Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 21 Junie 2021)
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 25/06/2021

​D​​​ie Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag 21 Junie 2021 vir die tweede keer dié jaar vergader.

Die vergadering het plaasgevind teen die agtergrond van 'n hernude landwye toename in COVID-19-infeksies, wat die regering genoop het om Suid-Afrika weer onder vlak 3-inperkingsregulasies te plaas.

Die Raad het sy solidariteit uitgespreek met US-personeellede en -studente, wat deurdruk ondanks die uitdagende omstandighede. Dat die Universiteit steeds op verskeie fronte uitblink, spreek boekdele vir sy mense se skrik-vir-niks-houding.

By Maandag se vergadering het ons onder meer bestuursverslae ontvang en die US se geïntegreerde jaarverslag, wat die Universiteit se gekonsolideerde finansiële jaarstate insluit, goedgekeur.

'n Groot dankie aan alle US-werknemers – sowel akademiese as PASD-personeel (professionele en administratiewe steundienste) – vir hul harde werk, en alle sterkte aan ons studente met die eksamens wat tans aan die gang is.

Lees gerus hieronder vir verdere besonderhede oor ons vergadering.

Alles van die beste, en bly veilig.

George Steyn
Voorsitter: US Raad

 

Bestuursverslag van die Rektor en Visekanselier

Die Rektor en Visekanselier het sy gebruiklike bestuursverslag gelewer. Klik hier om die volledige verslag te lees, en hier vir die PowerPoint-aanbieding. Hoogtepunte volg hieronder.

Rekordgetal kwalifikasies

Toe kontakonderrig landwyd in Maart 2020 opgeskort is om die verspreiding van COVID-19 te keer, het die Universiteit gereageer deur na noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) oor te slaan. Ondanks die skielike oorskakeling na nuwe werkswyses het die US dit steeds reggekry om vir die akademiese jaar 2020 (wat die gradeplegtighede van Maart/April 2021 insluit) 9 236 kwalifikasies toe te ken – 'n nuwe rekord.

'n Belangrike deel van hierdie suksesverhaal was die uitgebreide steunprogram wat agter die skerms ontvou het. Met finansiële bystand van die Michael & Susan Dell-stigting, die Oppenheimer-gedenktrust en die Harry Crossley-stigting kon die US sy vermoë uitbrei om bykomende opvoedkundige multimediamateriaal te ontwikkel en sy studente meer virtuele akademiese tutorbystand, mentorleiding, psigososiale steun en tegniese hulp te bied.

Die US Taalsentrum het meer as 1 250 vertaalde podsendings vervaardig om Engelse leermateriaal in Afrikaans om te skakel en sodoende meertaligheid te ondersteun. Die Sentrum het ook webinare oor akademiese vaardighede aangebied, aanlyn lees- en skryfsteun voorsien, en intydse tolking vir dowe studente onderneem.

Inskrywings vir 2021

Die Rektor het die Raad op hoogte gebring van die Universiteit se inskrywingsyfers vir 2021. Volgens die amptelike Junie-statistieke het die US nou 32 255 studente, wat effens meer is as verlede jaar se 31 540. Wat huistaal betref, het 47,9% van studente Engels as moedertaal, 34,5% Afrikaans, 5% isiXhosa, 7,8% 'n ander amptelike Suid-Afrikaanse taal, en 4,9% 'n ander taal. Die Universiteit het 20 870 voor- en 10 577 nagraadse studente. Altesaam 7 763 studente gaan in Universiteitshuisvesting tuis. Vir bygewerkte inligting, klik op “Wie is ons?" > “Statistiese profiel" op die US-tuisblad, www.sun.ac.za.

Die impak van COVID-19 op skoolvlak

Die Raad het met kommer kennis geneem van die COVID-19-verwante leerverliese in die skoolstelsel wat ReSEP (die US se navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid) in hul bydrae tot die opname NIDS-CRAM (“National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile") uitgewys het.

Die US help vergoed hiervoor met die Telematiese Skoleprojek, 'n gesamentlike inisiatief met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. Dit is 'n landwye projek met 1 300 deelnemende skole, wat almal deur middel van 'n gratis webtuiste toegang tot video's, werkboeke en ander aanlyn inhoud van gehalte geniet. Begunstigdes kan inhoud hetsy by hul skole óf tuis kyk en bekom.

Die projek ondersteun leerders en onderwysers deur inhoud in 17 vakke in sowel Engels as Afrikaans te voorsien. Onderwysers ontvang ook beroepsontwikkelingsopleiding wat betref vakinhoud en persoonlike groei. 

AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie

Die US het onlangs medegasheer geword vir een van vyf sentrums van uitnemendheid van die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap (AUDA) en die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (NEPAD), naamlik die sentrum vir wetenskap, tegnologie en innovasie. Die doel van die sentrum is om kennis en wetenskapgegronde innovasies te bevorder wat die implementering van die Afrika-unie se Agenda 2063 sal ondersteun. 

