Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
WhatsApp Chat Bot help mense met diabetes gedurende die pandemie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 09/06/2021

Die COVID-19-pandemie het geweldige druk op gesondheidsdienste geplaas om maniere te vind om voortgesette sorg te verskaf aan pasiënte met chroniese kondisies, soos diabetes. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs 'n loodsprojek van stapel gestuur met die naam GREAT4Diabetes wat hoop om hierdie probleem te help oplos in die Wes-Kaap.

Op 8 Maart 2021 het die US se Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, tesame met die Metro-Gesondheidsdienste, en Aviro, 'n WhatsApp Chat Bot geloods wat opvoedkundige boodskappe oor diabetes uitstuur aan pasiënte om hulle te help om hulle glisemiese vlakke te beheer. Aviro is 'n gesondheidsmaatskappy wat daarop gemik is om pasiënte se gesondheidsorgervarings te verbeter deur middel van tegnologie en doeltreffende ontwerpe.

'n Kwart van Suid-Afrikaners oor die ouderdom van 45 het diabetes, en in Kaapstad is die getalle nog hoër, volgens, die Vereniging vir Endokrinologie, Metabolisme en Diabetes in Suid-Afrika (SEMDSA).

Mense met diabetes het 'n hoë risiko vir COVID-19 komplikasies

Diegene met diabetes, veral as dit nie goed beheer word nie, het 'n hoë risiko vir hospitalisasie as hulle positief toets vir Covid-19 – trouens, ongeveer 42% van diabete in die Wes-Kaap wat positief getoets het vir COVID-19, is gehospitaliseer en baie het gesterf, volgens die Wes-Kaap se Gesondheidsdepartement.

"Die voortgesette behandeling van chroniese siektes tydens 'n pandemie is 'n wêreldwye probleem, en dit is selfs nog 'n groter probleem in 'n opset met beperkte bronne," volgens dr Darcelle Schouw, biokinetikus by die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg. "Hoe verskaf mens voortgesette sorg aan pasiënte met chroniese kondisies vir wie dit gevaarlik kon wees om na die gesondheidsfasiliteit te kom, en sodoende aan die risiko vir infeksie met COVID-19 blootgestel word?"

Op 'n praktiese vlak beteken dit dat ondersteuningsgroepe nie vergader nie, en dat normale dienste, soos individuele pasiënt-opvoeding en berading, onderbreek is.

Die GREAT4Diabetes-projek is daarop gemik om hierdie tekortkominge aan te spreek, terwyl die nodige sosiale distansiëring steeds gehandhaaf word om infeksies te probeer verhoed. Die projek behels 'n WhatsApp Chat Bot, wat opvoedkundige boodskappe oor diabetes uitstuur, om sodoende pasiënte te help om hulle glisemiese vlakke beter te beheer terwyl hulle nie toegang het tot die gewone ondersteuningstelsels nie.

GREAT4Diabetes word gebied aan mense met diabetes by die gesondheidsentrums in Bishop Lavis, Symphonyweg, Elsiesrivier en Kraaifontein. Gemeenskapsgesondheidswerkers sal ook die diens aan mense met diabetes aanbied wanneer hulle medikasie by mense se huise aflewer.

"Hierdie is die ideale oplossing vir 'n opset met beperkte bronne. Ons weet dat die selfoondekking goed is in arm gemeenskappe, en dat mense dit wel kan bekostig om te betaal vir klein hoeveelhede data. Klein oudioboodskappe gebruik minimale data en behoort 'n werkbare oplossing te bied om ondersteuning te verskaf vir die self-bestuur van diabetes," sê Schouw.

WhatsApp boodskappe gemik op die verbetering van glisemiese beheer

Inligting vanaf die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg beskryf die proses wat gevolg word soos volg:

"Die intervensie bestaan uit 16 drie-tot-vier minuut oudioboodskappe, wat partykeer ook 'n prentjie by het. Wanneer die persoon met diabetes die boodskap 'Hi' aan die aangewese WhatsApp-nommer gestuur het, registreer hulle vir die program, nadat hulle die standaard bepalings en voorwaardes van Aviro aanvaar het. Hulle deel ook sleutelinligting (geslag, ouderdom en taalvoorkeur). Dan ontvang hulle outomaties 'n oudioboodskap elke dag vir 16 dae. Hulle moet reageer op 'n vraag na elke oudioboodskap oor of die inligting nuttig was of nie (ja of nee), om seker te maak dat hulle verder boodskappe ontvang."

Die inhoud van die oudioboodskappe is afkomstig van die Group Empowerment and Training (GREAT) program, wat op 'n nasionale grondslag beskikbaar gemaak is voor die begin van die COVID​-19-pandemie. Die oudioboodskappe is in drie tale opgeneem, naamlik Engels, Afrikaans en Xhosa.

"Die GREAT4Diabetes-projek het eers begin in Maart, dus is dit bietjie vroeg vir terugvoering oor die sukseskoers van die projek, maar nietemin is daar belowende tekens," sê Schouw.

"Die getalle is aan die toeneem soos die gemeenskapsgesondheidswerkers mense in die verskillende gemeenskappe hieromtrent inlig, veral wanneer hulle medikasie aflewer. Slegs mense met ernstige mediese probleme besoek tans die primêre sorgfasiliteite, en daar is geen roetine afsprake nie, dus is die getalle by die verskillende fasiliteite laag. Ons kan nog nie spesifieke getalle verskaf nie, aangesien die getal gebruikers verskil van dag tot dag."

Ook betrokke by die GREAT4Diabetes-projek is die huisartse by die gesondheidsentrums, asook die oorhoofse gesondheidsbestuurder van die Noord-Tygerberg Substruktuur.

As hierdie projek suksesvol is, voorsien Schouw dat hierdie soort WhatsApp Chat Bot uitgebrei kon word om te help met die behandeling van ander chroniese siektes, nie net in die Wes-Kaap nie, maar dwarsoor die res van Suid-Afrika. Sy meld dat die Nasionale Departement van Gesondheid reeds belangstelling in hierdie projek getoon het.


Foto-erkenning: PIXABAY