Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Deloitte-verslag oor taal in US-koshuise
Outeur: Prof Deresh Ramjugernath: Deputy Vice-Chancellor: Learning and Teaching / Viserektor: Leer en Onderrig​
Gepubliseer: 14/06/2021

14 Junie 2021

Beste lid van die US-gemeenskap

U is waarskynlik bewus van die aantygings wat teen die Universiteit Stellenbosch (US) gemaak is met betrekking tot die implementering van ons Taalbeleid in die koshuisomgewing tydens die verwelkomingstydperk in Maart vanjaar.

Ons het 'n interne ondersoek onderneem en die saak ook na Deloitte verwys vir 'n onafhanklike forensiese ondersoek, gegewe die erns waarmee ons die bewerings beskou. Ons het hul verslag nou ontvang en ek deel graag die vernaamste bevindinge en aanbevelings met u.

Agtergrond

Om saam te vat – daar is beweer dat, tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die 2021 akademiese jaar, studenteleiers en administrateurs by sommige US-koshuise glo studente verbied het om in Afrikaans met mekaar te praat, insluitend informeel.

Toe die Universiteit van hierdie bewerings bewus geword het, het ons onmiddellik 'n interne ondersoek van stapel gestuur, en het ons Sentrum vir Studentegemeenskappe dadelik begin om met studenteleiers en studente in koshuise te skakel om te werk aan 'n gedeelde begrip van die Taalbeleid. En wat ons betref, is die kwessies bevredigend opgelos.

Daar is in die media verslag gedoen oor die bewerings, en die Vryheidsfront Plus en die Demokratiese Alliansie het klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aanhangig gemaak. Die Kommissie het ʼn ondersoek geloods en kennis aan prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gegee om op 10 Mei by 'n verhoor op Stellenbosch te verskyn.

Die volledige verklaring wat by die verhoor deur prof De Villiers gemaak is, is hier beskikbaar, en u kan hier klik vir 'n opsommende berig op die Universiteit se webwerf.

Die SAMRK het 'n tweede rondte verhore vir 14 en 15 Junie geskeduleer, weereens by STIAS. Ons het 'n opvolgverslag na aanleiding van ons eerste verskyning ingedien en ook die Deloitte-verslag aan die Kommissie verskaf.

Bevindinge in die Deloitte-verslag

Deloitte het ondersoek ingestel na klagtes wat verband hou met die Minerva-, Irene- en Francie van Zijl-koshuise en die Capri privaat studente organisasie (PSO), en die volgende gevolgtrekkings gemaak:

Minerva:

  • Daar was nie 'n US-bestuursopdrag om die gebruik van Afrikaans te verbied nie.
  • Koshuisleiers het nie 'n verbod op die gebruik van Afrikaans geplaas nie.
  • Verskeie huiskomiteelede het uitgesluit gevoel as gevolg van die gebruik van taal toe hulle destyds eerstejaars by Minerva was en wou dus die verwelkomingstydperk in 2021 meer inklusief maak.
  • Die meerderheid nuwelinge aan die Universiteit het ingekoop in die idee om Engels ter wille van inklusiwiteit tydens die verwelkomingstydperk te gebruik, maar die omvang van implementering is nie aanvanklik duidelik gedefinieer en gekommunikeer nie, wat gelei het tot bespiegeling dat die Verwelkomingsprogram gebruik is om Afrikaanse taalregte weg te neem.

Irene:

  • Deloitte het nie enige bewyse geïdentifiseer wat ʼn beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans by Irene tydens die verwelkomingstydperk staaf nie.

Huis Francie van Zijl:

  • Volgens Deloitte blyk dit dat ʼn amptelike klag by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid aanhangig gemaak is oor ʼn beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans in Huis Francie van Zijl op ons Tygerberg-kampus wat terugdateer na ʼn tydperk tussen 2018 en 2020. Die Eenheid het ʼn anonieme opname aanbeveel, waartoe koshuisleiers ingestem het, maar ʼn gebrek aan kommunikasie kon daartoe kon gelei het dat die student wat die klag ingedien het, voel pogings om die saak by te lê, was futiel.