Die sentrum is ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms tussen AUDA-NEPAD, die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die US gevestig, en is ideaal geleë om die wêreldklas- Stellenbosse wetenskap-en-innovasie-ekosisteem te benut.

Navorsingsuitset

In sy jaarlikse navorsingsuitsetverslag aan die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) het die US wéér 'n rekordgetal artikels in geakkrediteerde vakjoernale aangemeld, dié keer ten opsigte van die publikasie-uitsetjaar 2019. Die 1 596 artikels is 'n goeie verbetering op die 1 501 wat vir 2018 aangemeld is.

Finansiële bestuur te midde van COVID-19

Die Raad het kennis geneem van die ernstige impak van die pandemie op die finansiële vooruitsigte van die meeste instellings, waaronder die US. Die Universiteit se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het die impak van die pandemie tot dusver suksesvol deur sy werkstrome bestuur, en bykomende uitgawes word uit die Universiteit se gebeurlikheidsreserwe gefinansier.

COVID-19-verwante koste en verliese van sowat R108 miljoen is in 2020 uit die gebeurlikheidsreserwe gedek. Nuwe en voortgesette koste van 'n verdere R95,8 miljoen is tot dusver vanjaar gefinansier.

Die Universiteit bestuur steeds sy kontantvloei omsigtig van maand tot maand, maar die verbod op die gebruik van hoofbegrotingbalansfondse vir enige nuwe werksaamhede is deels opgehef. Omgewings mag nou tot 5% van hul huidige jaarlikse hoofbegrotingstoekenning vanuit balansfondse aan nuwe aktiwiteite bestee.

Geïntegreerde jaarverslag en finansiële state 2020

Die Raad het die US se geïntegreerde jaarverslag, wat die Universiteit se gekonsolideerde finansiële jaarstate insluit, op aanbeveling van die Oudit- en Risikokomitee goedgekeur.

Daar is kennis geneem dat die Universiteit 'n ongekwalifiseerde eksterne ouditverslag oor sy gekonsolideerde state vir die jaar geëindig 31 Desember 2020 ontvang het. Die Oudit- en Risikokomitee van die Raad het ook bevestig dat daar voldoende interne finansiële kontrolestelsels bestaan en dat daar nie gedurende die jaar enige wesenlike tekortkominge in die funksionering van dié stelsels was nie.

Die Raad het die US se lopendesaakstatus goedgekeur en die mening uitgespreek dat die Universiteit in 'n gunstige finansiële posisie verkeer, met voldoende hulpbronne om vir die volgende 12 maande met sy werksaamhede voort te gaan.

Die goedgekeurde geïntegreerde jaarverslag en finansiële state sal nou by die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie ingedien word, waarna 'n elektroniese kopie op die US-webtuiste geplaas sal word.

Gesprek oor taal aan die US

Die Raad het verslae van sy Taalkomitee ontvang en 'n aantal sake met betrekking tot taal aan die US bespreek, soos uit die volgende opsomming blyk.

Taalbeleid

Die US hersien vanjaar sy Taalbeleid (2016) as deel van 'n hersieningsiklus van vyf jaar. Die eerste konsep van die hersiene beleid is aan die Raad voorgelê, tesame met 'n reaksieverslag wat saamgestel is uit ál 330 voorleggings, hetsy van individue of belangegroepe, wat gedurende die eerste openbare deelnameproses ontvang is.

Die hersieningstaakspan stel nou 'n tweede konsep van die hersiene Taalbeleid saam, wat die insette uit die eerste openbare deelnameproses én uit daaropvolgende oorlegpleging met interne groepe en statutêre liggame sal in ag neem. Die tweede konsep sal teen die einde van Julie vir 'n tweede openbare deelnameproses beskikbaar gestel word. Dit sal ook in September vir verdere kommentaar aan die geskeduleerde vergaderings van die Institusionele Forum, Senaat en Raad voorgelê word.

Raadpleeg www.sun.ac.za/taal vir verdere inligting.

Deloitte-verslag

Die Raad het kennis geneem van die Deloitte-verslag oor gebeure ten opsigte van die gebruik van taal in sekere US-koshuise gedurende die verwelkomingstydperk in Maart 2021.

Deloitte het bevind dat daar geen opdrag deur die US-bestuur was om die gebruik van Afrikaans te verbied nie, dat koshuisleiers nie 'n algemene verbod op die gebruik van Afrikaans geplaas het nie, en dat huiskomiteelede ter wille van inklusiwiteit op die gebruik van Engels gedurende die verwelkomingstydperk besluit het, en nie om enigiemand van hul Afrikaanse taalregte te ontneem nie.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het die Raad in kennis gestel van die ondernemings wat die Rektoraat na aanleiding van die Deloitte-verslag gemaak het. Klik hier vir meer inligting.

Inheemse tale

Die Raad het die volgende mosie oor inheemse tale aanvaar: “Die US het met kommer kennis geneem van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se klassifikasie [van inheemse tale] in die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings (2020). Die US steun die siening dat Afrikaans en die Khoi- en San-tale inheemse tale is. Die Raad versoek die US-bestuur om gepaste stappe te doen om met die DHOO in gesprek te tree om hierdie kwessie te hanteer."

Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

Die tydgleuf vir verslagdoening deur 'n verantwoordelikheidsentrum (VS) is dié keer aan prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, toegeken. (Klik hier om sy volledige verslag te lees, en hier vir die PowerPoint-aanbieding.)

Hoogtepunte uit die verslag sluit die volgende in:

  • Personeelgesondheid en -welstand bly topprioriteite. Die Rektoraat het die US se Plan vir Personeelgesondheid en -welstand in November 2020 aanvaar, en implementering is aan die gang. 'n Institusionele komitee vir personeelgesondheid en -welstand is saamgestel, en die implementering van aanbevelings uit die opname oor welstand, kultuur en klimaat by die werk van 2019/20 vorder ook goed.
  • Dagsorg: Die Babin-sentrum word ondersteun deur 'n nuwe samewerkingsooreenkoms, die opknapping van hul fisiese geriewe, en 'n lening op gunstige voorwaardes om die sentrum se volhoubaarheid 'n hupstoot te gee.
  • Wat die bestuur van COVID-19 in die werkplek betref, het personeellede verskeie gesondheid- en welstandsgerigte hulpbronne en dienste tot hul beskikking. Boonop moedig die US personeellede aan om hulle te laat inent, en werk tans daaraan om werknemers se toegang tot inentingspersele uit te brei.
  • Die US se institusionele kultuur ontvang steeds prioriteitsaandag, met die klem op sowel kwalitatiewe as kwantitatiewe transformasie. Personeellede en studente se transformasievaardighede word versterk, en die US se Kode vir Diensbillikheid en Diversiteit sowel as die Diensbillikheidsplan 2021–2025 word geïmplementeer.
  • Die Raad het kennis geneem van die vordering én uitdagings om universele toegang by die Universiteit te bevorder, en van die pogings om personeellede met gestremdhede vir akademiese poste te werf. Die Universiteit het tans 607 studente en 33 personeellede met gestremdhede.
  • Te midde van COVID-19 voorsien die instelling steeds finansiering aan inisiatiewe vir sosiale impak. Die US Woordfees, Woorde Open Wêrelde (WOW), die US Koor en die Universiteitsmuseum bied innoverende programme in 'n hibridiese formaat.
  • Die prosesse van die US se Afdeling Menslike Hulpbronne (MH) word tans verbeter na aanleiding van 'n eksterne evaluering. Dít sluit in prosesse vir werwing, prestasiebestuur, loopbaanvordering (veral in PASD-omgewings), buigsame werkreëlings, sowel as erkenning, aansporings en bonusse.

Personalia

Die Raad het me Vuyiswa Doo as nuwe lid verwelkom. Die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie het haar aangestel om tot 23 Mei 2025 te dien. Me Doo, wat 'n MSc in Maatskaplike Beleid en Beplanning aan die London School of Economics verwerf het, is 'n MH-praktisyn in wat voorheen as MH-bestuurder van die Allan Gray Orbis-stigting gedien het. Sy is ook 'n voormalige Raadslid van die Universiteit van Kaapstad.

Mnr Anthony Dietrich, nóg 'n ministeriële aanstelling, is vir 'n verdere termyn aangestel, ook tot 23 Mei 2025. Daarbenewens het die Raad Maandag besluit om mnr Dietrich weer aan te stel in die Taalkomitee van die Raad vir die res van die komitee se huidige termyn, tot 31 Desember 2022.

Die Minister het ook me Ziyanda Stuurman vir 'n verdere termyn van 13 Julie 2021 tot 12 Julie 2025 aangestel.

Die Raad het mnre Jannie Durand en Faffa Knoetze vir 'n verdere termyn as lede van Stellenbosch Trust aangestel. Hul nuwe termyne is tot 21 Junie 2026.

Boonop het die Raad afskeid geneem van mnr Xola Njengele en me Ayesha Abou-Zeid, wat albei deur die Studenteraad verkies is. Hul termyn verstryk op 17 September 2021, kort voor die volgende geskeduleerde Raadsvergadering. Raadsvoorsitter mnr George Steyn het hulle vir hul bydraes bedank en hulle sterkte toegewens met hul studies.

Laastens het die Raad die volgende lede met hul onlangse publikasies gelukgewens:

  • Prof Amanda Gouws (medesamesteller saam met Olivia Ezeobi), COVID Diaries: Women's Experience of the Pandemic (Graffiti Boeke). Sy is ook gelukgewens met haar heraanstelling as uitgelese professor
  • Prof Aslam Fataar (medeskrywer saam met Johann Burger), Skoolleierskap en die Skep van Produktiewe Leerruimtes in Skole (African Sun Media)
  • Me Ziyanda Stuurman, Can we be safe? The future of policing in South Africa (NB Uitgewers)

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die Raad vind op 27 September 2021 plaas.