Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Planne vir die tweede semester
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 29/07/2021

Beste kollegas en studente

Ek gee graag terugvoer oor die gesprekke en besluite van die Universiteit Stellenbosch (US) se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) by ons geskeduleerde vergadering van Woensdag 28 Julie 2021.

Risikovlak 3

Ons het kennis geneem van president Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondag (25 Julie) dat Suid-Afrika terugkeer na aangepaste risikovlak 3 noudat daar aanduidings is dat die derde vlaag COVID-19-infeksies besig is om af te plat. Vir die Universiteit beteken dít dat die voorskrifte wat die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) op 29 Maart vanjaar uitgereik het, van krag bly. Die voorskrifte bied hoëronderwysinstellings heelwat beweegruimte om hulle eie werksaamhede te bestuur, onderworpe aan COVID-19-protokolle.

Leer-en-onderrigmetode

Ons het ná deeglike oorweging besluit om voort te gaan met aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) wanneer die tweede semester op 10 Augustus 2021 begin. Dít beteken dat studente, nes in die eerste semester, vir ’n kombinasie van kontak- en aanlyn sessies na die kampus sal​ terugkeer. Fakulteite sal weer die modulespesifieke besonderhede op hulle onderskeie webtuistes plaas. Vir maklike toegang tot die fakulteitsblaaie, klik bloot op die spesiale blokkies op die US se COVID-19-blad.

Koshuisstudente sal ook na die kampus terugkeer.

Die IKBV bly verbind tot datage​gronde besluitneming, en dus hou ons die koronavirussiekte-pandemie uiters noukeurig dop om te sorg dat dit veilig is om op dié manier voort te gaan. Indien daar enigiets gebeur wat vereis dat ons hierdie plan aanpas, sal ons julle so gou moontlik laat weet.

COVID-19

Die pandemie hou steeds ’n aansienlike bedreiging in. Prof Juliet Pulliam, direkteur van SACEMA (die DWI-NNS Sentrum van Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Ontleding), het in haar voorlegging aan die IKBV uitgewys dat hoewel die derde vlaag nasionaal sy piek bereik het, dít nog nie in alle provinsies die geval is nie.

Infeksies in die Wes-Kaap styg steeds, ofskoon op ’n laer vlak. Dit duur langer as wat voorheen verwag is om die piek van ons derde vlaag te bereik, maar die getal nuwe infeksies behoort binne die volgende week of twee te begin afneem.

Dit bly noodsaaklik dat ons alles moontlik doen om die verspreiding van die pandemie te keer. Dít kan ons op twee maniere doen:

  • Ons moet waaksaam bly en steeds die COVID-19-protokolle gehoorsaam – dra ’n masker, ontsmet, bly op ’n veilige afstand van ander, en vermy ruimtes met baie mense en swak ventilasie. Hierdie protokolle geld nie net vir diegene wat nog op inentings wag nie, maar ook vir persone wat reeds ingeënt is.
  • Ons behoort almal so gou moontlik ingeënt te word, want dit bly ons beste verweer teen ernstige COVID-19-simptome en -sterfte. Inenting is iets wat ons almal kan doen om die pandemie gouer tot ’n einde te help bring sodat die dinamiese kampus- en dorpslewe waaraan ons gewoond is, kan herstel.

Inenting

Wat inentings betref, was daar onlangs bemoedigende ontwikkelings.

Eerstens kan almal in die ouderdomsgroep 35 en ouer nou ingeënt word, en die hoëronderwyssektor ontvang spesiale aandag. Ons het ál ons personeellede (wat insluit voltydse, deeltydse en kontrakpersoneel, sowel as nagraadse studente en genote wat by die Universiteit klas gee) vroeër vandeesweek in kennis gestel van twee Higher Health-inentingsinisiatiewe wat dié week begin (klik hier).

Let veral daarop dat spesifieke gleuwe op sekere tye tussen Vrydag 30 Julie en Maandag 16 Augustus 2021 aan US-personeellede toegeken om by die Momentum-massa-inentingsfasiliteit by Parc Du Cap, Mispelweg 5, Bellville, ingeënt te word. Om van hierdie geleentheid gebruik te maak, registreer asseblief op die US se databasis deur jou besonderhede hier in te voer.

Tweedens sal almal in Suid-Afrika bo 18-jarige ouderdom vanaf 1 September ’n inenting kan kry, wat dan ook ons jonger personeellede en studente sal insluit. Ons werk hard daaraan om deel te wees van daardie inentingsfase en sal binnekort meer besonderhede bekend maak.

Die eerste stap om ingeënt te word is om op die nasionale EVDS (die elektroniese inentingsdatastelsel) te registreer. As jy nog nie geregistreer het nie, gaan asseblief na https://vaccine.enroll.health.gov.za. Registrasie is vinnig en maklik.

