Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gendergelykheid baat die hele gemeenskap
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 12/08/2021

Daar is ʼn duidelike verband tussen gender diversiteit en goeie besigheidsprestasie, en deur vroue tot leierskapposisies te bevorder gee ʼn land se ekonomie ook ʼn hupstoot. Dit was die ferm Vrouedagboodskap wat professor Agnes Binagwaho, vise-kansellier en medestigter van die Universiteit vir Globale Gesondheidsbillikheid (University of Global Health Equity, oftewel UGHE) in Rwanda gelewer het.

Binagwaho (MD, MPed, PhD) ʼn voormalige Minister van Gesondheid van Rwanda wat in 2020 as een van die 100 Invloedrykste Vroue in Afrika aangewys is, was die hoofspreker by die Vrouedag-webinar van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) wat op 5 Augustus gehou is.

In haar beleidsrede, getiteld Bevorderingsgeleenthede vir Vrouegesondheid en -Onderrig, het sy klem gelê op die belangrikheid om meisies by onderrig te betrek as ʼn manier om ʼn land se rykdom te laat toeneem.

“Dit is slim om in meisies en vroue te belê. Dit is alombekend dat ʼn land se BBP (bruto binnelandse produk) oor die algemeen met 3% styg as 10% of meer meisies skool toe gaan."

Binagwaho het gesê dat genderbillikheid ʼn kragtige instrument is wat verandering in die samelewing teweeg kan bring. “Ons het al danige vordering gemaak, maar daar is nog baie meer om te doen."

Binagwaho het studies aangehaal om te wys hoe genderbillikheid besigheidsprestasie kan verbeter. “ʼn Studie wat in Kalifornië gedoen is, het bevind dat uit 400 maatskappye, is die 25 firmas met die grootste persentasie vroue in leierskapsposisies se opbrengs op bates en aandele 74% hoër as die res van die groep. In ʼn studie van 11 000 openbare handelsmaatskappye van oor die wêreld, het maatskappy met vroue aan die stuur beter gevaar as dié wat deur mans bestuur word."

Sy het ook beklemtoon dat gesondheidstelsels beter werk as daar vroue in leierskapsposisies is.

“Vroue brei die agenda uit om kwesbare groepe in te sluit en meer aandag te skenk aan kwessies wat vroue raak."

Tog heers daar steeds negatiewe stereotipes oor vroue se vermoë in geneeskunde, ʼn historiese manlike beroep, het sy gesê.

“Die salarisse van vroulike akademici-geneeskundiges is 8% laer as dié van hulle manlike eweknieë. Vroue word oor die algemeen beskou as steunpersoneel, en nie leiers nie.

“Tans beklee vroue slegs 25% van leierskapsposisies in globale gesondheid. As vroulike globale gesondheidsvegters moet ons aanhou om die negatiewe stereotipes oor vroue se vermoë uit te daag; ons moet eienaarskap neem deur aksie en bewys gebaseerde data, en ons moet ons posisies gebruik om standpunte te beïnvloed. Ons moet as rolmodelle dien, en ons leierskapsvaardighede aan ander vroue oordra."

Binagwaho het na die 'lekkende pyplyn' -verskynsel verwys wat verhoed dat vroue vorder maak in hulle loopbane.

“Ons moet uitvind hoe om hierdie lekkende pyplyn reg te maak en verseker dat die belangstelling van vroue in voor- en nagraadse skole oorsit in ʼn toename in soortelyke verteenwoordiging in leierskapsposisies in die gesondheidsektor.

“Ons moet verseker dat jong vroue geleenthede uitsoek vir loopbaan bevordering en hulle help om leierskap- en bestuursvaardighede te ontwikkel terwyl hulle op universiteit is.

“Mentorskap is nog ʼn manier om die status quo te beveg. Mentors moet holistiese raad gee – nie net akademiese advies nie, maar ook lewensadvies."

