Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Celeste Viljoen help ontwikkel standaarde vir ontwerp van optimale infrastruktuur
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/09/2021

Prof Celeste Viljoen van die Departement Siviele Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs haar intreerede gelewer oor die onderwerp Risk-based infrastructure design and assessment. Viljoen, wat ook die Visedekaan: Onderrig in die Fakulteit Ingenieurswese is, het met Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking oor haar werk gesels.

​Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld geïnteresseerd geraak het.

Risikogebaseerde besluitneming het my belangstelling geprikkel vanweë die breë toepaslikheid van die beginsels daarvan. Dit is 'n kombinasie van groter prentjie-denke, maar sonder om die enkele duiwels in die detail uit die oog te verloor. As konstruksie-ingenieur het ek standaarde vir daaglikse werk gebruik, maar nou help ek om hierdie standaarde te ontwikkel met behulp van 'n kombinasie van data, statistieke, voorspellingsmodelle en risikogebaseerde beginsels. Dit dien die samelewing deur strukture te voorsien wat ʼn byna optimale lewensikluskoste het.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf, veral vir ons Suid -Afrikaanse konteks?

Besteding aan infrastruktuur is hoog op die meeste lande se agenda, insluitend Suid-Afrika. Ons werk ondersteun die ontwikkeling van standaarde, wat weer die meeste besluite oor die ontwerp en instandhouding van infrastruktuur ondersteun. Ons het bygedra en dra steeds by tot verskillende nasionale en internasionale standaarde; insluitend windlading, verkeerslading, versterkte betonstrukture, vloeibare houstrukture, rehabilitasie van damme, bestaande brûe, basisse vir ontwerp, ensovoorts.

Ek is baie trots op ons span. Emeritus-professor Johan Retief het die werk begin en 'n leidende rol gespeel in die hersiening van strukturele ontwerpstandaarde in Suid Afrika. Ek is aangestel om hom op te volg, maar ons werk nog steeds saam tot vandag toe. Ek is opreg dankbaar vir die vele maniere waarop hy my loopbaanontwikkeling ondersteun het. Nog een van ons spanlede, prof Nico de Koker, het wonderlike bydraes gelewer om geotegniese ontwerp te ondersteun, dit wil sê grondstrukture, soos fondamente en walle. Met ʼn blik op die toekoms, het ons twee groot navorsingsprojekte in die pyplyn wat deur SANRAL gefinansier word. In die eerste projek sal ons riglyne ontwikkel vir die beoordeling van bestaande brûe; en in die tweede een sal prof Roman Lenner leiding neem in die hersiening van die verkeersladingmodel vir brugontwerp in Suid -Afrika.​​

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet dit om saam met my eie span en akademic van ander instellings te werk. Ons is bevoorreg om 'n klompie briljante studente te begelei, en ek sien uit daarna om ook te kyk hoe hul loopbane ontwikkel. Die wete dat my navorsing relevant is, hou my geïnteresseerd.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef verander. Wat hou jou gemotiveerd gedurende hierdie tye?

Die vreugdevolle entoesiasme van my kinders. Afstandswerk het die wonderlike newe-effek gehad dat ek baie meer van hulle kon sien. Kollegas wat hul videostrome aangeskakel het, het ook gehelp om my die gevoel te gee dat ek in verbinding bly, so ek waardeer dit altyd! Maar sommige dae was dit net vasberadenheid en hoop wat my aan die gang gehou het. Sommige tye het ek  gesukkel met uitbranding (burnout), en dan moes ek myself weer in 'n gesonde gewoonte dwing, soos om genoeg te slaap en te oefen!

Jy het jou merk in ingenieurswese gemaak. Watter boodskap het jy vir die volgende generasie vroue wat ʼn loopbaan in ingenieurswese wil volg?

Sê ja vir geleenthede! Gryp die geleentheid vir groei aan, selfs al voel jy geïntimideer. Kies om die vrees vir mislukking te ignoreer. Dikwels moet jy eers jou voete in die (te groot) skoene sit voordat jy daarin kan groei.

Vertel ons iets interessant oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek is 'n regterbrein mens. Ek stel baie belang in menslike sielkunde en motivering. Ek het ook baie tyd spandeer om kreatiewe kunswerke te skep.​​

Hoe spandeer jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?

Ek hou daarvan om te lees, tyd saam met my kinders deur te bring, opknappings doen, en tennis te speel. Ons onthaal gereeld vriende, en ek is dankbaar dat my man baie hiervan hou, want ek kan die resultate geniet.

  • ​Foto: Prof Celeste Viljoen by haar intreerede: Fotograaf: Anton Jordaan.