Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Deelname aan eerste aanlyn Maties Opedag oortref alle verwagtinge
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 20/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste aanlyn Opedag het meer as 23 238 voornemende studente, ouers, voogde en ander geïnteresseerde mense gelok om Saterdag (17 April 2021) aan die regstreekse aanlyn geleentheid deel te neem. Die aantal kuberbesoekers is dubbeld soveel as die aantal besoekers wat vorige Opedae in persoon op kampus bygewoon het.

Sondag was meer as 1 500 mense nog steeds op die webwerf aktief besig om inligting oor studiegeleenthede, finansiële bystand, verblyf en die studentelewe in te win.

Michelle Swart, bemarkings- en mediabeampte van die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, sê die aanlyn deelname op die Opedag-webblad het hul verwagtinge oortref. Die virtuele geleentheid het besoekers regoor die wêreld bereik, met besoekers van so ver as die Verenigde State, Namibië, Nederland, Zimbabwe, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Botswana, Nigerië en Frankryk wat aanlyn ingeskakel het.

Swart sê die virtuele geleentheid het in sy doel geslaag om inligting beskikbaar te stel wat leerders en ouers met hul besluitneming kan help.

Die vyf gewildste aanlyn stalletjies van fakulteite was Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (7 170 besoekers); Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (6 189 besoekers), Natuurwetenskappe (5 888 besoekers); Lettere en Sosiale Wetenskappe (5 589 besoekers) en Ingenieurswese (4 452 besoekers).

Die verskuiwing na 'n aanlyn geleentheid is in ooreenstemming met die Universiteit se verbondenheid tot die voldoening aan COVID-19-veiligheidsprotokols. Die Opedag-webblad sal nog tot die einde van Julie 2021 beskikbaar wees sodat mense inligting kan bekom en brosjures en dokumente kan aflaai.

Belangrike inligting oor hoe om vir 'n US-program aansoek te doen, beskikbare opsies vir befondsing, loopbaanadvies en studenteondersteuning (insluitende hulp vir studente met spesiale leerbehoeftes) sal op die webwerf bly. “Indien jy die Opedag misgeloop het, kan jy nog steeds die webblad besoek," voeg Swart by.

​Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking is baie opgewonde oor die styging in die hoeveelheid mense wat toegang tot die Opedag gehad het. Hulle sien saam met die fakulteite uit om die nuweling-studente van 2022 te verwelkom, sê Swart.

Voornemende leerders en ouers wat die Opedag misgeloop het, kan hier klik vir toegang tot die inligting. ​