Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nog ’n Vrouemaand
Outeur: Dineo Ponde Mafora
Gepubliseer: 24/08/2021

Augustus is hier,

en elke jaar gedenk ons vroue se beproewings in die verset.

Hoe ironies dat Vrouemaand juis vroue wil erken,

vroue wil gedenk, hul veerkrag wil eer.

Dit als in die belang van nasionale eenheid? Eenheid is 'n onvervulde hersenskim.

Veerkrag is 'n trooswoord wat mans gebruik om die wreedheid, die uitbuiting en die pyn

te regverdig wat vroue oor die geskiedenis heen verduur,

terwyl daar warm olie in hul kele afgegooi word.

 

Oor die afgelope drie jaar onthul Vrouemaand die groeiende getal vrouemoorde en die gendergebaseerde geweld wat in Suid‑Afrika se maatskaplike arena woed.

 

Nog 'n Vrouemaand, en steeds word meer vroue vermoor, hul ledemate afgekap, hul liggame onteer.

Sommige sal die nuusopskrifte haal, die meeste nie.

Vroue sal aanhou leef tussen die liminale ruimtes van hul diepgewortelde nagmerries en die werklikheid.

Vermoeide vroue sal aanhou organiseer en mobiliseer aan protesaksie en veldtogte teen gendergebaseerde geweld, op straat en op sosialemedia-platforms. Dalk 'n optog na die parlement, met blou chirurgiese maskers wat hul teen Covid‑19 beskerm, maar geen skild teen manlike geweld bied nie.

 

President Ramaphosa sal die land toespreek in sy rede. Hy sal apologie aanteken vir mans se gruweldade en dit nogmaals veroordeel.

Hy sal sê ons land “veg teen 'n ander pandemie", terwyl dit eintlik die oorspronklike pandemie is waarteen vroue al eeue lank baklei. Verskonings wek nie die dooies op nie en genees nie gapende wonde nie.

 

Nog 'n Vrouemaand, en die verkragtingsyfer van een uit drie

sal onveranderd bly, dalk selfs vererger.

Vroue se trane en gejammer sal die lug pikdonker kleur.

Nou lyk dit asof pyn die reënboognasie aanvuur.

 

Nog 'n Vrouemaand, en studente sal steeds aanlyn lesings hê.

Dosente sal Team-vergaderings fasiliteer;

sperdatums sal gemis word.

Onkunde en onverskilligheid sal steeds die denke van die jeug en “opgevoede" mense oorheers. 

Ongelukkig is apatie nie 'n verpligte keuse nie.

Alles sal so na aan normaal wees as wat dit moontlik kan wees.

Maar nie regtig nie, want dit is nie normaal dat 'n land

'n “verkragtingshoofstad" kan wees nie. Wat nog te sê óns.

 

Hierdie Vrouemaand herdenk ons die durfkrag van die 20 000 vroue wat in 1956 na die Uniegebou opgeruk het, en hul voorgangers.

Ons herdenk die ikoniese, die gewone, die naamlose, en die vergete vroue.

Ons eer vroue omdat hulle is wat hulle is. Of hulle nou imbokodo of skerwe brose glas is.

 

Vrouemaand het 'n seisoen van onaantasbare hoop en oorlewing geword.