Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Transformasiekantoor die gasheer van die 5de jaarlikse Transformasie-Indaba
Outeur: Awethu Fatyela
Gepubliseer: 01/12/2021

​Op Donderdag 21 Oktober 2021 het die Universiteit Stellenbosch (US) se Transformasiekantoor die 5de Jaarlikse Transformasie-indaba sedert die intree-indaba in 2017 aangebied. Die geleentheid is in hibriede formaat aangebied en gaste wat fisiese bywoning gekies het, is by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) onthaal, terwyl die ander gaste dit virtueel bygewoon het.

Die Transformasie-indaba is ʼn jaarlikse geleentheid van die US-gemeenskap waartydens die hele Universiteit kans kry om gesamentlik oor transformasiesake te beraadslaag en om die vordering wat oor die afgelope jaar gemaak of nie gemaak is nie, te assesseer. Die geleentheid word gewoonlik voorafgegaan deur ʼn Studente- Transformasie-indaba, wat deur die Studente- Institusionele Transformasiekomitee (SITK), onder beskerming van die Institusionele Transformasiekomitee (ITK), beplan en gereël word. 

Die Transformasie-indaba van 2021 was egter anders, want dit was ʼn geslote sessie waaraan slegs die lede van die Universiteit se transformasiestrukture deelgeneem het. Dr Zethu Mkhize, Hoof van Transformasie, het verduidelik dat vanjaar se verandering nodig was om die instelling in staat te stel om sy transformasiestrukture te versterk, met hierdie drie temas as die fokus: (i) Nadenke oor en voorstelle vir ʼn meer doeltreffende ITK; (ii) Lewensvatbare maniere waarop die SITK gevestig en in stand gehou kan word; en (iii) Die rol van fakulteite en verantwoordelikheidsentra in die bevordering van transformasie. 

Die programrede van die 2021 Transformasie-indaba, naamlik “Wat beteken inklusiwiteit in die konteks van dekolonisering?", is deur prof Rozena Maart, ʼn internasionaal erkende dekoloniale vakkundige, skrywer en aktivis, en medeprofessor by die Skool vir Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, gelewer. 

Gaste is ook bederf met ʼn spesiale optrede deur die bekroonde skrywer en digter, Sibongile Fisher.