Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se dr. Katherine de Villiers vereer vir uitnemende chemie-navorsing
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 30/08/2021

​Dr. Katherine de Villiers (39) is vir die derde keer in haar akademiese loopbaan as chemikus deur die Suid-Afrikaanse Chemie-instituut (SACI) vereer vir haar uitsonderlike bydrae tot navorsing in hierdie veld.

Dr De Villiers, 'n senior lektor in bio-anorganiese chemie in die Departement Chemie en Polimeerwetenskap​ by die Universiteit Stellenbosch (US), is die ontvanger van die 2021 Raikes Medalje van die SA Chemie-instituut. Die goud vergulde medalje tesame met prysgeld ter waarde van R2 500, word jaarliks toegeken aan 'n lid van die instituut wat jonger as 40 jaar oud is en wie se oorspronklike chemie-navorsing besonderse belofte toon.  

Reeds as nagraadse student in chemie aan die Universiteit Kaapstad het sy in 2004 die die SACI James Moir Medalje ontvang as die beste HonneursBSc-student in chemie, en in 2008 het sy die SACI Nagraadse Medalje ontvang vir haar PhD-tesis wat sy op die ouderdom van 26 onder studieleiding van prof Timothy Egan voltooi het. In 2009 het sy by die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap as lektor aangesluit en in 2013 is sy bevorder tot senior lektor.  

Dr De Villiers werk in die veld van bio-anorganiese chemie en in die besonder die rasionele ontwikkeling van antimalariamiddels wat die aseksuele bloedstadium van die malariaparasiet se lewensiklus teiken. Aangesien sy in Zimbabwe grootgeword het, het sy die verwoestende impak van malaria eerstehands ervaar. “Toe ek as honneurstudent besef dat my passie vir chemie 'n bydrae kan lewer tot die transformering van die lewens van mense wat die risiko loop om hierdie parasitiese siekte op te doen, het ek geweet dat ek my pad gevind het," skryf sy onlangs in 'n blog vir die Nasionale Navorsingstigting.

Siende dat sy in die onlangse verlede die ma van twee geword het: Christopher (4) en Caroline (2), het sy gekies om haar loopbaan vir eers in die stadiger baan voort te sit deur haar voltydse pos vir 'n vyfagste pos te verruil. “Alhoewel ek weet dat my loopbaan nou nie so vinnig gaan vorder soos in 'n voltydse pos nie, glo ek dat hierdie opsie my die tyd en ruimte bied om my werks- en gesinslewe te kan skei. Ek is mal oor my werk en sien uit na my daaglikse kantoortyd, maar ek wil ook 'n aktiewe rol in my kinders se lewe speel," sê sy.

Prof Peter Mallon, hoof van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, sê dit is 'n uitstaande prestasie. Vorige ontvangers van hierdie toekenning wat in die departement werksaam is, sluit in: prof Willem van Otterlo (2004), prof Erick Strauss (2013) en prof André de Villiers (2015).