Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe leersentrum sal radiodiagnose kundigheid versterk
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 22/06/2021

Die opleidingsvermoë en kundigheid van die Afdeling Radiodiagnose aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan aansienlik versterk word danksy 'n globale leersentrum wat met die hulp van die Radiologie-vereniging van Noord-Amerika (RSNA) daar gevestig word.

Die konsep van 'n globale leersentrum is die mees onlangse inisiatief van die RSNA se Komitee vir Internasionale Radiologie-opvoeding. Die doel daaragter is samewerking met 'n spesialisradiologie-opleidingsprogram in 'n lae- of middelinkomsteland sodat die opleidingsvermoë en kundigheid op daardie platform versterk kan word, verduidelik prof. Richard Pitcher, hoof van die Afdeling Radiodiagnose aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidwetenskappe.

Die US se Afdeling Radiodiagnose was die eerste ter wêreld wat hiervoor gekies is nadat 24 belangstellende instellings uit 14 lae- of middelinkomstelande aansoek gedoen het.

“Die toekenning bevestig die gehalte van die US se bestaande spesialis-opleidingsplatform in diagnostiese radiologie. Dit erken die gehalte van die akademiese leierskap in sy geheel, die teenwoordigheid van 'n stabiele en uitsonderlik toegewyde groep akademiese personeellede, die departementele navorsingsuitsette en -samewerking, die omvang van kliniese dienste aan die US se opleidingshospitale en die teenwoordigheid van moderne beeldingstoerusting wat goed onderhou is, insluitend 'n ten volle digitale, filmlose en papierlose beeldingsdepartement. Die toekenning erken in wese die voorste plek wat die US se radiologie-opleidingsprogram onder eweknieë in lae- en middelinkomstelande beklee," sê Pitcher.

Volgens hom het sy afdeling om erkenning as 'n globale leersentrum aansoek gedoen omdat die program deur middel van die mentorskap van kundiges in Noord-Amerika 'n uitstekende geleentheid bied vir loopbaanontwikkeling en -koersbepaling vir die tien voltydse spesialiste wat deel van die akademiese personeel uitmaak. “Die gedagte is dat ons akademiese personeel ingevolge die program met bykomende kliniese en opleidingskundigheid toegerus word in sekere hoogs gespesialiseerde aspekte van diagnostiese beelding. Dit sal weer tot groot voordeel van ons nagraadse studente strek en, waarskynlik die belangrikste, tot verbeterde pasiëntsorg bydra."

Die US se Afdeling Radiodiagnose het al meer as 'n dekade lank 'n informele en baie vrugbare verbintenis met die RSNA se Komitee vir Internasionale Radiologie-opvoeding. Die US het in hierdie tydperk aan die komitee se program vir besoekende internasionale professore deelgeneem en by twee geleenthede as gasheer opgetree vir besoekende dosente uit Noord-Amerika.

“In dieselfde tydperk het ons nagraadse studente baatgevind by die komitee se inleidingsprogram tot navorsing vir jong akademici. Suksesvolle studente ontvang 'n reis-en-verblyfbeurs om by die RSNA se jaarlikse byeenkoms in Chicago aan 'n vyfdaagse mentorskapsprogam deel te neem."

Die jongste program het begin 2020 afgeskop en behels dat akademiese personeel opleiding ontvang in drie sleutelaspekte van diagnostiese beelding, naamlik muskuloskeletale, hart- en longradiologie.

Dr Mark Cresswell, 'n muskuloskeletale radioloog van die Universiteit van Brits-Columbië in Vancouver, Kanada, staan aan die hoof van die program. Uit Amerika word hy bygestaan deur proff. Prachi Agarwal, professor in radiologie and direkteur van die Afdeling vir Kardiotorakale Beelding aan die Universiteit van Michigan, Brian Mullan, kliniese professor in radiologie en hoof van Longbeelding by die Carver-kollege vir Geneeskunde aan die Universiteit van Iowa, en Omer Awan, medeprofessor in radiologie en muskuloskeletale radioloog aan die Universiteit van Maryland se Skool vir Geneeskunde.

Die opleiding geskied op 'n hibriede platform, wat besoeke aan die US, aanlyn onderrigmateriaal en interaktiewe webinars insluit.

Nagenoeg R900 000 is beskikbaar gestel vir 'n virtuele klaskamer wat binne die volgende drie maande gefinaliseer sal word. Dit sal die platform voorsien vir intydse onderrig, kliniese demonstrasies en interaksie tussen afgeleë persele, in hierdie geval tussen die US en verskeie persele in Noord-Amerika, met hoëspoed- internetverbindings, moderne rekenaarsagteware en die nuutste oudiovisuele tegnologie wat ingespan sal word om kommunikasie te optimaliseer.

Met Covid-19 moes daar egter sekere aanpassings gemaak word en die program sal nou weens reisbeperkings langer duur as die driejaar-termyn wat aanvanklik beoog is, sê Pitcher.


Foto-erkenning: PIXABAY