Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Entstowwe, voedselsekerheid en impak op skole uitgelig in jongste COVID-studie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/05/2021

Navorsers van die Navorsingsgroep vir Sosio-ekonomiese Beleid (ReSEP) in die departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n aansienlike bydrae tot die vierde golf van die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM) gelewer wat onlangs vrygestel is. Hulle het gehelp om 11 besprekingsdokumente te lewer wat die bevindings van data wat vir hierdie golf van die NIDS-CRAM ingesamel is, vaslê. Die NIDS-CRAM is 'n breë, nasionale verteenwoordigende opname van die uitwerking van die COVID-19-pandemie op Suid-Afrikaners.

As deel van die NIDS-CRAM se golf 4, is data oor vaksines, werkverskaffing, onderwys en skoling, hongerte en vroeë kinderontwikkeling tussen 2 Februarie en 10 Maart vanjaar ingesamel en 5 629 suksesvolle onderhoude gevoer. In 'n samevattende verslag word die sewe hoofbevindings in die volgende vyf afdelings gegroepeer: vaksines, onderwys en skoling, werksverskaffing, vroeë kinderontwikkeling en hongerte. Die bevindings was soos volg:

  • Vaksines: Altesame 71% van Suid-Afrikaanse volwassenes sê hulle sou ingeënt wou word indien 'n COVID-19-entstof beskikbaar was. Diegene wat die grootste risiko loop om COVID-19 op te doen (diegene wat aan chroniese siektes ly en bejaardes), was gewilliger as die algemene bevolking om die vaksine te ontvang. Die jeug (18–25) en diegene wat op sosiale media staatmaak as 'n inligtingsbron, was meer geneig om huiwerig te wees oor inenting.

  • Onderwysverliese: In 2020 het Suid-Afrikaanse laerskoolkinders in nul-gelde-skole 50–75% minder geleer as wat hulle normaalweg leer. Dit het uit assesseringsdata van nul-gelde-laerskole in Mpumalanga (130 skole, EGRS II) en die Oos-Kaap (57 skole, Funda Wande) bestaan wat in 2020 en 2021 as deel van onafhanklike evaluasies van hierdie programme ingesamel is.
  • Vaksines: Altesame 42% van Afrikaanse huistaal-respondente was huiwerig oor die inenting, wat baie hoër as die nasionale gemiddeld (29%) en aansienlik hoër as sewe van die 11 taalgroepe is. Hoewel NIDS-CRAM nie provinsiaal verteenwoordigend is nie, is dit ook aan die hand van die taaluitslae en die oorheersing van Afrikaans in die Wes-Kaap en Noord-Kaap duidelik dat respondente van hierdie provinsies gemiddeld baie huiweriger was oor inenting.
  • Skoolvoeding en roterende roosters: Minder as die helfte van die kinders het in Februarie en Maart 2021 'n gratis ete by die skool gekry, wat daarop dui dat die ontvangs hiervan steeds ver onder die vlakke vóór die pandemie (65%) is, en is moontlik ook laer as November/Desember 2020 se vlakke (49%). Die NIDS-CRAM-golf 3 (November 2020) het getoon dat die meerderheid ouers en versorgers in Suid-Afrika (58%) saamgestem het dat kinders elke dag skool toe moet kan gaan, eerder as die roterende roosters wat nog steeds by die meeste nul-gelde-skole in werking is.
  • Sterftes onder onderwysers: Ontledings van die nasionale betaalstaat van nasionale onderwysers (PERSAL) dui daarop dat onderwysersterftes gedurende COVID-19 nie met die heropening of sluiting van skole verband hou nie, en volg eerder die algemene bevolking se COVID-19-sterfteneigings na.
  • ​Hongersnood onder kinders: Die weeklikse hongersnood onder kinders het van 16% in November/Desember 2020 afgeneem tot 14% in Februarie/Maart 2021, hoewel hierdie koers (12%) nog steeds amper dubbeld soveel is as voor die pandemie (8%).  

  • Voedselonsekerheid: Opnames is reeds vier keer onder NIDS-CRAM-respondente sedert die aanvang van die pandemie gedoen. Twee-derdes van die respondente (67%) het in ten minste een van die opnames aangedui dat hul huishouding nie meer geld gehad het om kos te koop in die twee voorafgaande maande nie. Sowat die helfte (47%) se geld het ten minste twee keer opgeraak. Onder huishoudings met kinders het 'n derde (32%) aangedui dat in ten minste een van die vier golwe van NIDS-CRAM 'n kind in die afgelope week honger gely het. 'n Ontleding van hongersnood in golf 1 (2020) het getoon dat nadat die ras, geslag, opvoeding en ligging gekontroleer is, die sterkste voorspeller van huishoudelike hongersnood die feit was of die huishouding sy hoofbron van inkomste verloor het.

Volgens die mede-hoofondersoeker van NIDS-CRAM en 'n senior navorser by ReSEP, dr Nic Spaull, toon die NIDS-CRAM-resultate dat die uitwerking van die pandemie verreikend is en voortduur. ​Hy sê dat hoewel golf 4 op vaksines fokus, het hulle ook gevoel dit is belangrik om die omvang van leerverliese in Suid-Afrikaanse skole te beklemtoon.

“Dit is die eerste keer dat die resultate van onafhanklike assesserings van laerskool-leerderuitkomste beskikbaar was wat leerverliese gedurende 2020 weerspieël het. Dit dui daarop dat kinders 50–75% minder geleer het in 2020 in vergeleke met 2019. Dit is skrikwekkend. Ons begin ook sien dat leerkurwes begin afplat.

“Wat die meeste mense nie besef nie, is daardie leerverliese steeds toeneem terwyl ons praat. Meer as 70% van Suid-Afrikaanse skole pas nog steeds rotasieroosters toe waarvolgens slegs 50% van die kinders op enige gegewe dag skool toe gaan. Dit beteken die ander helfte kry nie gratis etes by die skool nie en gaan voort om ernstige leerverliese te ly."

Spaull voeg by dat die bewyse oor onderwysersterftes deur die gebruik van betaalstaatdata getoon het dat hoewel daar meer sterftes onder onderwysers in 2020 as in 2019 was, dit die algemene bevolkingsneigings volg en hou dit nie verband met die datums waarop skole geopen of gesluit is nie.

“Dit dui daarop dat skole nie oordragplekke is nie en dat alle skole so gou as moontlik ten volle moet heropen."

Resultate van die NIDS-CRAM-golwe 1, 2 en 3 het regeringsbesluite op 'n hele aantal gebiede beïnvloed, insluitende die beskikbaarstelling van maatskaplike toelaes, die voorsiening van etes by skole vir kinders terwyl die skole gesluit was, asook pogings om aan honger mense voedsel te voorsien.

Navorsers van die Universiteit van Kaapstad (UK), Johannesburg, die Witwatersrand, Pennsilvanië en die departement van Basiese Onderwys, asook die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het tot die NIDS-CRAM-golf 4 bygedra.

NIDS-CRAM ontvang finansiële steun van die Allan & Gill Gray Philanthropy, die FEM-opvoedkundige stigting en die Michael & Susan Dell-stigting, terwyl die Suid-Afrikaanse Arbeids- en Ontwikkelingsnavorsingseenheid by die UK vir die insameling van data en gehaltebeheer verantwoordelik is.