Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mynmaatskappye bewys lippediens aan volhoubaarheid
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/10/2021

Baie mynmaatskappye sê die regte dinge en beweeg vorentoe deur die integrasie van volhoubaarheid in hul beleide en gedragskodes, maar hul dade stem egter nie met hul woorde ooreen nie.

Só meen Charl van der Merwe wat onlangs sy meestersgraad in Filosofie by die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Hy het 15 jaar in die mynbousektor gewerk en het probeer om te bepaal tot watter mate mynmaatskappye se omgewingsgedragskode bydra tot volhoubare ontwikkeling in die sektor.

Van der Merwe het ʼn literatuurstudie oor omgewingsetiese teorieë rakende die omgewing, volhoubaarheid en korporatiewe sosiale verantwoordelikhede gedoen, en het ook verteenwoordigers van groot Suid-Afrikaanse maatskappye, omgewingskundiges en ʼn onafhanklike omgewingsprokureur gekry om ʼn vraelys te voltooi.

Volgens Van der Merwe het sy studie getoon dat volhoubaarheid in die mynbousektor nie gemotiveer word deur ʼn etiese benadering nie, maar deur die nakoming van wetlike vereistes.

“Al is volhoubaarheid deel van mynorganisasies se woordeskat en al beweeg hulle vorentoe met volhoubaarheid, is hul fokus volgens die respondente daarop gerig om wetgewers tevrede te stel of net op “groenpoetsery" (om mense te laat glo die maatskappy doen meer vir die omgewing as wat werklik die geval is).

“Baie maatskappye sê die regte dinge, maar hul dade stem nie met hul woorde ooreen nie. In gevalle waar mynmaatskappye vordering maak ten opsigte van die integrasie van volhoubaarheid in hul strategieë en hul soeke na oplossings om hul omgewingsimpak te verminder, het respondente aangedui dat dit nie noodwendig ʼn doelbewuste aksie is nie, maar eerder ʼn wetlike vereiste."

Van der Merwe sê hoewel daar baie ondersteuning vir volhoubare ontwikkeling is, het die respondente aangedui dat senior bestuurders nie voel volhoubaarheid is belangrik nie.

Hy voeg by dat hoewel al die respondente glo dat volhoubaarheid omgewings-, ekonomiese en sosiale dimensies het, die meeste geen idee gehad het watter kantoor of posisie op die uiteinde verantwoordelik is vir volhoubare ontwikkeling in die organisasie nie.

“Die respondente het aangedui dat hulle bewus is van volhoubaarheid, maar nie so oortuig is van die waarde van volhoubaarheid nie en is minder gemotiveerd om dit na te streef. Dit is ook duidelik in die reaksie van respondente wat 40 jaar en ouer is.

“In reaksie tot die vraag of voldoende finansiële bronne toegeken is vir volhoubaarheid in die organisasie, het 46,66% van die respondente bevestigend geantwoord, 40% negatief en 13,33% dat hulle nie weet nie of liewer nie wil sê nie.

Wat van belang is, is dat 58% van die respondente aangedui het dat hul maatskappye die invloed van sy volhoubare aktiwiteite meet."

Van der Merwe sê respondente het beklemtoon dat wetlike nakoming en bewaring van ʼn maatskappy se reputasie die prioriteit is vir die afdeling wat vir volhoubaarheid verantwoordelik is.

“Die meeste maatskappye fokus eerstens op wetlike nakoming, dan afvalbestuur en laastens omgewingsassesserings as hul belangrikste omgewingsaktiwiteite. Al drie kwessies is verbind aan wetlike vereistes en 'n mens kan dus redeneer dat maatskappye nog nie verby die punt van wetlike nakoming na ʼn etiese benadering beweeg het nie."

Volgens Van der Merwe het die respondente aangedui dat volhoubare bestuur telkens deur finansiële beperkinge, te veel wetgewing en onetiese politici belemmer word.

“Ondanks die stewige wetlike grondslag en nuwe kennis, gebruik myne nog nie die potensiaal wat volhoubaarheid bied as hefboomkrag nie. Hulle is ook nie bewus van die vernietigende uitwerking van die ekostelsel se agteruitgang nie, dus ontbreek ʼn diep-gewortelde omgewingsetiese benadering."

Van der Merwe sê ʼn omgewingsgedragskode moenie deur die wet voorgeskryf word nie,  maar moet eerder vrywilliglik deur die mynmaatskappy ontwikkel word deur die spesifieke omgewing, die impakgebied en die gemeenskap in ag te neem en dit moet 'n outonome dokument wees.

“Dit moenie net ʼn geraamde dokument in die raadsale en voorportale van mynmaatskappye wees nie – dit moet iets wees wat kan help om rigting aan volhoubare groei en ontwikkeling in die sektor te gee en dit te bevorder."