Om ingeënt te word is die verantwoordelike ding om te doen – nie net ter wille van jouself en jou familie nie, maar om die groter Universiteitsgemeenskap en die samelewing in die geheel te beskerm.

Vir verdere inligting oor COVID-19-inenting, raadpleeg gerus ons gereelde vrae.

Studentesake

A3-assesserings:

Studente word daaraan herinner om hul assesseringsrooster na te gaan en veral te let op die aanvangstye van assesserings op onderskeidelik Saterdag 31 Julie en Saterdag 7 Augustus omdat sommige assesserings na 19:00 verskuif is.

Let asseblief daarop dat besluite oor toegang tot ’n A3- of A4-assessering drie dae (wat naweekdae insluit) voor die assesseringsgeleentheid beskikbaar sal wees. Hierdie drie dae sluit die datum van die aankondiging/kennisgewing en die datum van die A3- of A4-assessering self uit.

A4-assesserings:

Toe ’n kleiner getal studente nog weens hulle COVID-status vir A4’s in aanmerking gekom het, is die tydlyn vir A4-assesserings op 13 Augustus tot 4 September vasgestel, met die vrystelling van punte teen 10 September.

Hierdie reëling (om A4-toegang te verleen op grond van COVID-status en vorige toetsuitslae) is egter sedertdien herroep. Soos ek in my e-pos van 21 Julie aangedui het, is A4’s nou vir alle eerstesemestermodules beskikbaar (met enkele uitsonderings, wat spesifieke fakulteite sal bekend maak).

Ter voorbereiding vir die groter getal A4-assesserings, en om by die vasgestelde tydlyn te hou en botsings so ver moontlik te beperk, sal van die aanlyn assesserings saans plaasvind, en sal Saterdae ook benut word.

Die onderskeie fakulteite het studente van hulle bepaalde kriteria vir toegang tot die A4-assesserings in kennis gestel.

Ons bevestig die vorige reëling dat studente, in afwagting van hul A4-uitslae, toegelaat sal word om vir tweedesemestermodules te registreer – op die voorwaarde dat indien studente nié aan die voorvereistes vir ’n sekere tweedesemestermodule voldoen nie, hul registrasie vir daardie module gekanselleer sal word.

Koshuisplasings en studiefinansiering vir 2022:

Koshuisplasings van huidige studente sal eers ná die aankondiging van die A4-uitslae – met ander woorde ná 10 September – gedoen word.

Dít sal ook ’n onvermydelike domino-effek hê op die plasing van nuwe eerstejaars, so die plasingstydlyn sal dienooreenkomstig aangepas word.

Dieselfde geld vir beurstoekennings vir 2022. Waar eerstesemesteruitslae as kriterium vir studieb​eurse dien, sal finansieringsbesluite tot ná die aankondiging van die A4-uitslae uitgestel word.

Personeelsake

Verlof:

Die IKBV het die vervaldatum vir jaarverlof van 2020 met ’n maand uitgestel – van 31 Desember 2021 tot 31 Januarie 2022. Dít beteken dat personeellede oorblywende verlof uit die siklus van 2020 in die loop van Januarie 2022 sal kan gebruik, veral in die week van 3 tot 7 Januarie, wanneer vergaderings en ander Universiteitswerksaamhede so ver prakties moontlik beperk sal word.

Hierdie uitstel is egter nie van toepassing op personeellede wie se diens op 31 Desember 2021 eindig nie – hulle verlof kan uiteraard nie na Januarie 2022 oorgedra word nie.

Uitgebreide leerruimtes (ELS):

Die projek vir uitgebreide leerruimtes (ELS) vorder fluks. Hierdie inisiatief beoog om ’n aansienlike getal lesinglokale op ons Stellenboschkampus met die nodige tegnologie toe te rus sodat kontaksessies regstreeks vanuit die lokale uitgesaai kan word en sommige studente dus van aangesig tot aangesig en ander aanlyn kan deelneem. Die gedagte is om teen die einde van September altesaam 67 sulke lokale klaar te hê.

Slot

Ons gaan deur ’n besonder veeleisende tyd. Ons dink aan al ons studente, personeellede en ander belanghebbendes wat in hulle families, vriendekringe of werkplekke koronavirusverwante siekte of sterftes beleef het.

Dankie aan almal vir julle harde werk en opoffering om die akademiese projek by die US op koers te hou. Dít is uiteindelik wat ons sal help vorentoe beweeg ondanks die vele uitdagings waarvoor ons te staan kom.

Hou gerus ons COVID-19-webblad dop vir gereelde nuusflitse en kontak ons by 021 808 9111 of info@sun.ac.za vir enige navrae. Ons verseker jou dat ons enige kwessies wat by ons Kliëntedienssentrum aangemeld word, vir oorweging aan die tersaaklike besluitnemingstrukture by ons instelling oordra.

Bly asseblief veilig en sien om na jouself en jou geliefde​s.

Prof Stan du Plessis
IKBV-voorsitter