Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA kort meer nierkundiges
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/10/2021

​ʼn Nuwe studie aan Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat Suid-Afrika dringend meer nefroloë (nierkundiges) benodig om pasiënte met niersiektes te diagnoseer en te behandel.

ʼn Groep navorsers aan US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het neigings in die land se nefrologie-werksmag vanaf 2002-2017 ontleed, die huidige opleidingskapasiteit beskryf en dit as ʼn grondslag gebruik om die nefrologie-werksmag vir 2030 te voorspel. Hulle het die opleidingskapasiteit geassesseer deur die aantal regeringsposte vir nefrologiekonsultante en nefrologiestudente by opleidingsinstellings en hul geaffilieerde hospitale te bepaal, sowel as die aantal opleidingsposte van die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe by elke instelling.

Die bevindinge van hul studie het onlangs in die eweknie-geëvalueerde oop-toegang joernaal PLoS ONE verskyn.

“ʼn Nefrologie-werksmag wat behoorlik funksioneer is uiters belangrik om die groeiende las van niersiektes aan te spreek en die gehalte van niersorg in die land te verbeter. Ongelukkig is daar nie genoeg nefroloë in veral die openbare sektor en in sekere provinsies nie," sê die senior skrywer en hoof van die US se Afdeling Nefrologie, prof Razeen Davids, wat die studie saam met kollegas Dominic Kumashie, Ritika Tiwari, Muhammed Hassen en Usuf Chikte gedoen het.

Die navorsers wys daarop dat hoewel die aantal nefroloë bykans verdriedubbel het (van 53 in 2002 na 141 in 2017), is die algehele digtheid net 2,5 per miljoen populasie (pmp). Dit is redelik ver onder die mediaan van 10,8 pmp vir hoërmiddelinkomste-lande.

“Teen die huidige opleidingskoers van agt nefroloë per jaar, en met 71 nefroloë wat die professie na verwagting binne die volgende 12 jaar gaan verlaat, is die voorspelling dat in 2030 die verspreiding van nefroloë 2,6 pmp (174 nefroloë) sal wees. Dit sal egter nie genoeg wees om die stygende las van niersiektes in die land te hanteer nie. Dit sal ook die werkslading van aktiewe nefroloë verhoog, wat tot uitputting en vroeë uittrede kan lei, en dit kan pasiënte met niersiektes se gehalte van sorg nadelig beïnvloed.

Die probleem word verder vererger deur die merkbare ongelyke verspreiding van nefroloë in die gesondheidsorgsektor. Altesame 78 werk in die private sektor en sien om na die 16% van die bevolking wat mediesefondsdekking het, terwyl die oorblywende 63 diens lewer aan die 84% van die bevolking wat op die openbare sektor staatmaak."

Volgens die navorsers lei die tekort aan poste in die openbare sektor vir nuwe gekwalifiseerde nefroloë tot die ongelyke verdeling tussen die twee sektore en tussen stedelike en landelike gebiede.

“Nefroloë in die openbare sektor is verantwoordelik vir alle nefrologie-opleiding. Die onvermoë om nefroloë in die openbare sektor te behou, voorspel niks goeds vir die toekoms van die nefrologie-werksmag in hierdie sektor of vir hul opleidingskapasiteit nie."

Wat die aantal geregistreerde nefroloë per provinsie in 2017 betref, toon die navorsingstudie dat Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal die meeste gehad het, gevolg deur die Vrystaat, Limpopo en die Noord-Kaap. Ten tyde van die studie was daar geen nierkundiges in Noordwes en Mpumalanga nie.

Met ʼn blik op 2030, wys die navorsers daarop dat daar ʼn aansienlike styging in die aantal nefroloë wat opgelei word, nodig is indien ons interprovinsiale ongelykhede wil verminder en die gemiddelde digtheid van nierkundiges van ander lande hoërmiddelinkomste-lande wil bereik. Om selfs net beskeie teikens na te streef, beteken dat tussen 14 en 16 nefroloë per jaar gelewer sal moet word, in plaas van die huidige agt.

“As die aantal konsulterende nefroloë en die toegewysde opleidingposte van die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe by opleidingsinstellings in ag geneem word, vind opleiding tans ver onder die potensiële kapasiteit plaas."

Hulle sê die werklike opleidingskapasiteit hang van regeringsbefondsde opleidingsposte af, en omdat dit erg ontoereikend is, beperk dit die lewering van nuwe nefroloë tot sowat agt per jaar.

“Ons het meer befondsde opleidingsposte en poste vir gekwalifiseerde nefroloë in die openbare sektor nodig. Indien hierdie stappe gedoen word, is daar ʼn realistiese kans om die provinsiale ongelykhede suksesvol aan te spreek en om 'n soortgelyke digtheid van nefroloë as ander hoërmiddelinkomste-lande te bereik."

“Op die korte duur kan die aftree-ouderdom vir nefroloë in die openbare sektor verhoog word of afgetrede nefroloë kan op ʼn deeltydse grondslag behou word om met dienslewering, opleiding en navorsing te help."

Die navorsers doen 'n dringende beroep op die regering en opleidinginstellings om te kyk na moontlike vennootskappe met die korporatiewe sektor ten einde meer geld vir opleiding te kry. Hulle sê dat die lewering van omvangryke niersorg 'n multidissiplinêre span vereis, en dat navorsing gedoen moet word oor kwessies rondom menslike hulpbronne wat ander kategorieë van mediese praktisyns wat deel is van hierdie span, raak.

  • Bron: Kumashie DD, Tiwari R, Hassen M, Chikte UME, Davids MR (2021). Trends in the nephrologist workforce in South Africa (2002–2017) and forecasting for 2030. PLoS ONE 16(8): e0255903. https://doi.org/10.1371/journal.pone.0255903