Binagwaho het ook raad gegee oor hoe om die deurlopende stryd vir billikheid aan te pak. “Moet nie veg sodat jy na die eerste stryd uitgesluit word nie... maar om die agenda te bevorder omdat jy moontlik vervang kan word deur ʼn vrouehater of ʼn onoplettende vrou. Moet nie gender partydigheid persoonlik opneem nie. Jy kan nie dat dit jou knak nie. Hierdie is ʼn langtermyn oorlog en nie ʼn enkele stryd nie, so moet dus nie onnodige vyande maak wat jou vooruitgang kan blok nie. Laastens moet jy ander die vaardighede leer wat jy geleer het. Voorspraak is krities."

Deur Rwanda se eie reis na gender gelykheid aan te haal, het Binagwaho gesê dit was van kernbelang om beleide en strategie aan te neem wat genderbillikheid binne in die geregtelike raamwerk inkorporeer. Rwanda is negende op die wêreldranglys en eerste in Afrika suid van die Sahara vir die toemaak van die gendergaping.

“In lyn met ons nasionale visie, vereis die grondwet dat ten minste 30% van enige gender in leierskapsposisies moet wees.

“Ons het verskeie wette geskep wat vroue regte beskerm, insluitend ʼn wet in 2008 vir die voorkoming en straf van gendergebaseerde geweld; en in 2013 ʼn wet wat vereis dat gender ingesluit word by opvoedkunde-, infrastruktuur-, gesondheid- en landboubegrotings. In 2018 is ʼn wet ingestel wat finansiering vir genderbillikheid institusionaliseer. Deurdat dit in elke begroting in ag geneem moet word, kan die parlement en nasie bepaal waar begrotings geallokeer moet word om kwessie van genderbillikheid aan te spreek."

Volgens Binagwaho is dit ook belangrik om genderongelykheid in opvoeding aan te spreek. By haar universiteit, UGHE, maak vroue 70% uit van alle MBBS (Baccalaureus van Geneeskunde, Baccalaureus van Chirurgie) studente. “Hoewel dit die verantwoordelikheid van regerings en individue is om voorspraak te maak vir genderbillikheid, het universiteite ook ʼn rol om te speel."

Tydens die opening van die webinar, het professor Nico Gey Van Pittius, FGGW vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisering gesê dat die Covid-19-pandemie ʼn groot impak op vroue in die akademiese wetenskappe het. Daar was ʼn toename in navorsingsuitsette by mans, maar daar was ʼn afname by vroue wat gesukkel het om ʼn balans tussen werk en gesinsverantwoordelikhede te vind.

“Dit is noodsaaklik om die werwing, bevordering en retensie van vroue in die akademie reg te stel."

In ʼn paneelgesprek wat deur professor René English gelei is, het die PhD-kandidaat Silindile Ngcobo verduidelik hoe gegradueerde vroue sogenaamde STEM-vakke (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) neem, maar hoe die getalle afneem op PhD-vlak. Vroeë leierskapsontwikkeling en institusionele ondersteuning vir vroue is lewensbelangrik om die lekkende STEM-pyplyn aan te spreek, het sy gesê.

Die PhD-kandidaat Hannah Simba het verduidelik hoe Covid-19 kwesbaarhede vir vroue se gesondheid en loopbane geskep het en ongelykheid vererger het.

Dr Zethu Mtimkulu het haar persoonlike storie vertel van hoe sy die “golwe gery het" van in die gesondheidsorg-omgewing, insluitend die uitdagings waarteen sy te staan gekom het in ʼn sektor wat deur mans gedomineer word en die onbewuste vooroordeling van vroue wat sy ervaar het. Sy het verskeie verskynsels verduidelik, insluitend die “glasplafon", die “glas-kloof" (waar vroue opgestel word om te misluk), die “taai vloere" –verskynsel (waar vroue hulleself terughou) en die “koningin-by" –sindroom, waar vroue nie wil hê dat ander vroue sukses moet behaal nie.

Dr Therese Fish, FGGW vise-dekaan: Kliniese Diens en Sosiale Impak, het die webinar afgesluit deur te sê dat almal voorstanders moet wees vir genderbillikheid. “Daar is nog baie werk om te doen," het sy gesê.