Capri:

  • Deloitte kon geen bewyse identifiseer om ʼn vermeende verbod op die gebruik van Afrikaans deur die Capri privaat studente organisasie (PSO) tydens die amaMaties-dag op 6 Maart 2021 te staaf nie.

Aanbevelings in die Deloitte-verslag

Die Deloitte-verslag sluit aanbevelings ten opsigte van Minerva en Huis Francie in, maar hulle voer aan dit kan breedweg by die US implementeer kan word. Die eerste hiervan is dat koshuisleiers oor die US Taalbeleid en die implementering daarvan in koshuise opgevoed moet word, asook oor klagteprosedures met betrekking tot die gebruik van taal.

Deloitte beveel ook aan dat koshuisleiers in toekomstige verwelkomingstydperke:​

  • moet spesifiseer dat die gebruik van 'n gedeelde taal 'n versoek is vir inklusiwiteit en nie 'n opdrag met die doel om die regte van enige ander taal te ontken nie;
  • duidelik moet definieer watter gedeeltes van die Verwelkomingsprogram onderhewig sal wees aan die gebruik van 'n gedeelde taal;
  • studente wat ongemaklik voel om Engels te praat moet toelaat om hul huistaal te laat tolk ter wille van inklusiwiteit;
  • die gebruik van 'n gedeelde taal in die bou van nuwe vriendskappe moet vier; en
  • nuwelinge moet inlig van die prosesse om klagtes te hanteer, asook die relevante eskalasie-prosedures.

Reaksie van die US-bestuur op die Deloitte-verslag

Die Rektoraat het kennis geneem van die bevindinge en aanbevelings van die Deloitte-verslag en sal die volgende onderneem om dit aan te spreek:

  • Opleidingsprogramme sal ontwikkel word om te verduidelik presies wat die Universiteit met meertaligheid bedoel en hoe dit beliggaam en toegepas moet word. Dit sal insluit sensitiwiteitsopleiding met betrekking tot uitsluitende taal en gedrag.
  • Daar sal meer opleiding plaasvind met betrekking tot die implementering van die Taalbeleid in studentegemeenskappe – nie slegs tydens die verwelkomingstydperk nie maar ook in die verloop van die eerste en daaropvolgende jare.
  • Die inligting oor die Taalbeleid in die US se institusionele verwelkomingsboekie sal uitgebrei word om 'n beter verduideliking van die proses vir klagtes te verskaf.
  • Tweejaarlikse verslagdoening oor die implementering van taal sal vanaf die tweede semester van 2021 in studentegemeenskappe ingestel word. Hierdie verslae sal dieselfde verslagdoeningsproses volg as wat tans gebruik word met betrekking tot fakulteitsverslae.

Laastens gee ek aan u die versekering dat ons verbind bly tot inklusiewe meertaligheid aan die US, veral met inagneming van die diversiteit van ons samelewing en die rykdom inherent aan daardie diversiteit. Soos die Rektor op 10 Mei in sy voorlegging aan die SAMRK gesê het, glo ons dat ons benadering tot taal ons studente meer keuses, breër toegang en 'n beter toekoms bied.

Ons studenteliggaam het die vermoë getoon om probleme met betrekking tot die gebruik van taal op te los, bygestaan deur ons Sentrum vir Studentegemeenskappe. Ons wil selfs beter doen in ons hantering van die kompleksiteite en moontlikhede van meertaligheid. Die US is 'n plek van opvoeding – ons sal dus hierdie episode gebruik om die ervaring wat ons aan ons studente verskaf, te verbeter.

Vriendelike groete,

 

Prof Deresh Ramjugernath

Viserektor: Leer en Onderrig​