit wat in Suid-Afrika ontwikkel is. Die werk is gedoen tesame met Rosyntjies Suid-Afrika en CULDEVCO.

Dr Daniels het in 2005 sy BSc Agric-graad in Wingerd- en Wynkunde aan die US voltooi, asook verdere akademiese kwalifikasies. Hy het in 2021 sy PhD in Wingerdkunde voltooi, vir navorsing oor die gebruik van tegnologie soos na-infrarooi spektroskopie om die kwaliteit van heel tafeldruifkorrels in die wingerd en in die pakhuis te bepaal voordat trosse verpak word.

Hy is tans ook verantwoordelik daarvoor om vir boere van Eksteenskuil en Releabboga in die Noord-Kaap landboukundige raad en opleiding te gee.​