Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing oor indringerbiologie is grondslag vir SA se stryd teen indringers
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 08/06/2021

Die navorsing wat deur instellings soos die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (SANBI) en die DWI/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch Universiteit gedoen word, vorm die grondslag vir Suid-Afrika se stryd teen biologiese indringers.

By die onlangse bekendstelling van die tweede amptelike verslag oor biologiese indringers het die minister van bosbou, visserye en die omgewing, me Barbara Creecy, gesê die stand-van-sake-verslag  “het 'n uitstekende  grondslag gelê waarop 'n omvattende moniterings- en verslaggewingsprogram gebou kan word, wat navorsing en implementeringsaksies kan rig".

Die verslag, getiteld: “Status of Biological Invasions and their Management in South Africa", is op 28 Mei 2021 tydens 'n mediakonferensie by die Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad bekend gestel.

SANBI se waarnemende hoof- uitvoerende beampte, me Carmel Mbizvo, het in haar verwelkomingstoespraak beklemtoon dat daar wêreldwyd baie min verslae is wat so 'n omvattende dekking van die veld van biologiese indringers op 'n nasionale vlak gee.

Die hoofouteurs van die verslag, dr Tsungai Zengeya en prof John Wilson, beide verbonde aan SANBI en die SIB, het die 36 kundiges van 16 organisasies bedank vir hulle bydraes ten opsigte van tyd en hulpbronne ten einde die verslag te kon saamstel en finaliseer. Klik hier om na hulle voorlegging van die hoofbevindings van die verslag te luister.

 


Prof Dave Richardson, direkteur van die Sentrum vir Indringerbiologie, sê hulle werk ten nouste saam met SANBI en verskeie ander vennote om die kernuitdagings wat met biologiese indringings in Suid-Afrika gepaard gaan, te oorkom: “Die SIB se bydraes tot die stand-van-sake-verslag vorm 'n belangrike deel van ons bydrae tot nasionale beleid. Dit sluit byvoorbeeld verslaggewing oor die status van indringers, sowel as die moontlike intervensies om hierdie indringings die hoof te bied, in."

Die verslag verskaf inligting oor 1 880 spesies wat uitheems tot Suid-Afrika is (15% meer spesies as in die vorige verslag wat elke drie jaar saamgestel word), waarvan ongeveer 'n derde as indringers beskou word. Biologiese indringing word tans as die derde grootste bedreiging vir Suid-Afrika se biodiversiteit beskou - naas landboupraktyke en grondagteruitgang - en is vir 25% van alle biodiversiteitsverlies verantwoordelik.

Ander betekenisvolle bevindings is:

  • Huidige skattings raam die ekologiese koste verbonde aan indringer- uitheemse plante en diere, op meer as R6,5 miljard per jaar. Dit sluit byvoorbeeld 'n afname in ekosisteemdienste soos water en weiding in, en in terme van die landbou - indringerpeste en -plae.
  • Indringerbome gebruik jaarliks 3-5% van Suid-Afrika se afloop-oppervlakwater, 'n ernstige probleem in 'n land wat alreeds waterskaars is en wat toenemend geneig is tot droogte. Daar is bereken dat Dag Zero in Kaapstad met 60 dae vervroeg is, te wyte aan indringerbome wat water opslurp. 'n Soortelyke impak word ook in ander droogtegeteisterde gebiede soos in die Oos-Kaap waargeneem.
  • Indringerbome verhoog die risiko, asook die intensiteit van veldbrande, aangesien sodanige indringerplante 15% meer brandstof bied vir die aanvuur van brande. Gevolglik brand sulke vure by 'n hoër temperatuur en is dit moeiliker om te beheer.
  • Nuwe uitheemse spesies word steeds jaarliks in Suid-Afrika ingebring. 'n Opmerklike voorbeeld hiervan is die stompkopkewer wat alreeds duisende bome in Suid-Afrika laat vrek het. Hierdie kewer en sy gepaardgaande fungus blyk een van die mees skadelike en duurste biologiese indringers te wees waarmee ons land tans gekonfronteer word.

Klik hier om Minister Barbara Creecy se toespraak te lees.

Klik hier  om die verslag te bekom: The Status of Biological Invasions and Their Management in South Africa

Op die foto bo, hoofskrywers dr Tsungai Zengeya en prof John Wilson deel die verhoog met Minister Barbara Creecy en die waarnemende hoof uitvoerende beampte van SANBI, Carmel Mbvizo, en Prof Dave Richardson, direkteur van die Sentrum vir Indringerbiology by die US. Foto: Wiida Basson