Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US afwentelmaatskappy help skool om eerste energie-doeltreffende sertifikaat in SA te kry
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 10/06/2021

​Die afwentelmaatskappy van die Universiteit Stellenbosch (US), GreenX Engineering, se inisiatiewe om die Laerskool Cloetesville in Stellenbosch toe te rus met energiebesparende tegnologie, het gemaak dat dit die eerste skool in Suid-Afrika is wat 'n elektriese prestasiesertifikaat (EPC) ontvang het​. Die skool het 'n A-gradering vir elektriese verbruik van 17 kWh per m² gekry.

Die EPC is die hoogtepunt van harde werk en toewyding, 'n groot spanpoging en 'n sprong oor die laaste hindernis om sy doktorsgraad te voltooi, sê Jason Samuels, besturende direkteur van GreenX.

Onder toesig van Thinus Booysen, professor in elektriese en elektroniese ingenieurswese, en Saartjie Grobbelaar, medeprofessor in bedryfsingenieurswese, doen Samuels sy PhD met die fokus op skole en hul energieverbruik; die skep van metodes om hul verbruik te verminder en stelsels om die skool doeltreffender te bestuur.

Samuels, Booysen en Grobbelaar het saam met die entrepreneur Mario Roos, GreenX Engineering gestig met behulp van Innovus Tegnologie-oordrag, die US se innovasie-afdeling. Booysen en Grobbelaar is albei nie-uitvoerende direkteure van GreenX Engineering.

“Die eerste saadjie van GreenX Engineering is twee jaar gelede geplant nadat ek prof Booysen oor die radio hoor praat het oor sy betrokkenheid by projekte om skole in en om Stellenbosch en die Paarl te help om water en elektrisiteit te bespaar. Ek het besef dat my gespesialiseerde maatskappy vir beligting en elektriese instandhouding 'n noodsaaklike vennoot kan word vir Booysen se inisiatiewe by skole," het Roos gesê en die gesprekke het begin.

Roos het gesê dat toe die wysiging van die Nasionale Energiewet van 1998 in Desember 2020 deur die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie geproklameer is, wat vereis dat gebou-eienaars die elektriese verbruik per vierkante meter teen 2022 moet publiseer, het hulle 'n gaping in die mark gesien om 'n maatskappy te stig wat kan verseker dat geboue aan hierdie nuwe regulasie voldoen.

As GreenX se tegniese direkteur, bied Booysen die tegniese kundigheid en ervaring van die maatskappy om skole te help om meer energie-doeltreffend te word en hul elektrisiteits- en waterrekeninge te verminder. “Daar is baie skole sonder finansiële of tegniese middele om hul energie- en waterbronne doeltreffend te bestuur. Ons het aanvanklik met dertien skole begin, en hierdie getal het gegroei tot 25 skole in die Stellenbosch- en Paarl-omgewing. Danksy die befondsing van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sowel as die US se sosiale impak en transformasie-afdeling, kan ons hierdie skole toerus met energiebesparingstegnologie om hulle te help om hul energierekeninge te verlaag," sê Booysen.

Vir Roos is die droom om energie-doeltreffendheid by alle Suid-Afrikaanse skole te verseker en hulle koolstofvoetspoor aktief te verminder. “Ons berekeninge toon dat ons 120 kg koolstofvrystellings per skool per dag kan verwyder. As ons dus ons program kan uitbrei om al 1 600 skole in die Wes-Kaap in te sluit, sal dit uitloop op 'n verwydering van 90 miljoen kg koolstofvrystellings per jaar. "

Roos glo dat hulle 'n bloudruk skep wat regoor die land en internasionaal gedupliseer kan word. "Ons aanvanklike fokus is skole waarna ons na korporatiewe en regeringsgeboue regoor die land sal uitbrei."

Vir Grobbelaar sal die sakemodel wat hulle geskep het, die maatskappy laat groei en 'n stewige skakel met die US se ingenieurswese-kundigheid behou. “Inisiatiewe soos hierdie bring die US se navorsing na die regte wêreld en verander die lewens van mense - wat tans op skoolvlak begin; 'n plek waar alle mense op 'n stadium in hul lewens moet deur beweeg."

OORHANDIGING

By 'n funksie by Cloetesville Primêr in Stellenbosch vandag (10 Junie 2021), het die adjunk-direkteur-generaal: onderwysbeplanning van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, Salie Abrahams, die skool se EPC-sertifikaat op 10 Junie 2021 aan die skoolhoof Rodger Cupido oorhandig.

Vir Cupido is die doelwit om 'n volhoubare en energiedoeltreffende skool te word, hoog op sy prioriteitslys. “Ons skool staan ook bekend as die Groenskool," sê hy, met verwysing na die tydelike groen struktuur wat gedien het as die oorspronklike skoolgebou toe die skool in 1969 gestig is."Nou is ons groen omdat ons energie-doeltreffend is."

Prof. Stan du Plessis, uitvoerende bedryfshoof van die US, het Cloetesville Primêr geluk gewens met hul EPC-sertifikaat, en gesê dit is baie simbolies om hierdie sertifikaat by 'n skool te oorhandig. “Dit is nie my generasie nie, maar dié van my kinders wat daaronder gaan ly as ons nie 'n verskil aan ons omgewing maak deur energiebesparingsprojekte soos hierdie aan te pak nie. Met hierdie projek sien ons wat die impak is as ons idees na die mark neem – ons het wonderlike maatskappye soos GreenX tot stand laat kom wat 'n skool soos Cloetesville Primêr kan help om 20% op hul maandelikse energierekening te bespaar."

Abrahams sê daar is geweldig baie trots in hierdie benadering om 'n vennootskap tussen die WKOD, plaaslike owerhede, die Universiteit, die skool en die private sektor te gevorm het. “My dankbetuiging gaan aan almal wat bygedra het tot hierdie projek en aan die leiding van hierdie skool wat, ondanks uitdagings en beperkings, dit kon laat gebeur en ons kinders aan die ontwikkeling van 'n ondernemingsgees kann blootstel – om aan hulle te wys hoe jong entrepreneurs vlug kan gee aan hul idees. Ons hoop om deel te wees van 'n groter projek wat hieruit lei. "


NOTA: EPC-sertifisering verwys na die meting van die netto energie wat in kilowattuur per vierkante meter (kWh / m²) verbruik word om aan die verskillende behoeftes verbonde aan die gebruik van die gebou te voldoen. Energieprestasiesertifikate is nou verpligtend vir private sektor, nie-residensiële geboue met 'n totale netto vloeroppervlakte van meer as 2 000 m², en regeringsgeboue van meer as 1000 m². Die sertifikate moet by die hoofingang van die gebou vertoon word; en moet by die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut (SANEDI) ingedien word. Die sertifikaat is geldig vir vyf jaar, waarna dit hernu moet word.

 

NOTA: die Universiteit Stellenbosch (US) het in Februarie vanjaar die heel eerste Elektriese Prestasiesertifikaat (EPC) vir enige gebou in Suid-Afrika ontvang. Die US se Admin B-gebou het 'n A-gradering vir elektriese verbruik van 48 kWh per m² gekry.