Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Neem potensiële professore die toekoms in
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/07/2021

Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), en sy span is kennelik trots op die program vir toekomstige professore (“Future Professors Programme" (FPP)) (fase 01), wat hulle namens die Suid-Afrikaanse universiteitsektor fasiliteer.

Die FPP, 'n vlagskipprojek van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), is 'n landwye samewerkingsprogram wat die akademiese uitnemendheid en leierseienskappe van 'n sorgvuldig uitgesoekte groep dosente van die 26 universiteite in die land verder ontwikkel. FPP-genote se toekoms as leiers op hulle terrein, en as volwaardige lede van 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore op alle vakgebiede, lyk belowend.

Met prof Jansen aan die roer van sake, word fase 01 administratief vanaf die US bestuur. Hy word bygestaan deur hoofimplementeerders prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Skakeling aan die Durban Universiteit vir Tegnologie; prof Jackie du Toit, wat deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) gesekondeer is, en prof Neil Roos, wat binnekort die amp van dekaan van Geestes- en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van Fort Hare sal aanvaar.

Die program bou voort op 'n konsep vir die beroepsvordering van midloopbaan-akademici wat prof Jansen in sy tyd as dekaan van Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria aangevoor en as Rektor van die UV verfyn het. Proff Du Toit en Roos is sedert Jansen se Bloemfontein-dae deel van sy ondersteuningspan.

Nadat prof Jansen hom by die US aangesluit het, het die destydse Minister van Hoër Onderwys, dr Naledi Pandor, hom genader en versoek dat die program uitgebrei word. Werk is van stapel gestuur en die program het in 2020 en 2021 elk sowat 30 genote ingeneem. Universiteite sal later vanjaar kandidate met die oog op die inname vir 2022 kan benoem.

“Dít beteken dat ons in 'n kort tydperk 90 potensiële professore sou opgelei het. Hierdie mense is almal voorloper-akademici; toonaangewende vakkundiges wat al in vaktydskrifte soos Nature of Science gepubliseer het, of wat in die sosiale wetenskappe reeds 'n boek uitgegee het," verduidelik 'n begeesterde prof Jansen. “Om 'n uitnemende vakkundige te wees, moet jy as een van die voorste vyf of ses ter wêreld op jou navorsingsgebied erken word."

Stelselmatige program

Volgens prof Jansen is die FPP ontwerp om “die knapste jong vakkundiges bloot te stel aan waaroor die lewe van 'n intellektueel gaan". Die konsep het by hom opgekom toe hy besef het dat weinig universiteite 'n voldoende, stelselmatige program bied om jong akademici toe te rus om professore te word. “'n Mens word geleer hoe om 'n natuur- of geesteswetenskaplike te word," verduidelik hy, “maar jy word selde stelselmatig geleer, opgelei en touwys gemaak hoe om 'n professor te word. Dit was nog altyd vir my eienaardig."

Hy hoop die FPP sal genote die loopbaanfoute help vermy wat hy self as 'n ontluikende akademikus begaan het. “Dit is 'n wonderlike manier om wat ek deur leer en probeer wys geword het op 'n stelselmatige manier aan jong akademici deur die hele land oor te dra." Dan erken hy ook in die verbygaan: “In my agterkop is dit ook 'n agterhoedegeveg om te keer dat professore se prestasiestandaarde daal."

Genote word in die akademieskap van navorsing, onderrig en diensbaarheid opgelei. Die akademieskap van navorsing is vir prof Jansen die belangrikste: “As dít nie reg is nie, stort die ander twee ook in duie.

“Maar natuurlik moet jy ook verstaan wat dit behels om klas te gee. Dit gaan nie net oor inligtingsoordrag nie. Dit is uiters kompleks, en 'n vakgebied op sigself, met 'n wetenskaplike onderbou. Ongelukkig ontvang die akademieskap van diensbaarheid minder aandag wanneer bevorderings oorweeg word. Dis veel meer as 'n vorm van welsyn; dit gaan daaroor om jou kundigheid aan ander beskikbaar te stel. Diensleer is besonder kragtig."

