Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konferensie ondersoek gewoontereg in ’n SA samelewing in oorgang
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 30/08/2021

Suid-Afrika is besig met 'n oorgang van 'n erg ongelyke samelewing tot een waar mans en vroue sowel as mense van alle rasse gelyk is. So het Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, op 25 Augustus 2021 in sy hoofrede by 'n konferensie oor gewoontereg en sosiale geregtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) gesê.

Meer as 120 deelnemers het ingeskakel vir die Zoom-geleentheid met prof Thuli Madonsela, bekleër van die US se Regstrust-leerstoel in Sosiale Geregtigheid, as gasvrou. Deelnemers uit sowel die openbare as privaat sfeer het onder meer die regering, die regbank, die akademie, tradisionele leiers en regs- en burgerlike organisasies verteenwoordig. Vier konferensiepanele het beraadslaag oor temas soos die anatomie van gewoontereg, die sosialegeregtigheidsdimensies van gewoonteregtelike eiendomsbesit, geslagsgelykheid en gewoontehuwelike, uitdagings met opvolging en vererwing onder tradisionele leiers, en geslagsgebaseerde geweld in tradisionele gemeenskappe.

Lamola het die gehoor verseker dat die Suid-Afrikaanse staatsbestel daartoe verbind bly om die samelewing te transformeer. Daarom bied voortdurende oortredings teen vroue en kwesbare mense rede tot kommer. “As Suid-Afrikaners, is ons maar alte bewus van die misdrywe wat teen vroue en kwesbare groepe in ons samelewing gepleeg word. Van hierdie oortredings geskied as gevolg van en ingevolge gewoonteregtelike praktyke," het hy gesê, met verwysing na praktyke soos ukuthwala, wat toelaat dat vroue, veral jong dogters, ontvoer en in huwelike met ouers mans ingedwing word.

Die minister het klem gelê op die vooruitgang wat in die gewoontereg gemaak is sedert die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, in werking getree het. “Die gewoontereg bestaan slegs binne die voorskrifte van die Grondwet, wat bepaal dat die gewoontereg beskerm moet word. Nietemin moet gewoonteregtelike reëls steeds strook met die beginsels in die Handves van Regte, wat ewe veel beskerming bied aan die reg op kultuur en die reg op gelykheid, niediskriminasie en menswaardigheid," het hy gesê.

Lamola het 'n beroep gedoen op gespreksforums soos dié US-konferensie om voort te gaan om die grondwetlike beginsels in die Suid-Afrikaanse samelewing vas te lê, mense oor hulle grondwetlike regte op te voed, en wetskrywers en die howe met deeglike navorsing by te staan om 'n regstelsel te skep wat sosiale geregtigheid bevorder. “Die Grondwet, as die hoogste reg van die land, beklemtoon die belang daarvan om die onreg van die verlede reg te stel en eenheid in diversiteit te bereik," het hy gesê. “Die oppergesag van die Grondwet vereis transformasie op etlike gebiede van die bestaande regstelsel, waaronder die gewoontereg."

'n Aantal rolspelers het al ons gewoontereg en kulturele praktyke help vorm en aanpas om aan die Grondwet te voldoen, het Lamola gesê. “Akademici, navorsers, die regbank, tradisionele leiers en baie ander vervul 'n kernrol om die gewoontereg met veral die Handves van Regte te versoen," het hy gesê, en sy stelling gestaaf met verwysing na hofsake oor patriargie en die manlike eersgeboortereg wat in die Konstitusionele Hof aangehoor is. So byvoorbeeld het die Konstitusionele Hof in 2008 in die aangeleentheid van Shilubana vs Nwamitwa die gewoonteregtelike beginsel omgekeer wat vroue daarvan weerhou om stamleiers te word. Gevolglik kon 'n vrou van Baphiring naby Rustenburg haar oorlede pa as stamhoof opvolg.

Die minister het ook ander omstrede gewoonregtelike beginsels aangeroer, onder meer dié oor grondregte, gemeenskaplike grondbesit, die vererwingsregte van vroue en kinders, en huwelike. Hy het afgesluit deur die gehoor daaraan te herinner dat die gewoontereg 'n “lewende reg" is wat groei en ontwikkel om in die gemeenskap se veranderende behoeftes te voorsien. Hierdie bereidheid om te transformeer is noodsaaklik om 'n algemene, stelselmatige verskuiwing in alle opsigte van die samelewing teweeg te bring. “Ons moet die status van vroue deur die bank onder die loep neem. Slegs as ons voortdurend vroue se ware status in ons gemeenskappe, ons privaat ruimtes, ons kerke, die werkplek en ons ekonomie ondersoek, sal ons as 'n samelewing kan vooruitgaan," het hy bygevoeg.

Hooffoto: ʼn Skermkiekie van Ronald Lamola, Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, terwyl hy sy hoofrede by ʼn virtuele (Zoom) konferensie van Prof Thuli Madonsela, bekleër van die US se Regstrust-leerstoel in Sosiale Geregtigheid, gelewer het.

 

 

​