Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-watersport sterk by Spele verteenwoordig
Outeur: Maties Sport
Gepubliseer: 16/07/2021

Vier waterpolo-spelers – Lwazi Madi, Cameron Laurenson, Jason Evezard en Ross Stone – twee afrigters, Cedric Finch (swem) en Vaughn Marlow (waterpolo), en die Maties Sport-klubbestuurder, Candice Williams vervul almal lewenslange ambisies met hul insluiting in die Suid-Afrikaanse span vir die Olimpiese Spele in Tokyo.

Williams is die huidige Maties watersport-klubbestuurder en sal diens doen as bestuurder van die SA waterpolo-vrouespan.

“Die omvang van dié geleentheid het nog nie regtig ingesink nie... Ek weet dat vlugte bespreek is en dat ons op 15 Julie beplan om uit te vlieg, maar dit voel steeds tog so onwerklik!" het Williams gesê.

“Vir enige sportpersoon is die Olimpiese Spele die droom, en nou is dit vir ons waterpolo-spelers en spanbestuur 'n werklikheid! As sportadministrateur is ek gevul met nederigheid dat ek gekies is om saam met span op die spesiale reis te gaan. Dit is immers sportgeskiedenis, want dit is die eerste keer wat die SA vrouespan aan die Olimpiese Spele deelneem!

“Ek is baie trots daarop dat ek as Maties Watersport-klubbestuurder die geleentheid sal ervaar om my land te verteenwoordig nie net in 'n pandemie nie, maar ook saam met ons afrigters Cedric Finch en Vaughn Marlow en ons studente-atlete, klublede en alumni. Baie dankie aan die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport vir die ondersteuning in die middel van 'n wêreldwye pandemie, sodat ons na toppunt van Sport, wat die Olimpiese Spele is, kan gaan."

Madi, wat die SA manswaterpolo-span sal lei, het gesê: “Om gekies te word om na die Olimpiese Spele te gaan, is 'n droom bewaarheid. As ek terugkyk na die eerste keer dat ek die Olimpiese Spele as 'n jong seun gekyk het, wou ek nog altyd self aan die Spele deelneem, maar ek het nooit gedink dat ek die kans sou kry om dit te doen nie. Die geleentheid het my gewys harde werk werp vrugte af en ek kan nie wag om uiteindelik my kinderdroom uit te leef nie. "

Hoofdirekteur van Maties Sport, Ilhaam Groenewald, het gesê: “Universiteit Stellenbosch, Maties Sport het 'n sterk en ryk waterpolo-profiel, wat oor baie dekades gebou is. Om van ons studente-atlete, alumni, afrigters en sportbestuurders te hê wat Suid-Afrika verteenwoordig by die mees gesogte sportbyeenkoms waaroor enige sportpersoon kan droom, is 'n droom wat nie net vir hulle nie, maar ook vir die hele universiteit, hul gesinne, vriende en ondersteuningspanne bewaarheid is.

“Ons is opreg trots en dankbaar vir hierdie wonderlike geleentheid en herinneringe wat 'n leeftyd sal duur en met baie geslagte gedeel kan word."

Alumni wat na die Olimpiese Spele gaan, is Keenan Horne, Quanita Bobbs, Tarryn Glasby, Erin Christie (Hunter), Taryn Mallett (almal hokkie); Emma Chelius (swem); Georgia Moir, Megan Sileno (Schooling), Duncan Woods (waterpolo).

Foto: Lwazi Madi en Cameron Laurenson