Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaanse jong wetenskaplikes gaan deelneem aan die hoë tegnologie wetenskapkompetisie in Hong Kong
Outeur: Erika Hoffman
Gepubliseer: 21/06/2021

​'n Innoverende Suid-Afrikaanse wetenskaplike navorsingsprojekte oor prostesebeheer met behulp van spierimpulse, gaan by die 2021 Virtual Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) Science Fair in Hong Kong met ander hoëtegnologie-studies meeding.

Eskom se hoofbestuurder van risiko en volhoubaarheid, Andrew Etzinger, het gesê dat die GYSTB 'n uiters mededingende wetenskapkompetisie is en bekend is daarvoor dat deelnemers voorpunttegnologie navorsingsprojekte op die gebied van kunsmatige intelligensie en robotika inskryf.

“Dit beklemtoon die internasionale standaard van ons plaaslike projekte. Eskom wens Catherine Kies, wat 'n silwer medalje vir haar projek in die 2020 Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes kompetisie verower het, alle sterkte toe wanneer sy teen top jong wetenskaplikes uit 26 verskillende lande te staan gaan kom. Ons belegging in die ontwikkeling van jong wetenskaplikes en ingenieurs in Eskom Ekspo bly onwrikbaar,"het Etzinger gesê.

Catherine Kies, 'n graad 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het oorspronklik haar projek by die Stellenbosch streek van Ekspo vir Jong Wetenskaplikes ingeskryf. Sy het 'n handprostese ontwikkel wat via myo-elektriese impulse vanuit die arm van 'n persoon werk. Dit behels die beweging van 'n mens se arm wat dan deur 'n meganiese klou presies herhaal word. Kies het verskillende metodes en materiale gebruik om die handprostese met merkwaardige akkuraatheid te ontwikkel. Hierdie 15-jarige het beslis bygedra tot 'n groeiende hoeveelheid navorsing oor die beheer van prosteses deur die gebruik van spierimpulse.

"Die klou is uiters eenvoudig en het net twee posisies - oop en toe. As die stelsel as 'n praktiese prostese gebruik word, sal 'n gevorderde multi-vinger hand ontwerp moet word. Die sagteware sal opgegradeer moet word om meer beheerde en proporsionele bewegings moontlik te maak", het Kies gesê.

Die GYSTB-wetenskapkompetisie word deur die Hong Kong Federation of Youth Groups georganiseer. Dit het ten doel om 'n platform vir jong wetenskaplikes van regoor die hele wêreld te bied om hul kreatiwiteit en wetenskaplike ingesteldhede verder te ontwikkel en om die uitruil van wetenskaplike idees, belangstellings en vermoëns te vergemaklik. Beoordeling vind op 19 Junie plaas, met 'n toekenningsgeleentheid wat op 20 Junie beplan word.

Eskom Expo se uitvoerende direkteur, Parthy Chetty, het gesê: “Selfs tydens krisisse soos die Covid-19-pandemie leef jong wetenskaplikes soos Catherine steeds hul passie vir die wetenskappe uit, en brei hulle hul klaskamerkennis tot ver buite die normale grense uit, selfs tot by Hong Kong. Terwyl ons jeugmaand vier, moet ons hierdie jong wetenskaplikes gelukwens met die feit dat hulle Suid-Afrika op die internasionale toneel verteenwoordig. "

Registrasie is oop vir deelname aan Eskom Expo se virtuele provinsiale wetenskapkompatisie in 2021. Leerders in graad 7 tot 12 in die Stellenbosch-streek kan meer uitvind deur na http://bit.ly/StellenboschExpo te gaan.