Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Lucky Mokwena
Outeur: Elbie Els / Photographer Stefan Els
Gepubliseer: 12/05/2021

​Om 'n verskil in mense se lewens te maak is wat Lucky Mokwena gemotiveerd hou in sy werk. Hy dien as 'n afdelingsbestuurder in die gaschromatografie-massaspektrometrie- (GCMS-)laboratorium van die Eenheid Massaspektrometrie in die Universiteit Stellenbosch se Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF).  

In die maand van Internasionale Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Mokwena het ons meer oor sy tipiese werksdag vertel.

Wat is jou rol by die US?

Ek ondersteun akademiese navorsing deur monsters vir studente, navorsers en die bedryf te ontleed. Van my belangrikste take is om studente in die toepassings van gaschromatografiese instrumente op te lei, en om die instrumente in stand te hou.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

My tipiese dag by die werk behels monsterontleding vir studente en ander kliënte, en die ontwikkeling van metodes vir monsterontleding om die navorsing van tersiêre instellings landwyd en die bedryf te ondersteun. Ek is meestal ook besig om die instrumente in die laboratorium in stand te hou, verslae vir eksterne kliënte te skryf, en studente met projekte en datavertolking te help.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het my MSc in Chemie in 2009 van Stellenbosch verwerf, en het by verskillende bedryfs- en akademiese instellings ondervinding opgedoen, waaronder die Landbounavorsingsraad, die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad, KWV en Nampak. Dít alles het my vir my huidige pos voorberei. Ek het in 2010 as 'n junior ontleder by SAF begin, maar het deur harde werk en toewyding tot my huidige pos as afdelingsbestuurder gevorder.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om met studente van verskillende departemente by die US én met ander akademiese instellings en die bedryf te werk. Dis vir my lekker om te ervaar hoe studente aan die begin van hulle studie by die laboratorium aanklop en dan wegstap met data om hulle navorsing te gaan voltooi. Niks verskaf my groter plesier as om te weet dat ek die een of ander rol gespeel het om 'n student sy of haar graad suksesvol te help voltooi nie.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

As 'n gelowige en 'n Christen, hou my geloof my aan die gang en gemotiveerd. Dat ek soggens my oë kan oopmaak en nog al my ledemate het, is vir my genoeg motivering. Ek is altyd dankbaar vir genade. Ek word ook daardeur aangespoor dat ek op die een of ander manier 'n verskil in ander mense se lewens kan maak.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet.

Ek is 'n ouderling by die kerk en geniet aanbidding en om preke vir die gemeente aan te bied wanneer daar ook al 'n geleentheid opduik.​