Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorser bekyk voedingspraktyke onder babas
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 14/04/2021

Dr Moleen Dzikiti (Zunza) van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek het onlangs 'n toekenning ter waarde van meer as R2.6m ontvang vir 'n studie oor voedingspraktyke onder babas van vrouens wat met MIV saamleef.

Die toekenning is van die Europese & Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap (European & Developing Countries Clinical Trials Partnership, EDCTP), wat 'n openbare vennootskap is tussen lande in Europa en Afrika suid van die Sahara, en die Europese Unie.

"Die toekenning van die befondsing is gebaseer op 'n versoek van die EDCTP vir aansoeke ter ondersteuning van vroeë-tot-mid-loopbaan navorsers wat daarop gemik is om hulle geleenthede te bied om hulle kliniese navorsingsvaardighede in armoede-verwante siektes en ook kinder- en adolessente gesondheid te verskerp," het Dzikiti verduidelik.

Die missie van die EDCTP is om die kliniese ontwikkeling van nuwe of verbeterde gesondheidsprodukte te bespoedig, vir die identifisering, behandeling en voorkoming van armoede-verwante siektes, insluitende siektes wat die eerste keer verskyn, of ʼn herverskyning maak.

Die lidlande bestaan uit 14 Europese lande en 16 Afrika-lande, wat Suid-Afrika en Mosambiek insluit.

Zunza, wat grootgeword het in 'n dorpie in Zimbabwe, het oorspronklik opleiding as 'n verpleegkundige ontvang, en in die veld gewerk, voordat sy getrou het en met haar gesin na Suid-Afrika verhuis het. Haar man het 'n nadoktorale pos by die Universiteit Stellenbosch gekry. In 2011, het sy gegradueer met 'n Meestersgraad in Kliniese Epidemiologie, gevolg deur 'n PhD in Pediatrie en 'n BCom-Honnneursgraad in Toegepaste Statistiek.

Die toekenning sal Dzikiti daartoe in staat stel om in haar rol as hoofnavorser 'n groot groep te lei in ʼn sekwensieel ewekansige gekontroleerde studie.

"Die doel van hierdie studie is om die doeltreffendheid te meet van teksboodskappe saam met motiverende onderhoudvoering teenoor die gewone standaard benadering om voortgesette borsvoeding aan te moedig, en ook om te kyk na die bydra van die gekombineerde intervensie tot kindergesondheid en oorlewingsuitkomste onder vroue wat met MIV saamleef, asook dié van hulle babas," het sy verduidelik.

In 2010, is daar veranderinge aangebring aan die globale MIV en kindervoedingsriglyne, en die Suid-Afrikaanse programme wat gemik is op die verhoeding van vertikale oordrag het opgehou om melkformule te verskaf, en het borsvoeding aanvaar as die aanbevole wyse van babavoeding.

"Op 'n praktiese vlak is daar egter tekortkominge in die behaling van optimale kindervoedingpraktyke, wat bydra tot die feit dat die Volhoubare Ontwikkelings gesondheidsdoelwitte vir kinders onder vyf nie behaal word in Suid-Afrika nie," het Dzikiti bygevoeg.

In Suid-Afrika is die getalle van ma's wat net borsvoed laag: slegs 8% van babas onder die ouderdom van ses maande. Daarom is dit noodsaaklik vir die welsyn van babas wie se ma's met MIV saamlewe om modelle daar te stel om babavoeding te ondersteun en sodoende die verlangde kindergesondheidsuitkomste te behaal.

Die groot ewekansige studie sal bou op die sukses van die loodsstudie wat tussen 2019 en 2020 gedoen is. Die loodsstudie het ʼn belowende positiewe effek getoon van teksboodskappe tesame met motiverende onderhoude teenoor die standaard van versorging in verband met die handhawing van die persentasie ma's in Suid Afrika wat saamleef met MIV en wat eksklusief borsvoed (73% teenoor 46%) wanneer die babas ses maande oud is.

"Die voorgestelde studie gee my die geleentheid om as hoofnavorser die navorsingsprojek te lei, en om navorsingsvaardighede en -ervaring op te doen in die ontwerp van gevorderde aanpasbare proef en die analitiese metodes wat relevant is vir kliniese proewe," het Dzikiti gesê.

"Dit sal my ook toerus met 'n kombinasie van bestuurs-, leierskap- en navorsingsvaardighede en ondervinding om 'n suksesvolle onafhanklike navorser te word. Dit sal gedoen word deur te put uit die sterk punte van drie universiteite met 'n goeie geskiedenis van samewerking: die Universiteit Stellenbosch, McMaster Universiteit en Columbia Universiteit."