Webinare, mentorskap en afrigting

Die FPP bestaan uit drie komponente om 'n toekomstige “kollege" van professore oor sowel universiteite as vakrigtings heen in Suid-Afrika tot stand te bring – 'n residensiële program, die ontwikkeling van 'n finansierbare medium-tot-langtermyn- intellektuele projek, en internasionale skakeling.

Toonaangewende plaaslike en internasionale akademici bied aanlyn seminare aan oor professionele én persoonlike aspekte van vakkundige uitnemendheid, belangrike maatstawwe vir professorskap, die doel en plek van 'n instituut vir gevorderde navorsing in 'n akademikus se lewe, en die tekens van uitbranding. Sedert Mei 2020 het genote ook toegang tot Zoom-etensuursessies, wat wissel van persoonlike gesprekke met top-akademici, en besprekings oor die onderriguitdagings verbonde aan COVID, tot navorsingsaangeleenthede, en onderwerpe van belang vir die toekomstige Suid-Afrikaanse professorskorps.

Genote ontvang leiding van mentors, sowel as afrigting in groepverband. Boonop onderneem hulle 'n gapingsontleding saam met 'n A-gegradeerde kenner op hulle terrein om gebiede vir ontwikkeling op hulle reis na groter akademiese statuur uit te wys. “Ons leer jou nie hoe om 'n tydskrifartikel te skryf nie; ons leer jou hoe om die redakteur van jou eerste vaktydskrif te wees," verduidelik prof Jansen die span se benadering om genote die volgende vlak in hulle loopbane te help bereik.

Langdurige bande en netwerke

Deelnemers kon slegs een keer vroeg in 2020 van aangesig tot aangesig op Stellenbosch ontmoet voordat COVID-19 uitgebreek het.

“Daarna moes die span die aanbieding en struktuur van die program verander," sê prof Du Toit. “Vanweë COVID en omdat mense kwesbaar is, het ons 'n afrigter en voorligter in diens geneem om genote hulle gevoelens van afsondering te help verwerk en die veranderinge by hulle instellings te help hanteer.

“Hoewel ons besef dat die pandemie en inperking verskillende uitdagings vir verskillende individue inhou, en dat elke universiteit – en vakrigting – dalk 'n unieke reaksie daarop sal hê, vind ons nietemin ook dat die genote almal 'n behoefte het aan gemeenskap, roetine, orde en 'normaliteit' in die bekende aktiwiteite van die akademie," voeg prof Du Toit by.

“Die program gaan daaroor om persoonlike bande, netwerke en samewerkings te vorm wat nog lank ná die genootskap sal voortbestaan," sê prof Roos, wat die FPP-ondersteuningspan as die genote se eie “kampvegters" beskryf.

In die lig van die pandemie word internasionale plasings baie deeglik geëvalueer. Prof Jansen verduidelik waarom die internasionale komponent van die program vir hom so belangrik is: “Die logika daaragter is om die genote se gesigsveld te verbreed sodat hulle ook wyer kan sien in plaas daarvan om slegs met die onmiddellike tevrede te wees. 'n Mens word byvoorbeeld nie 'n topprofessor tensy jy in topprofessore se geselskap verkeer nie."

Hy besef party mense kan dalk die program as 'n kortpad na professorskap beskou. “Daar was al mense wat bevorder is, maar ons wil nie hê dit moet te gou gebeur nie. Ons raai die genote aan om liewer te wag sodat ons nog vir 'n jaar of twee met hulle kan werk, en om nie toe te laat dat hulle instellings druk op hulle plaas as hulle nog nie gereed is nie."

* Die US-akademici drs Margreth Tadie (Prosesingenieurswese) en Lungi Nkonki (Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid) was deel van die inname van 2020, terwyl drs Rehana Malgas-Enus (Chemie), Uhuru Phalafala (Engels) en Tongai Maponga (Geneeskundige Virologie) deel uitmaak van die groep van 2021.

Vir verdere inligting, gaan na www.futureprofessorsprogramme.co.za.​​