Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-finaliste ding mee om wetenskap- en tegnologiepryse
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/09/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal, soos vorige jare, weer goed verteenwoordig wees by die Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32 se toekennings vir 2020/21. Ses finaliste van die US sal op Donderdag 30 September 2021 om dié gesogte jaarlikse toekennings – Suid-Afrika se Oscars vir die wetenskap – meeding.

Die galageleentheid waar die toekennings oorhandig sal word, vind in hibridiese vorm plaas met uitsendings uit twee stede – Johannesburg en Kaapstad. Nadat die prysuitdeling verlede jaar ten volle aanlyn moes plaasvind, word die gebruiklike galadinee in Johannesburg vanjaar weer aangebied, en aangevul met 'n viering in Kaapstad sowel as uitsendings uit albei stede na 'n aanlyn gehoor op die NWTF se YouTube-kanaal. Dr Blade Nzimande, die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, en die beskermheer van die toekennings, is genooi om as voorsitter op te tree.

Die NWTF/South32-toekennings word as die land se mees gesogte eerbewyse van hulle soort beskou. Die pryse erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitmuntende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie in Suid-Afrika. Mededingers sluit ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikeerders, ingenieursvermoëbouers, organisasiebestuurders en -leiers, sowel as data- en navorsingsbestuurders in.

Volgens die organiseerders is dit 'n besondere eer om 'n finalis te wees in die lig van die gehalte van die benoemings elke jaar, die strawwe mededinging, en die toenemende belangstelling vanuit die wetenskap-, ingenieurswese- en tegnologiegemeenskap oor die jare.

Die US-finaliste (met hulle departemente of omgewings tussen hakies) en die kategorieë waarin hulle sal meeding, is soos volg:

Toekenning vir lewenslange prestasie

  • Proff Soraya Bardien & Eileen Hoal (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika)

TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsers

  • Prof Anton du Plessis (Departement Fisika en bestuurder van die fasiliteit vir X-straal-rekenaartomografieskandering)

TW Kambule-NWTF-toekenning vir ontluikende navorsers

  • Dr Wynand Goosen (Sentrum van Uitnemendheid vir Biomediese TB-navorsing, Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, Departement Biomediese Wetenskappe)
  • Dr Caitlin Uren (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika). Dr Uren is ook 'n finalis in die kategorie Data vir navorsing.

Innovasietoekenning vir 'n korporatiewe organisasie

  • Die tegnologieoordragspan van Innovus, met leier en hoof dr Madelein Kleyn