Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gedenk Jeugdag met Roete vir Sosiale Geregtigheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/06/2021

​Om Jeugdag te gedenk, het prof Thuli Madonsela, bekleër van die navorsingsleerstoel in sosiale geregtigheid in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid, saam met Dwarsrivier Toerisme en Visit Stellenbosch 'n Roete vir Sosiale Geregtigheid bekend gestel. Die 16 km lange roete loop deur Stellenbosch tot by die voormalige slawedorp Pniël.

Die doel van die roete is om sosiale geregtigheid te bevorder teen die agtergrond van Suid-Afrika se onstuimige verlede. Deur die onreg van die verlede te erken, wil die US hoop en inspirasie skep en die enorme potensiaal van die land se mense ontsluit.

Prof Madonsela het die staptog gelei en eregaste soos die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die munisipale bestuurder van Stellenbosch, Geraldine Mettler, het aangesluit. Die projekvennoot Pelgrimstog van Hoop het ook deelgeneem. 

In sy verwelkomingsrede by die beginpunt van die roete, die Rynse Sendingkerk op Stellenbosch, het dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie aan die US, gesê die inisiatief is 'n simbool van wat die Universiteit graag in Suid-Afrika wil sien gebeur. “Die roete is 'n fantastiese geleentheid om iets oor ons dorp, ons saamwees en ons verhaal te vertel, en om 'n boodskap uit te stuur wat ons land bitter nodig het," het Van Rooi gesê.

By die eerste stopplek op die roete – die Ou Lückhoffskool in Banhoekweg, waar die Lückhoff Lewende Museum nou is – het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, 'n paar gedagtes oor die betekenis van die terrein met toehoorders gedeel. Weens die Groepsgebiedewet van 1950 is Lückhoff-leerders in 1969 gedwing om hulle geliefde skool te verlaat en na die nuwe Lückhoffskool in Idasvallei te verskuif. Met die skep van die Lückhoff Lewende Museum, wat wyle prof Russell Botman, destydse Rektor en Visekanselier van die US, in 2007 bekend gestel het, is die Ou Lückhoffskool-gebou simbolies terugbesorg aan diegene wat dit oorspronklik gebruik het. Die fasiliteit dien tans as kantore vir die US se Afdeling Sosiale Impak en talle Stellenbosse nieregeringsorganisasies.

“Die Lückhoff Lewende Museum is 'n plek waar ons die verhale van die verlede, dikwels ook baie pynlike verhale, kan onthou en herontdek," het De Villiers gesê. “Rolprente, foto's en uitstallings herinner ons aan die onreg van die verlede. 

“Die Lückhoffskool is 'n uiters betekenisvolle terrein. Al was die gedwonge verskuiwings op grond van mense se velkleur die handewerk van die vorige regering, wil ons, as die Universiteit, opreg om verskoning vra dat ons nie destyds teen die verskuiwings beswaar gemaak het nie. Ons het baat gevind by die verskuiwings én by die eiendom waarop daar beslag gelê is. Dit was en is 'n onreg. Ons erken ons aandeel aan die onreg van die verlede, en ons verbind ons opnuut tot regstelling en ontwikkeling.

“Op Jeugdag moet ons ook onthou wat op dié dag in 1976 gebeur het, sowel as gebeure voor en ná daardie dag. Ons moet seker maak dat dit nie weer gebeur nie. So, vandag onthou ons die mense van hierdie gebied, en die studente en onderwysers van die Ou Lückhoffskool."

Prof Madonsela het bygevoeg: “Nie een van ons wat vandag leef, het die slawerny, gedwonge verskuiwings en ander onreg van die verlede veroorsaak nie. Maar die sosio-ekonomiese gevolge wat sedertdien opgehoop het, is nou ons s'n om te hanteer, en verhoed maatskaplike samehang en volhoubare ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling.

“Wat egter bemoedigend is, is dat ons hier is in ons diversiteit, verenig in ons besef van die kosmiese kragte wat ons saam in hierdie pragtige land geplaas het, en in ons toewyding aan sosiale geregtigheid. Saam stel ons die Roete vir Sosiale Geregtigheid bekend as 'n klein dog betekenisvolle stap om die verdeeldheid van die verlede te bowe te kom en 'n korridor van hoop te skep wat ons gemeenskappe aan mekaar bind en vorentoe neem."