Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Wim gereed vir Kaapstad-fietstoer ten bate van #Move4Food
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 07/10/2021

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan die speke op Sondag 10 Oktober laat sing tydens vanjaar se Kaapstad-fietstoer. 'n Span van 19 fietsryers bestaande uit alumni, personeel, studente en langasemvriende van die Universiteit is slaggereed om saam die pas aan te gee.

Hierdie is natuurlik die grootste tydhou-fietswedren ter wêreld – 'n uithalergeleentheid om dan ook fondse in te samel ten bate van die student-gedrewe #Move4Food-inisiatief, wat nou ook deel is van die Universiteit se Bridge the Gap Jaarfonds.

Laat ons eers by hierdie veldtog brieke aanslaan.

“#Move4Food se doel is om voedselnood onder studente op die US se kampusse te verlig. En die nood is natuurlik deesdae meer dringend as ooit. Sedert 2018 is die veldtog op verskeie maniere goed ondersteun, maar voedselonsekerheid is nou eenmaal 'n kwessie wat daagliks aandag moet geniet," sê Siya Ndlovu, eweknie-fondswerwer by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge.

“Daar is 'n algemene opvatting dat studente aan die Universiteit Stellenbosch ten volle gefinansier word, maar dit is nié die geval nie. Baie studente het gebrekkige toegang tot basiese behoeftes soos kos en toiletware. Die doelwit is steeds om 'n volhoubare model te voorsien wat studente waardige, stigmavrye toegang tot noodsaaklikhede bied, en om die kultuur van ubuntu onder studente verder te versterk," voeg hy by.

Met die ondersteuning van vrygewige skenkers is daar vanaf 2018 reeds R1.4miljoen ingesamel.

Prof De Villiers, wat slegs ʼn paar weke gelede die 88km Londen-na-Brighton-Fietsrit ten bate van die ten bate van die VK/EU-beursfonds aangepak het, sê hy is slaggereed vir hierdie ikonies fietstoer. “Opdragte, toetse en buitemuurse aktiwiteite plaas studente onder groot druk, maar niks vergelyk met wanneer jy nie weet waar jou volgende maaltyd vandaan kom nie. Geen student kan sy volle potensiaal op 'n leë maag bereik nie. #Move4Food het my volle ondersteuning en ook die van Matie-mense in die breë."

Om #Move4Food te ondersteun, besoek asseblief: https://www.givengain.com/cc/su100/