Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie wys kinders met TB ontvang nie altyd voorgesette behandeling
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 24/03/2021

Baie kinders met tuberkulose (TB) ontvang nie die nodige behandeling nie weens die uitdagings met diagnose en aanmelding. 'n Relatief eenvoudige, hospitaal-gebaseerde intervensie kan help om die gaping in aanmelding te verminder wanneer kinders by hospitale gediagnoseer word en kan 'n voortsetting van TB-sorg verseker wanneer hulle ontslaan word en teruggaan na hul plaaslike primêre gesondheidsorgfasiliteit.

Dit is een van die hoofbevindings van 'n onlangse doktorale studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“In Suid-Afrika val duisende kinders met TB deur die krake omdat hulle nie gediagnoseer word nie, of gediagnoseer word, maar onaangemeld bly. Om behoorlike diagnose en aanmelding te verseker, het TB-programme goeie moniterings- en evaluasie-instrumente asook betroubare en volledige TB-waarnemingsinligting vir kinders nodig," sê dr Karen du Preez van die Desmond Tutu TB-sentrum by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy het onlangs haar doktorsgraad in Pediatrie en Kindergesondheid aan die US verwerf.

Du Preez het die rol van waarnemingsstrategieë vir diagnose en behandeling ondersoek ten einde inligting te bekom vir 'n pediatriese TB-sorgkaskade wat in Suid-Afrika gebruik kan word. 'n Sorgkaskade vir TB gee al die sekwensiële stappe (of pilare) weer wat nodig is om suksesvolle behandeling te verseker.

Du Preez het as deel van haar navorsing die algehele pediatriese TB-aanmeldingsgaping in Suid-Afrika gekwantifiseer. Dit behels die verskil tussen die geskatte nasionale aantal TB-gevalle by kinders wat jaarliks deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aangedui word (pilaar 1 van die sorgkaskade) en die werklike aantal behandelde en aangemelde pediatriese TB-gevalle (pilaar 4). Sy het ook die hospitaal-aanmeldingsgaping gekwantifiseer. Dit is die verskil tussen kinders wat by hospitale gediagnoseer word, maar wat nie by hul primêre gesondheidsorgfasiliteit aangemeld het om met hul behandeling te begin nie. 

“Deur die aantal kinders te kwantifiseer wat elke stap (of pilaar) van die kaskade suksesvol voltooi het, kan dit ons help om spesifieke gapings of gebiede te identifiseer waar kinders deur die krake val. Hierdie inligting gee ons die geleentheid om in te gryp en hulle te ondersteun sodat hulle kan voortgaan om die nodige behandeling te ontvang."

Om pilaar 4 (aangemeld en behandel) beter te verstaan, het Du Preez ook tendense in TB-gevalle by kinders en adolessente vergelyk ten opsigte van ouderdomsgroepe (0–4, 5–9, 10–14, 15–19 jaar) in Suid-Afrika tussen 2004–2016 en volgens HIV-status binne die konteks van veranderinge in die openbare gesondheidsreaksie op HIV.

Kinders word dikwels in hospitale met TB gediagnoseer. Om dus pilaar 3 (gediagnoseer met TB) beter verstaan, het sy die las (totale aantal gevalle) en die spektrum (tipe TB-siekte) van kinders met TB wat by twee hospitale in Kaapstad bestuur word, ondersoek.

Du Preez sê haar navorsing het getoon hoe 'n eenvoudige, hospitaal-gebaseerde intervensie kan help om die hospitaal-aanmeldingsgaping (die verskil tussen pilaar 3 en 4) aan te spreek.

“Ons intervensie om gemeenskapsverwysings te ondersteun, het tot gevolg gehad dat 98% van die kinders suksesvol verwys is en het die hospitaal-aanmeldingsgaping by 'n groot verwysingshospitaal in Kaapstad van 38% na 16% verminder.

“Dit is aansienlik as 'n mens in ag neem dat slegs 65% van die geskatte 27 000 kinders met TB in Suid-Afrika in 2018 by die TB-program aangemeld is. Amper 10 000 kinders het tussen pilare 1 en 4 van die sorgkaskade verlore geraak.

“Om waarnemingsinligting van kinders met TB te verbeter, is dit nodig dat data van hospitale ingesluit word en ons moet ook ons data in kleiner ouderdomsgroepe vir kinders en adolessente aanmeld."

Du Preez sê wat pilaar 4 betref, is 719 400 kinders en adolessente met middel-vatbare TB tussen 2004 en 2016 in Suid-Afrika behandel.

“My navorsing het die aansienlike las van TB op jong kinders (339 112; 47%; 0–4 jaar) beklemtoon en het ook jong kinders (0–4 jaar) en adolessente (10–19 jaar) wat met HIV geïnfekteer is as besonder kwesbare groepe uitgelig wat in TB-beheerpogings in Suid-Afrika aangespreek moet word.

Wat pilaar 3 betref, sê Du Preez 'n aansienlike hoeveelheid jong kinders wat by openbare hospitale met TB gediagnoseer is, het ook HIV en TB-meningitis gehad.

Sy meen haar navorsing beklemtoon die waarde van pasiënt-gesentreerde sorg en goeie kommunikasie om kinders met TB (en hul gesinne) te ondersteun terwyl hulle tussen die verskillende vlakke van die gesondheidstelsel beweeg.

“Die ideaal is dat alle kinders met TB toegang tot gesondheidsdienste het, 'n diagnose ontvang, met TB-behandeling begin en dit suksesvol voltooi en dat hulle sal oorleef sonder enige blywende gevolge. Ons weet egter dat daar by elke stap in die kaskade pasiënte verlore gaan. Deur die verliese in die sorgkaskade te kwantifiseer, kan ons help om beter op die TB-epidemie in kinders en adolessente te reageer."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Karen du Preez

Desmond Tutu TB-sentrum

Departement Pediatrie en Kindergesondheid

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe  

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 938 9173

E-pos: karen_dupreez@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za